Ek kan gaan waar ek wil.

Grond. Onlosmaaklik deel van die Afrikaner-identiteit, die boere-identiteit. Ons redding en ons ondergang. Dit wat sommige van ons uniek maak aan hierdie land waarin ons woon.

Moet ek vir die res van my lewe treur daaroor dat my pa se swak huwelikskeuse gelei het daartoe dat ons familieplaas, waarvan ek die agstesgeslag-bloedlyn erfgenaam was, nou iemand anders s’n is?

Of moet ek juig omdat sy keuse van ‘n koue en gewetenlose derde vrou, en spesifiek haar aksies na sy heengaan,  my gered het van ‘n lewe van “bloedgrond beskerm ten alle koste”?

Vir ‘n baie lang tyd nadat ek met ‘n interlinklorrie, volgeprop, van die plaas af weg is, het ek gedink dis eersgenoemde. Ek het jare getreur en gehuil oor my seuns se verlies aan ons familieplaas. Sommige dae het ek in my kar geklim en skelm deur die grensdraad gaan klim en langs die dam gaan sit waar ek as kind krappe gevang het.

Want van kleins af is ek grenspale toe geneem en gewys waar die grond strek. Presies waar die grenslyn loop, veral in lig gesien daarvan dat die buurman en my pa nie langs dieselfde vuur gesit het nie. ‘n Vete wat ‘n geslag of wat geduur het.

My lewe lank is ek ingelig dat dit die enigste ding is wat saakmaak in ons familie. Maar as ek nou terugdink, onthou ek ook hoe my pa – toe ek klein was -aande om gesit en somme maak het, en daar tye was wat voornemende kopers na die plaas kom kyk het, net om weggestuur te word. Dit omdat die wakende portret-oë en verspilde Anglo-Boereoorlog-bloed van voorgeslagte as stille skuldeiser bly hang het.

Ek onthou die twee jaar na my pa se dood waarin ek verbete bly veg het om die plaas te behou, as die moeilikste van my lewe. Ek het nog getreur oor die dood van albei my ouers, en was nie emosioneel voorbreid of slinks genoeg om die aanslae van ‘n bedrewe boedelvegter af te weer nie.

Vandag weet ek van etlike erfgename (onverwant aan my) – net in ons distrik – wat in kasarms van familiehuise op amper bankrotplase sit, tussen hoeveelstegeslag boere-‘heirlooms’, wat hulself en die bietjie wat daar oor is, in die stryd werp om ‘n familieplaas te red.

Vandag kan ek, armgat wat ek is, my goedjies en my kinders oppak en gaan bly waar ek wil, wanneer ek wil, waar dit vir ons die beste is.

Ja, ek treur nog elke keer as ek by Kransspruit se afdraai verby ry, daar waar die bloekombos langs die pad staan. Ek verlang nog steeds na die klipplaat onder die damwal en die gekleurde loodglasvenster in die hoofslaapkamer se stoepdeur.

Maar ook loop daar, te danke aan die Johannesburgse vreemde-stedeling wat nou die eienaar is, vir die eerste keer wild en is daar ordentlike drade om die kampe gespan.

Kransspuit verdien dit. En ek ook.

 

 

 

 

Advertisements