Onverteerbare verlies, as jy van binne af buite toe begin werk.

Terwyl ‘n kollega sy jaarlikse maandlange Sabbatsreis deur elke antiekwinkel in die Wes-Kaap neem, en ek vir die volgende maand so bietjie harder gaan moet werk om sy gaatjie vol te maak, dink ek aan die afgelope jaar wat verby is.

‘n Jaar gelede, het ek weer myself na ‘n breek van bykans sewe jaar terug in die koerantwêreld begewe. Dit eintlik soos baaisiekel ry, het ek agtergekom.

Skaars ‘n week nadat ek begin werk het, het ‘n geweldige tragedie ‘n gesin op ‘n dorpie naby my getref.

‘n Ma het albei haar klein seuntjies in ‘n ongeluk verloor, en ek moes daaroor berig.

Met groot trepidasie het ek die telefoon opgetel, ‘n paar oproepe gemaak en uiteindelik by haar uitgekom via ‘n susterskind. Heel onverwags. (Ek het eintlik die niggie gebel om die mamma se nommer te kry, toe sy vir my sê: “Hou aan, sy staan hier langs my.”)

En skielik moes ek met iemand praat wie se lewe die vorige aand onherroeplik verander het. Nooit weer sou dié vrou die voorreg hê om haar twee seuns teen haar vas te druk, soos wat ek pas daardie oggend gedoen het voordat ek werk toe is nie.

Ek onthou hoe sy gehuil het aan die ander kant, soms só dat ek glad nie kon hoor wat sy sê nie, hoe ek te sleg gevoel het om elke keer “ekskuus?” te sê.

Ek moes begrafnis toe, om dit af te neem. Ek het eenkant op die galery gesit, weg van die mense, dalk omdat ek nog nie seker was of ek myself heeltemal wil terug begewe in dié hartseer en rou wat so dikwels met hierdie werk gepaard gaan nie.

Kort daarna het ek en die vrou facebook-vriende geword. In lyn met haar oop geaardheid het sy selfs al vir my ‘n foto gestuur wat iemand van MY op die begrafnis geneem het,

Ek volg haar rouproses nog elke keer wanneer sy skryf oor hoe sy sommige dae nie kan aangaan met haar lewe nie, sonder haar seuns.

Soms inbox ons mekaar, oor ander dinge.

Oor ‘n week of wat is dit ‘n jaar sedert haar seuns weg is. Ek gaan daar wees wanneer hulle ballonne gaan loslaat op die plek waar die ongeluk gebeur het. Ek sal iets daaroor skryf, vir die koerant.

Maar wanneer ek volgende jaar my eie twee seuns se nuwe skoolklere aantrek en hulle vir die eerste keer deur die skoolhekke stap, wéét ek gaan ek aan haar dink.

 

 

 

 

 

Advertisements

Met so ‘n bril, lyk die toekoms inderdaad rooskleurig. Hoe dan nou anders?

Wie sê ‘n mens geniet nie jou werk as jy soms met sulke karakters te doen kry nie? Hy was skreeusnaaks.

"I see a bright future!"

“I see a bright future,” het die man my meegedeel, nadat hy ingesluit is by ‘n werkskeppingsprojek waaroor ek die week geskryf het. Inderdaad.