Waar jy was

Haal Aan

Waar jy was

Soms wil ek my net verwyl
in die lêplek van my hart se hart
waar jy nog skuil,
ek wil sit, ek wil dáár vertoef,
net ‘n bietjie draal,
waar ander wette die weg van
ons eindlot bepaal.

Ek wil ‘n bietjie huiwer
waar jou lagstem nog, so suiwer
kon resoneer en troef en speel.
Waar, vervaag het in sy geheel
die ritme van die wêreld buite
op die aandrang van ons wilsbesluite.

Maar in dié ontmensde hart se gang
loop net die diepste, diep verlang

 

 

Uit: Naakstudie van ‘n boeremeisie deur Marlene Jordaan

Sommige dae kan jy nie jou asem heeltemal intrek nie.

Haal Aan

Daar kom sommige dae, en dit loop meestal met sekere datums saam, wat die asem so half uit jou longe is, die hele dag. Vandag is so ‘n dag vir my. Ek loop my paaie vandag, wat ek moet.

Ek doen die dinge wat ek moet doen, sommiges outomaties, ander meer teësinnig. Ander wil ek glad nie doen nie, en ek sug hier van duskant my lewer af daaroor, maar dis nie nuut vir my nie.

Die enigste verskil tussen vandag en gister, is dat ek vandag my asem nie behoorlik kan intrek nie. Daar lê ‘n klip hier waar die laaste bietjie suurstof die longe moet volmaak.

Daai klip is vandag se datum. Vandag, presies agt jaar gelede, het ek op ‘n reënerige oggend stoksiel alleen langs my pa se hospitaalbed in Pretoria gestaan en gekyk hoe hy sy laaste asem uitblaas.

Ek het langs sy bed gaan sit, en gekyk hoe die monitor wat sy hartklop meet, laer en laer tel…23…22..20. Dit was net ek en hy daar, want die susters het die gordyne om sy bed toegetrek. Sy hande was dik geswel van drie weke bewusteloos wees, en ek onthou nog presies hoe sy hand in myne gevoel het.

Die suster het die masjien kom afsit, en toe ek protesteer, het sy my saggies op die skouer gedruk en gesê: “”Marlene, hy is klaar dood.”  Want daardie tyd het sy my lankal geken, op die naam, want vir drie weke het ek daar gesit, terwyl die lewe stadig maar seker uit die sesvoetvierduim-man, vir wie ek die heiligste vrees gehad het, gesypel het.

Vir drie weke het ek gesien hoe hy al hoe kleiner word voor my.

Ek het hom baie dinge vergewe in daardie drie weke, en ek hoop hy vir my ook, al het die dokter gesê hy kan my nie hoor nie, sy brein is dood.

Mense wat jou vertel as hulle die asemhaalmasjiene afsit, is dit vinnig oor, jok. Vir Carl van der Merwe het dit die laaste vier dae van sy lewe dae geneem. Hy het steeds vir elke greintjie lug bly veg.

Die man wat ek geken het as so sterk soos ‘n bees, wat eintlik al in die 1990’s moes dood wees, as die dokters se voorspellings waar sou word, het tot op die einde besluit om ons almal verkeerd te bewys.

Veral simpel, dramatiese hospitaal-shows.

Daar het jare  gekom wat hierdie dag by my verby is, wat ek skaars gerou het oor sy dood. Jare wat ek besig was, kwaad was, sterk was.

Maar vanjaar is een van die jare waar my asem maar min is vandag.

Pa Kallie

Op die dag van vandag

val die roof

van my onthou af

blootgestelde neurone

herleef

die laaste uitblaas

van jou aardse asem

toe jy sonder stem

stom gegroet het

die klop-klop

in jou bors stil-stil

die klop aan die

volgende deur

Hoe die reën teen die ruit

jou sondes

weggespoel

en jy jou prys by my betaal het.

Hoe ek biddend, alleen

my mamma

gevra het

en sy jou toe kom haal het.

– Uit Naakstudie van ‘n boeremeisie deur Marlene Jordaan