Een ou se alikreukel is ‘n ander ou se mieliepap

Ek lees nou op Niël Stemmet se blog sy resep vir alikreukel. Die eerste en enigste keer wat ek alikreukel geëet het was op Franskraal, in die Desembervakansie voor die Groot Y2K-rekenaarverdonkering, wat toe nooit plaasgevind het nie.

Dit was inderdaad een van die vreemdste vakansies van my lewe, die een voor Y2K se nuwejaarsaand. Daardie Desember het vir my ‘n skeiding tussen ‘n ou en nuwe lewe gebring.

Voor daardie Desember (en in hom) het my lewe meestal bestaan uit baie dom keuses maak, en die gemors opvee na die tyd. Ek was ‘n jong, naiewe vrou wat soms agteroorgebuig het, haar beginsels prysgegee het om liefde te wen.

It.Did. Not. Work.

Die meeste van daardie tyd se stories hoort op ‘n biegblad, so ek gaan eerder hier skryf oor my vreemde ervaring met die alikreukel-mense, daardie Desember-vakansie.

Ons het by mense aangekom (vriende van vriende) se huis op Franskraal. Ek was net saam, dit was ‘n vakansie waar ek meestal nie in beheer was van my eie lot nie. Of nog nie besef het ek kan beheer neem van my eie lot nie.

Pas aangekom by die vreemde mense, het die dogter van die huismense (sy was omtrent my ouderdom) my aanhou aanstaar asof ek van ‘n ander planeet kom.  Later het sy opgespring en haar ma luidkeels geroep: “Ma! Ma! Kom hier!” Dit het dringend geklink.

Haar ma het die sitkamer ingekom, na my gekyk en dadelik vir my gevra of ek van Kroonstad af kom en of ek familie van die Serfonteins was. Dit was die eerste keer in my lewe wat ek die mense ontmoet het.

“Ja,” het ek geantwoord. “Ek is familie van die Serfonteins.” Inderdaad, my grootoumagrootjie was ‘n nooi Serfontein, ons (nou heengegane) familieplaas was van haar pa af. Die dam langs die plaas is na hom vernoem.

Ook het ek en die ma (wat toe nou ook Serfontein-bloed in haar het) op ‘n druppel na mekaar gelyk. Dié dat die dogter my so aangestaar het. Seker gereken ek is weggegee by geboorte.

Interessant genoeg, die einste dogter werk as verslaggewer, so skryfbloed loop.

Nadat daar toe familie uitgelê is, het die ma aangedring ek moet saam gaan alikreukel uithaal. Dit was vir my, ‘n gebore en getoë Vrystater, een van die vreemdste ervarings wat ek tot hede gehad het. Dis seker net so goed jy vra ‘n Kapenaar om mielies te pluk.

Die branders, die snorkels, die rotse, die soutwater in die neus op. Het net nie vir my gewerk nie.

Ek onthou hoe spulletjie, gaar, my ook laat gril het. Hoe ek die reuk nie kon hanteer nie, en hoe my maag draaie gemaak het toe ek dit in my mond sit en sluk. Ek skat ‘n mens moet daarmee grootword om dit werklik te geniet. Ek reken dit het min of meer dieselfde uitwerking op my gehad as wat mieliepap op Kapenaars het.

Die les wat ek daardie vakansie geleer het: Ware liefde is onselfsugtig. ‘n Mens kan jou eie lot bepaal, en dis beter om dit te doen. ‘n Mens het oral familie, veral daar waar jy dit nie verwag nie.

En belangrikste van alles: Een ou se alikreukel is ‘n ander ou se mieliepap.

 

 

Weekly Photo Challenge: Split-Second Story: VICTORY

The challenge for this week: Tell a story by split second photo.

 

For these boys, hockey is their life. They eat, breathe and sleep hockey. Often one would find them practicing on their own, motivated by circumstance to better themselves, their lives and their futures.

 

PLACE: South Africa.

 

A  hard earned victory over their greatest of opponents. 

A hard earned victory over their greatest of opponents.

http://dailypost.wordpress.com/dp_photo_challenge/split-second-story/

 

Kyk tog net vir daai lidmaatskapkaartjie voor jy die hotwings verkoop

Die VOLK se haat en kwaad verstom my.

Ek weet nie eintlik hoekom nie, want ek hang al jare saam met hulle op sosiale netwerke rond. Ek dink eintlik die probleem lê daarby dat elkeen met ‘n radikale eier te lê, nou toegang tot die internet het.

Dalk is 3G-selfoontorings nou meer prolifies op afgeleë plase, who knows. Grappie. Not.

Maar mense wat ‘n man wat vir sy brood en botter gaan sing het op die president se inhuldiging, se kind doodwens, is om die minste te sê, siek. Dit grens aan waansin. Rassistiese waansin. Idiotiese waansin.

Dan moet elkeen van hierdie mense met ‘n motorhawe tog net ANC-lidmaatskapkaarte check voordat hy sy petroljoggies laat petrol ingooi vir elkeen met van ‘n 4 plus one-skorrokoro tot ‘n gravytrein-Merc.

Of as jy wat Kurt so skel ‘n verfwinkel het, moet jy net nie geel, swart of groen verf verkoop aan enigeen wat moontlik soos ‘n regeringsondersteuner lyk nie. Dis volksverraad. En as jy regtig AL die ‘libtards’ haat, ook tog net nie nie helderblou verf nie. Hy verf dalk sy posbus en tarnish die “wit woonbuurt”.

As jy die eienaar is van die local Chicken Licken, of KFC, is jy ongelukkig geheel en al in jou moer in. Sluit jou besgiheid se deure asb en gee jou customers se geld terug. Want beginsels is baie belangriker is om geld te vat van enigiemand wat die regering goedgesind is of, behoede ons, positiewe drome het vir die land. Vra voor jy die order vat. “Do you want everyone to work together in this country. Yes?! No hotwings for you then, sir.”

Hoe durf jy ‘n lewe maak, jou nering beoefen, deur besigheid te doen met die regering???? So elkeen wat vir Kurt kwaad is, gaan kanselleer enige bou-, verf-, IT-, plavei-, diesel,- herstelwerk-, of (take your pick) vervoerkontrak wat jy met enige staats- of semistaatsinstelling het, asseblieftog.

Gaan haal jouself sommer nou van vendor’s lists ook af. Selfs van maatskappye wat met die regering sake doen s’n, want dis mos ‘guilty by association’.

Jy mag ook nie viral videos kyk wat ons land se goeie eienskappe uitbeeld nie. Sit af jou Youtube en laat sny jou internet af. Want o hel, behoede dit tog dat iemand tog net iets opbouends en goed te sê of te doen het vir ons landjie.

EK Sê DIT: Ek is lief vir ons land. Ek dink as ons almal saamwerk, kan dit werk. Selfs ou Kurt, al kan hy nie regtig sing nie (in my opinie). Maar hy sing steeds beter as ek, en dit maak sy aksie belangrik.

Ons het ‘n idioot vir ‘n president, maar ons het baie meer slim, hardwerkende, eerlike mense, wat hier wil bly en gatvol is vir die handjievol, kermende, siek spul negatiewes.

Dankie tog.

Ek kan gaan waar ek wil.

Grond. Onlosmaaklik deel van die Afrikaner-identiteit, die boere-identiteit. Ons redding en ons ondergang. Dit wat sommige van ons uniek maak aan hierdie land waarin ons woon.

Moet ek vir die res van my lewe treur daaroor dat my pa se swak huwelikskeuse gelei het daartoe dat ons familieplaas, waarvan ek die agstesgeslag-bloedlyn erfgenaam was, nou iemand anders s’n is?

Of moet ek juig omdat sy keuse van ‘n koue en gewetenlose derde vrou, en spesifiek haar aksies na sy heengaan,  my gered het van ‘n lewe van “bloedgrond beskerm ten alle koste”?

Vir ‘n baie lang tyd nadat ek met ‘n interlinklorrie, volgeprop, van die plaas af weg is, het ek gedink dis eersgenoemde. Ek het jare getreur en gehuil oor my seuns se verlies aan ons familieplaas. Sommige dae het ek in my kar geklim en skelm deur die grensdraad gaan klim en langs die dam gaan sit waar ek as kind krappe gevang het.

Want van kleins af is ek grenspale toe geneem en gewys waar die grond strek. Presies waar die grenslyn loop, veral in lig gesien daarvan dat die buurman en my pa nie langs dieselfde vuur gesit het nie. ‘n Vete wat ‘n geslag of wat geduur het.

My lewe lank is ek ingelig dat dit die enigste ding is wat saakmaak in ons familie. Maar as ek nou terugdink, onthou ek ook hoe my pa – toe ek klein was -aande om gesit en somme maak het, en daar tye was wat voornemende kopers na die plaas kom kyk het, net om weggestuur te word. Dit omdat die wakende portret-oë en verspilde Anglo-Boereoorlog-bloed van voorgeslagte as stille skuldeiser bly hang het.

Ek onthou die twee jaar na my pa se dood waarin ek verbete bly veg het om die plaas te behou, as die moeilikste van my lewe. Ek het nog getreur oor die dood van albei my ouers, en was nie emosioneel voorbreid of slinks genoeg om die aanslae van ‘n bedrewe boedelvegter af te weer nie.

Vandag weet ek van etlike erfgename (onverwant aan my) – net in ons distrik – wat in kasarms van familiehuise op amper bankrotplase sit, tussen hoeveelstegeslag boere-‘heirlooms’, wat hulself en die bietjie wat daar oor is, in die stryd werp om ‘n familieplaas te red.

Vandag kan ek, armgat wat ek is, my goedjies en my kinders oppak en gaan bly waar ek wil, wanneer ek wil, waar dit vir ons die beste is.

Ja, ek treur nog elke keer as ek by Kransspruit se afdraai verby ry, daar waar die bloekombos langs die pad staan. Ek verlang nog steeds na die klipplaat onder die damwal en die gekleurde loodglasvenster in die hoofslaapkamer se stoepdeur.

Maar ook loop daar, te danke aan die Johannesburgse vreemde-stedeling wat nou die eienaar is, vir die eerste keer wild en is daar ordentlike drade om die kampe gespan.

Kransspuit verdien dit. En ek ook.

 

 

 

 

Die onvermydelike seisoen

Wanneer die eerste sneeu op die Lesotho-berge val en die koue oor die Vrystaatvlaktes aangesweef kom, wikkel ‘n aartsverlange in my los.

Tussen dringende gesoek na skoolskoene, lang kouse en truie deur, lê die verlies van dié wat nie meer daar is nie, skielik swaar en meedoënloos in my hart.

Elke jaar, wanneer die herfsblare begin val, wissel my  menswees ook.

Ek word in dié tyd weer kind. Dan wens ek vir ‘n plekkie waar ek versorg kan word, waar ek geborge kan voel. Waar die kombers ook agter my rug ingedruk word en ek ‘n koppie sop kan kry.

Namate die eerste ryp op die gras val, en die snerpende koue sy kloue in elke lewende wese inslaan, word daardie gevoel gelukkig ‘n bietjie beter. Want geen mens se hart sal dit hou om permanent met daardie verlange te loop nie. Jou hart sal dit nie maak nie.

Later, soos die koue alledaags word, sien jy weer kans om die grootmens te wees, die primêre versorger in jou huis. Jy is nie meer net die kind wat as een poseer nie. Jy gaan aan.

En soos die winter einde se kant toe staan en jy kans sien om die lae klere te begin afgooi, kry jy weer hoop. Hoop op dit wat beter is, dit wat vernuwend is en vrede bring.

Maar dis egter altyd met die wete dat jy ook ‘n herfsblaar aan die voete van jou kinders se lewensboom gaan wees.

Vir hulle is jou dood ook ‘n onvermydelike seisoen.