Jy sal nooit weet voor dit te laat is nie.

Eendag, lank lank gelede, het ek bykans elke dag voor die rekenaar gesit en iets geskryf. Dit was òf deel van my werk, òf ek het by die huis gesit en iets te sê gehad. Iets wat mense wou hoor. In sekere opsigte was dit die lekkerste, maar ook die slegste tyd van my lewe.

In daarde tyd was ek soms verlore vir myself, weg vir my kinders en onbekombaar vir my man, omdat daar groot persoonlike verliese in my lewe plaasgevind het. Daardie verliese het gemaak dat die spasie in my kop iets geword het waar ek elke dag vertoef het, maar dit het ook my tronk geword.

My verlosser en my bewaarder.

Ironies genoeg, was dit juis daardie verliese wat gemaak het dat ‘n paar half-verlepte gedigte en drie beskaafde stories – elke dan en wan – op ‘n bladsy kon realiseer. Die ou geykte storie van die skrywer wat skryf wanneer hy op sy seerste is, en ‘n doodgewone wekrklose word as dit met hom redelik goed gaan.

In daardie tyd het stories oor geldelike verlies, persoonlike teleurstellings, half hoopvolle toekomsdrome en verbeeldingryke verliefdvlugte gegaan. Niks spesiaals nie, net gewoon.

Die meeste van dit was waar, en die res was in my kop (die toekomsdrome en die verliefdgeit).

Vandag sit ek en wonder of dit moontlik is om twee lewens te lei.

Een waarin jy gekonnekteer met jou roeping deur die lewe gaan, waar jy uitreik na die “universe” en funksioneer vanaf jou ware self. Waar woorde soos water vloei en jy kan drink uit die fontein van jou oorsprong.

Van daardie plek warvaan jy af kom: Waar jou binnekantse self sy ontstaan gehad het.

En dan ‘n parallelle lewe, waar jy gewoonweg net Sondagoggend voor die visblikrak in Checkers staan en wonder of jy twee woorde agtermekaar kan string, omdat jy vir die afgelope jaar vanaf jou buitekantse self funksioneer. Daardie plek waar jy net oorleef en bestaan.

Daardie plek waar jy voor die afgrond staan en dit nie eens sien nie, omdat jy blind geword het daarvoor. Waar jy gaan afval as jy vorentoe tree.

Wie weet? Dalk is die beste deel van jou lewe al verby, maar jy sal nie weet voor dit te laat is nie, né.

Ek kan gaan waar ek wil.

Grond. Onlosmaaklik deel van die Afrikaner-identiteit, die boere-identiteit. Ons redding en ons ondergang. Dit wat sommige van ons uniek maak aan hierdie land waarin ons woon.

Moet ek vir die res van my lewe treur daaroor dat my pa se swak huwelikskeuse gelei het daartoe dat ons familieplaas, waarvan ek die agstesgeslag-bloedlyn erfgenaam was, nou iemand anders s’n is?

Of moet ek juig omdat sy keuse van ‘n koue en gewetenlose derde vrou, en spesifiek haar aksies na sy heengaan,  my gered het van ‘n lewe van “bloedgrond beskerm ten alle koste”?

Vir ‘n baie lang tyd nadat ek met ‘n interlinklorrie, volgeprop, van die plaas af weg is, het ek gedink dis eersgenoemde. Ek het jare getreur en gehuil oor my seuns se verlies aan ons familieplaas. Sommige dae het ek in my kar geklim en skelm deur die grensdraad gaan klim en langs die dam gaan sit waar ek as kind krappe gevang het.

Want van kleins af is ek grenspale toe geneem en gewys waar die grond strek. Presies waar die grenslyn loop, veral in lig gesien daarvan dat die buurman en my pa nie langs dieselfde vuur gesit het nie. ‘n Vete wat ‘n geslag of wat geduur het.

My lewe lank is ek ingelig dat dit die enigste ding is wat saakmaak in ons familie. Maar as ek nou terugdink, onthou ek ook hoe my pa – toe ek klein was -aande om gesit en somme maak het, en daar tye was wat voornemende kopers na die plaas kom kyk het, net om weggestuur te word. Dit omdat die wakende portret-oë en verspilde Anglo-Boereoorlog-bloed van voorgeslagte as stille skuldeiser bly hang het.

Ek onthou die twee jaar na my pa se dood waarin ek verbete bly veg het om die plaas te behou, as die moeilikste van my lewe. Ek het nog getreur oor die dood van albei my ouers, en was nie emosioneel voorbreid of slinks genoeg om die aanslae van ‘n bedrewe boedelvegter af te weer nie.

Vandag weet ek van etlike erfgename (onverwant aan my) – net in ons distrik – wat in kasarms van familiehuise op amper bankrotplase sit, tussen hoeveelstegeslag boere-‘heirlooms’, wat hulself en die bietjie wat daar oor is, in die stryd werp om ‘n familieplaas te red.

Vandag kan ek, armgat wat ek is, my goedjies en my kinders oppak en gaan bly waar ek wil, wanneer ek wil, waar dit vir ons die beste is.

Ja, ek treur nog elke keer as ek by Kransspruit se afdraai verby ry, daar waar die bloekombos langs die pad staan. Ek verlang nog steeds na die klipplaat onder die damwal en die gekleurde loodglasvenster in die hoofslaapkamer se stoepdeur.

Maar ook loop daar, te danke aan die Johannesburgse vreemde-stedeling wat nou die eienaar is, vir die eerste keer wild en is daar ordentlike drade om die kampe gespan.

Kransspuit verdien dit. En ek ook.

 

 

 

 

Onverteerbare verlies, as jy van binne af buite toe begin werk.

Terwyl ‘n kollega sy jaarlikse maandlange Sabbatsreis deur elke antiekwinkel in die Wes-Kaap neem, en ek vir die volgende maand so bietjie harder gaan moet werk om sy gaatjie vol te maak, dink ek aan die afgelope jaar wat verby is.

‘n Jaar gelede, het ek weer myself na ‘n breek van bykans sewe jaar terug in die koerantwêreld begewe. Dit eintlik soos baaisiekel ry, het ek agtergekom.

Skaars ‘n week nadat ek begin werk het, het ‘n geweldige tragedie ‘n gesin op ‘n dorpie naby my getref.

‘n Ma het albei haar klein seuntjies in ‘n ongeluk verloor, en ek moes daaroor berig.

Met groot trepidasie het ek die telefoon opgetel, ‘n paar oproepe gemaak en uiteindelik by haar uitgekom via ‘n susterskind. Heel onverwags. (Ek het eintlik die niggie gebel om die mamma se nommer te kry, toe sy vir my sê: “Hou aan, sy staan hier langs my.”)

En skielik moes ek met iemand praat wie se lewe die vorige aand onherroeplik verander het. Nooit weer sou dié vrou die voorreg hê om haar twee seuns teen haar vas te druk, soos wat ek pas daardie oggend gedoen het voordat ek werk toe is nie.

Ek onthou hoe sy gehuil het aan die ander kant, soms só dat ek glad nie kon hoor wat sy sê nie, hoe ek te sleg gevoel het om elke keer “ekskuus?” te sê.

Ek moes begrafnis toe, om dit af te neem. Ek het eenkant op die galery gesit, weg van die mense, dalk omdat ek nog nie seker was of ek myself heeltemal wil terug begewe in dié hartseer en rou wat so dikwels met hierdie werk gepaard gaan nie.

Kort daarna het ek en die vrou facebook-vriende geword. In lyn met haar oop geaardheid het sy selfs al vir my ‘n foto gestuur wat iemand van MY op die begrafnis geneem het,

Ek volg haar rouproses nog elke keer wanneer sy skryf oor hoe sy sommige dae nie kan aangaan met haar lewe nie, sonder haar seuns.

Soms inbox ons mekaar, oor ander dinge.

Oor ‘n week of wat is dit ‘n jaar sedert haar seuns weg is. Ek gaan daar wees wanneer hulle ballonne gaan loslaat op die plek waar die ongeluk gebeur het. Ek sal iets daaroor skryf, vir die koerant.

Maar wanneer ek volgende jaar my eie twee seuns se nuwe skoolklere aantrek en hulle vir die eerste keer deur die skoolhekke stap, wéét ek gaan ek aan haar dink.