Om te trek is soos om met afgeskeerde hare voor Hubble te gaan staan.

Een keer, lank gelede, het ek my hare afgeskeer. Die aanvanklike euforie wat daarmee gepaard gegaan het, het ‘n paar dae gehou. Dit was tot een oggend wat ek ‘n innerlike bad hair day beleef het. Skielik het ek nie ‘n lang bos krulhare gehad waaragter ek my gemoedsbekakking kon wegsteek nie.

Ek het die oggend dorp toe gegaan en skielik het my vette baie prominent gevoel en my plooie ekstra diep.

My self-oorbekende gesig en lyf het soos ‘n uitgewaste kombuisvadoek gevoel onder die nommer 2-seunsnit op my kop. Uitgelewer aan almal en nog wat. Maar deurdruk moes ek deurdruk, en ek het maar so geloop, want wat anders moes ek nou juis doen?

Enige vrou sal jou vertel dat daar nogals ‘n voordeel is aan hare, en aan baie daarvan. ‘n Groot haredos help jou wegsteek aan al die ander goed wat jou pla.

Om na ‘n vreemde dorp te verhuis, is soos die megagreep van hare afskeer. Dis soos om met jou afgeskeerde kaalkop aan die kykkant van die Hubble-teleskoop in te beweeg. Weg is die wegkruip agter die bekende, die poniestert maak van paaie ry sonder om twee keer daaroor te dink en handoplig en groet vir almal en nog wat.

Skielik is jy uitgelewer, in al jou naaktheid, aan dit wat jy net is sonder die pantser van dit wat ander van jou WEET.

Jy is skielik net die wat jy op die oog af is: ‘n middeljarige, valerige vrou met twee kinders en skottelgoed in die wasbak. Jy kan nie meer wegkruip ager die langhaar-kapsel van waar jy gewerk het, skoolgegaan het, wie jy ken en wie jy vir ander is nie.

Jy is skielik net die somtotaal van die biologiese massa bo-op jou voete. (In my geval ‘n bietjie te veel, weens te min draf). Niks meer nie en niks minder nie.

Op die lange duur kan dit nie sleg wees nie, want dit gee jou dalk die kans om jouself weer te herontdek, te herontwerp, as’t ware. Maar dat dit moed vat om jouself in al daardie naaktheid te aanskou, is nie altemit nie.

Jy doen nie net afstand dit wat jy al reggekry het nie, maar jy moet ook erken dit wat jy nooit kon vermag nie.

Gelukkig groei hare weer terug. Die onbekende word weer die bekende, hopelik later die beminde. Soos die wysgeer een keer gesê het: “Ons sal maar moet sien.”*

 

*Ek lieg, die wysgeer bestaan nie. Dit was my ma.