Die avonture van ‘n plaaskind: Mongolese hordes en perdestalle

Ons het ‘n sandsteen-stal gehad toe ek ‘n kind was. Nie dat dit eintlik toe meer ‘n stal was nie.

Nadat die groot perdegriep al my oupagrootjie se perde uitgewis het (sien ek in my geestesoog die ry dooie perde met skuim om die bek en uitpeuloë op sinkplate lê), het die stal ontaard in ‘n algemene hooibaal-stoorplek en hoogs geheime bendehoofkwartier vir me, myself and I se bende, Die New Kransspruit (ons plaas se naam) Avengers (Die NKA). Ek was Purdy én die res.

Die stal het twee verdiepings gehad. Onder was die vloer geplavei met ronde stene. Seepglad afgeslyt deur generasies se hoewe en voete. Die hoefysters van perde uit twee oorloë  teen die Britte het oor daardie stene gekloppitieklop. Tot die griep Kransspruit se perde vir ewig stil gemaak het.

Dis nou behalwe vir Bonita die volbloedresiesperd wat my pa op ‘n bankrotveiling gekoop het vir die werkers om die plaas se skape aan te jaag. Nodeloos om te sê ons het die vinnigste skape in die distrik gehad.

Teen die stal se binnemuur was ysterstawe waar die perde vasgemaak was. Sandsteenvoerbakke was al langs die vloer uitgekap, waar die vloer en die muur bymekaarkom. ‘n Lendelam houtleer het opgegaan na die tweede verdieping, wat eintlik nie veel meer as ‘n solder was nie.

Hier, op die solder,  het wakiste met ou gereedskap gestaan. My oupagrootjie was ‘n skrynwerker wat geboer het. Antieke hamers, beitels en skawe het ‘n groot deel van Die NKA se wapenarsenaal uitgemaak.

Aan die voorkant van die soldermuur was ‘n langwerpige vensteropening, waar die hooibale van die wa af met ‘n outydse pully opgehys is.

Dit was aan dié pully, halfpad tussen die vensteropening en die grond, wat ek my eerste broekpiepiebang ervaar het.

Ek was seker so nege jaar oud toe ek, in ‘n verbete poging om altesaam 1000 lede van die Mongolese Hordes wat ‘n aanslag op Die BKA geloods het te ontkom, die muur aan die buitekant uitgeklim het.

Die venster se opening was ongeveer vier na vyf meter bo die grond. Flippen ver as jy nege is, maar naby as die Mongolese op jou case is.

Die eerste meter het dit goed gegaan. Die sandsteen het saamgewerk en die growwe tou het goeie vatplek gegee. Na twee meter het die tou my hande tot twee kole vuur geskaaf en die kinderskouertjies wou nie meer aan die tou hang nie. Die Mongolese Horde het verdaag vir pouse en toebroodjies en skielik was dit net ek, die tou, die venster doer bo en my boerboel wat my aankyk. Ek het vasgebyt en nog een meter boontoe gevorder, maar die venster was nog baie ver uit my bereik.

En dit het ook beteken ek het nog een meter verder om te val.

My pa was op die lande en my ma was 200m weg, in die huis. Die wind het om die hoeke van die sandsteenstal geloei en die hond het klaar gekyk en hom gesit en lek. My negejarige armpies het gebewe. Ek het geweet ek gaan my doodval. My ma en my pa gaan my geknakte liggaam aan die onderkant van die stal se vensteropening ontdek.

Hulle gaan treur oor my en dan ‘n nuwe kind kry, ‘n seun, wat die boerdery gaan oorneem en vir die Springbokke gaan speel. Iewers het ek krag gekry en die laaste meter opgeklim. Ek het lank in die vensteropening gelê.

Toe het ek my gepiepiede panty in die hooibaal weggesteek, waarna ‘n bees dit seker maar opgevreet en uitgedinges het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements

Die onvermydelike seisoen

Wanneer die eerste sneeu op die Lesotho-berge val en die koue oor die Vrystaatvlaktes aangesweef kom, wikkel ‘n aartsverlange in my los.

Tussen dringende gesoek na skoolskoene, lang kouse en truie deur, lê die verlies van dié wat nie meer daar is nie, skielik swaar en meedoënloos in my hart.

Elke jaar, wanneer die herfsblare begin val, wissel my  menswees ook.

Ek word in dié tyd weer kind. Dan wens ek vir ‘n plekkie waar ek versorg kan word, waar ek geborge kan voel. Waar die kombers ook agter my rug ingedruk word en ek ‘n koppie sop kan kry.

Namate die eerste ryp op die gras val, en die snerpende koue sy kloue in elke lewende wese inslaan, word daardie gevoel gelukkig ‘n bietjie beter. Want geen mens se hart sal dit hou om permanent met daardie verlange te loop nie. Jou hart sal dit nie maak nie.

Later, soos die koue alledaags word, sien jy weer kans om die grootmens te wees, die primêre versorger in jou huis. Jy is nie meer net die kind wat as een poseer nie. Jy gaan aan.

En soos die winter einde se kant toe staan en jy kans sien om die lae klere te begin afgooi, kry jy weer hoop. Hoop op dit wat beter is, dit wat vernuwend is en vrede bring.

Maar dis egter altyd met die wete dat jy ook ‘n herfsblaar aan die voete van jou kinders se lewensboom gaan wees.

Vir hulle is jou dood ook ‘n onvermydelike seisoen.

 

 

 

 

Stort gou ineen, en maak dan hotdogs.

Gisteraand kyk ek op Oprah hoe sy ‘n onderhoud voer met Iyanla Vanzant wie in die laat 1990’s gereeld op die Oprah Show verskyn het as motiveringspreker en verhoudingsadviseur.

Die lank en die kort daarvan is dat sy wat Iyanla is, destyds grootkop gekry het, Oprah se hand wou forseer om haar eie program te kry (sy ontken dit vandag, maar dit was duidelik wat gebeur het), en dat die Oprah-netwerk haar soos ‘n warm patat gelos het.

Sy is vandag haar fortuin van miljoene kwyt, het haar huis verloor en is basies vervreem van haar oorlewende kinders. Sy lewe deur scented seep te maak en te verkoop en lewe van ‘prayer to prayer’, soos sy dit stel.

In haar nuutste boek Peace from Broken Pieces vertel sy van haar reis vanaf ‘n multimiljoenêr, deur die dood van haar kind, die verlies van haar inkomste en fortuin, en hoe sy sin gemaak het daaruit.

‘n Mens kan glad nie apaties staan teenoor die vrou nie, soos ook blyk uit die uiteenlopende resensies van en reaksie op haar boek en verskyning op Oprah. Sy is ‘n groot karakter, met sterk opinies (ook van haarself) en die bietjie nederigheid wat af en toe (en half met voorbedagte rade) te voorskyn kom, blyk nie altyd so opreg te wees nie.

Maar haar sin vir humor is aansteeklik, en ek dink dit gaan haar weer op haar voete help. Haar vertelling van haar ineenstorting voor die broccoli-rak in die groente-afdeling van ‘n upmarket supermark, is skreeusnaaks.

Een ding wat sy vertel het, het egter by my vasgesteek.

Dit is hoe sy, juis die dag van die groot broccoli-ineenstorting, op daardie oomblik alle seerkry, verkeerde en dom besluite, verlies en pyn, ervaar het asof dit op daardie oomblik in haar siel kom sit het.

Toe dink ek: Hoe dit  moontlik is dat ‘n mens sommer so, halfdrie op ‘n Dinsdagmiddag, skuins voor die yskas, geklap kan word deur alles wat die afgelope paar jaar verkeerd gegaan het. Hoe al die besluite wat jy geneem het, sommer so skielik en swaar soos ‘n sak mielies op jou skouers kan kom lê.

Hoe jy dan net by die kombuistafel gaan sit, jou gesig in jou hande, en huil oor alles. Jy gaan haal dit mos hier by jou hond wat kleintyd deur die buurman op die plaas vergiftig is, die geld wat jy spandeer het op stront wat jy nie nodig gehad het nie, maar wens jy’t nou gehad, die kere wat jy nee gesê het toe jy ja moes sê en en andersom.

Dan gaan los jy dit by mense waarna jy verlang wat jy nie ken nie.

Die kere wat jy iemand se liefde vinniger moes beantwoord het.

Wat jy nie so ‘n totale drol oor dinge moes gewees het nie.

Wat jy net meer mens moes gewees het. Minder trots.

Dan staan jy maar weer op van die tafel af, en maak hotdogs vir aandete.