Drie kinders brand dood in shack. Sommige kinders vries ook dood.

Hier by ons het daar oor die naweek drie kinders in ‘n shack doodgebrand.

Hulle ma het – na bewering – gaan drink en die shack se deur van buite toegesluit. ‘n Kers het vermoedelik omgeval, en die drie kindertjies, angsbevange, kon nie uitkom nie. As dit waar is, wat volgens die redelik betroubare huiswerkernetwerk in my woonbuurt (waar die kinders se ma gewerk het) het haar verslawing moontlik na die dood van haar kinders gelei. Mxm en eish, sê die netwerk, kopskuddend.

Maar dit moet natuurlik eers in ‘n hof bewys word.

Details rondom die storie loop diep in my woonbuurt se strate, waar die huiswerkers elke oggend om 07:00, wanneer die taxi hulle afgelaai het, ‘n vuur by die ou bushalte maak en opvang oor hul lewens, kinders, en sonder twyfel, hul werkgewers se geite. Die ma het glo ook deel van daardie taxi-groepie uitgmaak, soos ek verstaan. En voorheen was die kinders al van haar weggeneem, as die riemtelegram geglo kan word, waar dit vanoggend met ‘n tongklik in my kombuis geëindig het.

Nou gaan sy aangekla word, waarskynlik tronk toe, waar sy vir baie baie jare tyd gaan hê om oor die dood van haar kinders en die verslawing wat tien teen een daartoe gelei het, na te dink. Ek is baie baie bly ek is nie sy nie. Deur genade, né.

Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie, en dit gaan ook nie die laaste keer wees nie.

Ek onthou ‘n paar jaar gelede, toe ek nog by Volksblad gewerk het, het ek ‘n storie moes loop doen oor twee sussies wat in ‘n huis op ‘n plaas doodgebrand het nadat ‘n kers omgeval het. Hulle was, so ver ek kan onthou, hul ma se enigste kinders.

Die boer en werkers het vergeefs probeer om hulle te red, maar dit was te laat toe hy met sy vuurvegter by die werkershuis aangekom het. Hulle was nie toegesluit nie, die vuur het net te vinnig versprei.

Ek moes langs die teerpad stop, deur ‘n draad klim en veldlangs stap tot by die uitgebrande werkershuis. Dit het my aan my eie lewe laat terugdink op die plaas. Veldlangs, op voetpaaie, werkershuise toe om te gaan speel op Saterdagmiddae. Maar ek het sonsak elke dag weer teruggekeer huis toe.

Voor ek weg is, het ek saam met die pastoor, die ander plaaswerkers, die boervrou en die wyk se dorpsraadslede wat kom help het, hande gevat en in ‘n kring gestaan terwyl hy bid. My oë was oop. Die ma s’n ook en ons het kortstondig vir mekaar gekyk.

Daardie dag, toe ek terug ry kantoor toe op die slaggatpad, die Vrystaat-son laag op die horison en halfgestroopte mielielandgeraamtes as enigste getuie van die onmeetbare tragedie, het ek geweet sommige stories moet diep gebêre word nadat hulle geskryf is.

Dit maak jou moeg, en dit maak jou oud. Dit maak jou weet dat kinders doodgaan, dat JOU kinders kan doodgaan, dat jy in die nag wakker lê en dink, en weet as jy môre opstaan, gaan jy die laai op dié storie moet toesluit en die sleutel weggooi.

Maar daar is duisende onvertelde stories. Dit is die stories van kinders in gewone huise, nie shacks nie – gewone woonbuurte, wat ook dag na dag wag vir ouers. Ouers wat soos zombies voor rekenaars sit, voor die televisie, in die kantoor vir 16 uur dae, permanent oorsee is. Wat verslaaf is aan sukses, elektronika, hul eie lewens.

Ouers wat iPads in klein handjies stop, permanent nannies het, selfs oor naweke, en “nie nou tyd het nie.”

“Nie nou nie, ek is besig.”

Daardie kinders brand nie dood nie, hulle vries dood.

Volksblad-rubriek: Die fyn kuns van toasted-broodjies

’n Entjie straataf van Volksblad op Kroonstad is Tannie Akropolis se kafee. Sy heet so, omdat haar kafee se naam so dikteer. Onlangs, toe die winterknyp die kantoor-eetkliere stimuleer, bied ek aan om soontoe te stap en “toasteds” te kry.

Sy is seker reeds so bietjie meer as ’n dekade in die klein perseeltjie langs die drinkplek, oorkant die apteek. So verneem ek van my eggenoot, wat homself as ’n roosterbroodjie-afficionado beskou. Dis nou weens die duisende kilometers wat hy elke maand landwyd aflê en sy gereelde besoeke aan dié soort eetplek.

Toe ek so omstreeks tienuur die oggend by haar kafee instap, sit ’n man en koerantlees by een van haar twee tafeltjies. Op die tafeltjies is plastiektafeldoeke.

Hy eet pap-en-stew, bedien in ’n bruin, geriffelde glasbord, met ’n regte mes en vurk.

Die sonnetjie lê ’n diagonale streep oor sy rug.

Ek bestel die proviand. Sorgvuldig haal sy haar brode uit die sakkie. In die kombuis staan die broodsnyer met die slingerhandvatsel. Daarmee sny sy elke dag tien of meer brode, elke snytjie presies dieselfde dikte.

Haar kaas en tamatieskyfies is netjies verpak in donkerblou Tupperbakke. Op elke broodjie kom een-en- ’n-halwe skyfie kaas, om die platkant heeltemal toe te maak.

Eers skraap sy die flat-toaster skoon. Pak elke broodjie sorgvuldig daarop. Mooi en presies. Rangskik die kaas bo-op, braai eers die tamatie effens. Sy hanteer die eierspaan behendig, soos sy dit al vir jare daagliks doen.

Die teller is af, nie eens meer by die muur ingeprop nie. Dit kom uit ’n ander era, afgetree vir nou. Moeg. Langs die teller lê ’n lyntjieboek, met vertikale lyne per hand afgetrek. Syfers, wat net vir die skrywer daarvan sin maak, is kolomsgewys ingevul.

Terwyl ek wag (want dis die moeite werd), maak die pap-en-stew-man klaar. Hy los sy bord op die tafel. Sy stap flink en dek die tafel af, vee dit skoon.

Buite roep ’n motorwag vir iemand in die straat: “Kom weg hier, vandag klap ek jou!”

Die broodjies sis op die rooster. Sy haal dit af en vou dit sorgvuldig in wit papier toe. Met ’n dubbelvoutjie aan die oop kant om dit af te rond, soos vir ’n piekniek.

Al die broodjies is presies ewe groot en rus behaaglik swaar op die handpalm.

Nadat ek my broodjie geëet het, het ek my Facebook en Twitter vir die res van die dag afgeskakel.

 

Soos verskyn in Volksblad van 3 Julie 2013.