Volksblad-rubriek: Die fyn kuns van toasted-broodjies

’n Entjie straataf van Volksblad op Kroonstad is Tannie Akropolis se kafee. Sy heet so, omdat haar kafee se naam so dikteer. Onlangs, toe die winterknyp die kantoor-eetkliere stimuleer, bied ek aan om soontoe te stap en “toasteds” te kry.

Sy is seker reeds so bietjie meer as ’n dekade in die klein perseeltjie langs die drinkplek, oorkant die apteek. So verneem ek van my eggenoot, wat homself as ’n roosterbroodjie-afficionado beskou. Dis nou weens die duisende kilometers wat hy elke maand landwyd aflê en sy gereelde besoeke aan dié soort eetplek.

Toe ek so omstreeks tienuur die oggend by haar kafee instap, sit ’n man en koerantlees by een van haar twee tafeltjies. Op die tafeltjies is plastiektafeldoeke.

Hy eet pap-en-stew, bedien in ’n bruin, geriffelde glasbord, met ’n regte mes en vurk.

Die sonnetjie lê ’n diagonale streep oor sy rug.

Ek bestel die proviand. Sorgvuldig haal sy haar brode uit die sakkie. In die kombuis staan die broodsnyer met die slingerhandvatsel. Daarmee sny sy elke dag tien of meer brode, elke snytjie presies dieselfde dikte.

Haar kaas en tamatieskyfies is netjies verpak in donkerblou Tupperbakke. Op elke broodjie kom een-en- ’n-halwe skyfie kaas, om die platkant heeltemal toe te maak.

Eers skraap sy die flat-toaster skoon. Pak elke broodjie sorgvuldig daarop. Mooi en presies. Rangskik die kaas bo-op, braai eers die tamatie effens. Sy hanteer die eierspaan behendig, soos sy dit al vir jare daagliks doen.

Die teller is af, nie eens meer by die muur ingeprop nie. Dit kom uit ’n ander era, afgetree vir nou. Moeg. Langs die teller lê ’n lyntjieboek, met vertikale lyne per hand afgetrek. Syfers, wat net vir die skrywer daarvan sin maak, is kolomsgewys ingevul.

Terwyl ek wag (want dis die moeite werd), maak die pap-en-stew-man klaar. Hy los sy bord op die tafel. Sy stap flink en dek die tafel af, vee dit skoon.

Buite roep ’n motorwag vir iemand in die straat: “Kom weg hier, vandag klap ek jou!”

Die broodjies sis op die rooster. Sy haal dit af en vou dit sorgvuldig in wit papier toe. Met ’n dubbelvoutjie aan die oop kant om dit af te rond, soos vir ’n piekniek.

Al die broodjies is presies ewe groot en rus behaaglik swaar op die handpalm.

Nadat ek my broodjie geëet het, het ek my Facebook en Twitter vir die res van die dag afgeskakel.

 

Soos verskyn in Volksblad van 3 Julie 2013.

As jy ondeund is, moenie uitgevang word nie. Brief aan die tweeling op hul eerste skooldag – Volksblad

n Brief aan my kinders, die tweeling Jan-Willem en Lodewyk Jordaan, wat vandag hul skoolloopbaan aan Sentrale Volkskool op Kroonstad begin:

Beste Jan-Willem en Lodewyk,

Wanneer julle vandag jul eerste treë as graad eentjies op die stoepe van die skool gee, loop julle op spore wat jul voorgeslagte meer as 100 jaar al hier trap.

Die tweeling se ouma- en oupagrootjie, Myrtle en Jan van der Merwe, afgeneem naby die parlement in Kaapstad, waar hy LV vir Kroonstad was. Hulle was albei in Sentrale Volkskool.

Die tweeling se ouma- en oupagrootjie, Myrtle en Jan van der Merwe, afgeneem naby die parlement in Kaapstad, waar hy LV vir Kroonstad was. Hulle was albei in Sentrale Volkskool.

Jul oupagrootjie, Jan van der Merwe, en oumagrootjie, Myrtle (gebore Holmes), was albei in dié laerskool.

Jul oupagroot het ek nooit geken nie, omdat hy dood is lank voordat ek gebore is. Maar ek het gesien hoe ’n goeie man hy was in briewe van hom wat ek onder in ’n kas gekry het. Daarin help hy mense van die dorp.

Jul oumagroot was ’n statige vrou. Ek onthou hoe sy die klokkie aan etenstafel gelui het vir die kos om bedien te word en hoe sy my met groot oë aangekyk het as ek met my elmboë op die tafel gesit het. Sy het haar beter maniere altyd aan haar Engelse bloed toegeskryf. So gebruik asseblief dié sestiende van jul herkoms in die skool.

Sy het as 14-jarige meisie in 1929 haar laerskoolloopbaan by Senties voltooi.

Hul oumagrootjie se sertifikaat van voltooiing aan  Sentrale Volkskool in 1929.

Hul oumagrootjie se sertifikaat van voltooiing aan Sentrale Volkskool in 1929.

Oupagroot Jan moes ongeveer in 1915 sy matriek hier voltooi het (die skool was toe nog ’n gekombineerde laer- en hoërskool), as ek reg skat. Hy was baie ouer as jul oumagroot en het as peuter die Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekamp op Kroonstad oorleef. Julle sal nog later van daardie oorlog leer.

Hy het later Volksraadslid geword, wat jul grênd oumagroot natuurlik nóg grênder gemaak het.

Hul enigste seun en my pa, Carl Lodewyk van der Merwe, het in 1953 sy laerskoolloopbaan voltooi by Senties. Die skool het in daardie jare, en járe daarna nog, as Parravlei bekend gestaan.

Hy het iewers in die 1970’s Senties se swembad gebou. Dit was die eerste en enigste skool in die dorp wat ’n regte oefenswembad mét bane gehad het. Dit is onlangs toegegooi en in ’n krieketveld omgeskep, wat my nogal tot droewigheid gestem het. Daardie soort gevoel sal julle ook later verstaan.

Die tweeling se oupa, Carl Lodewyk van der Merwe, poseer hier in sy skoolklere van Sentrale Volkskool met sy pa, Jan, se pyp. Die foto moes in die vroeë 1950’s geneem gewees het.

Die tweeling se oupa, Carl Lodewyk van der Merwe, poseer hier in sy skoolklere van Sentrale Volkskool met sy pa, Jan, se pyp. Die foto moes in die vroeë 1950’s geneem gewees het.

 

Geniet dit net eers om ses te wees.

Ek was in 1984 hoofmeisie van Senties en kan met sekerheid vir julle sê, hoofseuns en hoofmeisies is ook maar lekker bang vir die skoolhoof, al lyk dit nie so nie.

Ek onthou hoe ek een jaar groot moeilikheid gehad het omdat ek Meneer Swanepoel, my wetenskap-onnie, se sleutels op die laaste skooldag agter sy laboratoriumbank weggesteek het. Hy het die hele Desembervakansie daarna gesoek. Hy het my jare daarna nog elke keer as hy my sien daaraan herinner, selfs nadat ek ’n grootmens geword het.

As julle dus wil ondeund wees, moenie uitgevang word nie.

Slegs ’n paar onderwysers wat vir my skoolgehou het, is steeds daar.

Een van hulle is Ebe Badenhorst, destyds die biblioteekjuffrou, wat my liefde vir boeke en lees aangemoedig het. Ek hoop sy doen dieselfde vir julle.

Julle oupagroot, oumagroot en oupa is vandag weg, maar ek wéét julle gaan hul skoene volstaan.

Geniet die skool!

Julle mamma, Marlene.

 

Die tweeling Lodewyk (links) en Jan-Willem Jordaan, wat vandag gr. 1 toe gaan in Sentrale Volkskool op Kroonstad. Hulle is die vierde geslag wat na dié skool toe gaan in die familie

Die tweeling Lodewyk (links) en Jan-Willem Jordaan, wat vandag gr. 1 toe gaan in Sentrale Volkskool op Kroonstad. Hulle is die vierde geslag wat na dié skool toe gaan in die familie

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gepubliseer in Volksblad van 9 Januarie 2013, die tweeling se eerste skooldag.

My ouma se Kersfees-skoene – Volksblad

Kersfees-storie vir Volksblad van 22 Desember 2012

Kersfees: Mooi, fraai skoene was ouma nie beskore

Marlene Jordaan

WANNEER my ouma Kerstyd die koekroller by die kombuistafel oor deeg laat dreun het soos net sý kon, het ek as kind onder die tafel gelê en my deur die woerrr-woerr-woerr laat sus.

Dan het ek gewoonlik met my kop op haar spesiale ortopediese skoene gaan lê soos dit onder die tafel ingesteek het. Hulle was swart, lelik en groot. Stewig en sterk opgebou, net reg vir ’n lomerige kleindogtertjie-kop.

As dit later stil geword het, het ek geweet sy gaan nou-nou my kop met die ronde, versterkte voorpunt van haar skoen oplig en my vra om die koekiedrukkers te gaan haal.

Dan het ek, neffens die vleismeul en die worsmasjien onder in die kombuiskas, die bruin kartonboks met die koekiedrukkers in uitgehaal.

Ek het dan, soos elke jaar vantevore, die vorms vir die soetkoekies uitgekies. Sterre en harte, sirkels met geriffelde rante en natúúrlik miniatuur-Kersboompies. Soms miskien ’n haas of eend, maar net by uitsondering, want dit was eintlik vir die verjaardagkoekies.

Later van tyd het ek gewonder hoekom sy sulke skoene moet dra. Niemand het daaroor gepraat nie. Dit was deel van haar, soos die reuk van oliekolonie en vloerpolitoer.

My ma het my, ná ’n gekerm, vertel: My ouma het as jong vrou in die 1940’s op hul stoep met sy blink gepoetste rooi vloer gegly toe my ma se boetie sy albasters daarop vergeet het.

Sy het haar een enkel gebreek. Die dokter wat haar geopereer het, het gruwelik verbrou en daaropvolgende operasies het tot meer brouwerk gelei.

Einde ten laaste het haar ander voet heeltemal krom getrek om aan te pas by die een wat stukkend geopereer is.

Dekades lank het sy só geloop. Geskuifel, eintlik.

Mooi, vroulike, fyn skoene was haar nooit weer beskore nie. Stap in die dorp was haas onmoontlik.

Kort voor Kersfees in 1981 het sy haar ortopediese skoene gekry: ’n Geskenk van haar kinders. ’n Skoenmaker in Pretoria het dit spesiaal, op plan van die dokter, vir haar gebou.

Ek onthou hoe ek as tienjarige om die kamer se deur geloer en gesien het hoe sy hartverskeurend op haar bed sit en huil oor hulle so lelik was.

Maar hoe sy ook stil geword het toe sy dit aantrek en haar eerste paar tree gee. Hoe my ma se skouers geruk het van huil-lag.

Dié skoene was haar anker. Vir die eerste keer in 35 jaar kon my ouma amper normaal loop.

Die “bruggies” van sement tussen die straat se ryvlak en sypaadjies by voetgangeroorgange op Kroonstad is later in die 1980’s gebou, te danke aan my ma se aanhoudende en jare lange veldtog by die stadsraad sodat my ouma net in die dorp die straat kan oorsteek.

Later van tyd, soos die skoene se stewigheid begin gaan het, het die koekies minder geword en ek het aanbeweeg onder die tafel uit.

Sy wou nie nog ’n paar gehad het nie, al wou ons koop.

“My kind, ’n mens kan net een keer in jou lewe vrede maak om sulke lelike skoene vir Kersfees te kry,” was haar antwoord.

– Volksblad

http://www.volksblad.com/Bonus/Nuus/Kersfees-Mooi-fraai-skoene-was-ouma-nie-beskore-20121221

‘n Kollektiewe sameswering teen vegetariërs – Volksblad-rubriek

Goeiemôre-rubriek, soos verskyn in Volksblad van 5 September 2012.

Marlene Jordaan

OM ’n vegetariër in die Vrystaat te wees, is soos om die enigste Cheetah-ondersteuner op ’n Bloubul-paviljoen te wees. Jy steek soos ’n seer duim uit, jy met jou eensame oranje vlaggie.
“Ownsome by your lonesome,” soos my ouma altyd gesê het.
Kollega Charles Smith het onlangs hier geskryf oor die heerlike kulinêre lewer- en longvreet-avonture wat met jag gepaard gaan.
Dit is eg Vrystaats, en iets waarmee ek ook grootgeword het, synde my pa elke winter al sy tjomme genooi het om die springbok- en blesbokbevolking op ons plaas uit te dun.
As kind het ek my oë styf toegeknyp as ek verbygestap het by die rye en rye slagsinkplate vol dooie bokke met starende oë en uitgerygde derms.
Een van daardie snaakse kwinkslae van die heelal het bepaal dat ek, in wie se mond vleis ná die tweede kouslag dik word, ’n beesplaas sou erf toe my pa oorlede is. Een van my diepste liefdes is die rooi Afrikanerbees. Dit is my hartsbees. Solank hy nie slagplaas toe hoef te gaan nie. Nodeloos om te sê ek was ’n patetiese beesboer.
Toe ek ’n paar jaar gelede besluit het om die vegetariërpad te loop, het ek min besef watter uitdaging gegewe my geografiese posisionering.
In die Vrystaat en Noord-Kaap reken die meeste mense mos ’n hoender is groente met vere aan. Sien jy met groot opgewondenheid in ’n restaurant dat daar ’n “v” langs sekere geregte staan, word jy gou afgebring aarde toe.
Hier bestaan eetplekke se idee van meer gesofistikeerde vegetariese geregte uit spinasie-en-feta-pizzas, spinasie-en-feta-quiche, spinasie-en-feta-tramezzini en spinasiepasta.
Ek vermoed die bedryf het kollektief saamgesweer om vegetariërs se ystertekorte uit te wis.
’n Bekende gesinsrestaurant het ’n vegetariese “platter”. Dit bestaan uit ’n paar van sy bykosse en ’n kaas-quiche saamgeflans op ’n bord.
Die quiche proe of dit sewe maande in die diepvries gelê het en op hoog opgewarm is, het ek onlangs ontdek.
Ek onthou hoe ek, in dramatiese ontsnappingspoging van spinasie, ’n ham-en-sampioen-fetuccini bestel het. Ek smeek hulle moet dit asseblief sonder die ham maak. En toe dit met die ham aankom, die kelner vir my vra of ek nie maar net rondom dit kan eet nie, want “dit gaan mos maar net oor die smaak, né, tannie?”
Red nou ’n nasie en red vegetariërs van spinasie.

http://www.volksblad.com/Rubrieke/Goeiemore/n-Kollektiewe-sameswering-teen-vegetariers-20120905

Al drentelend, kletsend en kouend of…Volksblad-rubriek

My bydrae vir Goeiemôre in Volksblad, 21 Junie 2012.

Al drentelend, kletsend en kouend of…

Marlene Jordaan

MY man, wat ’n houtwerk-onderneming het, het pas die soveelste jong man wat by hom op proeftydperk gewerk het padaf gestuur, soos Kapenaars dit sou sê.

Sien, my man kom uit die era van weermag toe gaan en onder begin. Nie uit die tydvak van by ’n werk instap en ’n hoekkantoor en ’n voertuigtoelaag verwag nie.

Hy het, letterlik, toe hy as jong appy by een van die mees gesogte houtwerkfabrieke in die Kaap begin werk het, vir drie maande skroewe ingedraai en saagsels van die vloere gevee.

Nádat hy twee jaar in die weermag was.

As die baas, een van die gedugstes in die bedryf, die appies laat aantree het met die kaste wat hulle die dag gemaak het, het hul broeke gebewe. Hy het niks daarvan gedink om jou kas uitmekaar te klap as dit nie op standaard was nie.

Die ou oom se fabriek staan vandag nog, een van die grootstes in die land.

Maar so ’n kas-uitmekaarklappery is mos ’n menseregteskending, sal baie jongmense vandag sug.

Ongelukkig raak my man se geduld net op as hy onder ’n swaar toonbank lê en vir ’n sekere stuk gereedskap vra, en die jongetjie drentel-drentel kougomkouend gereedskapkis toe, terwyl hy die nuutste gesprek in sy MXit-kletskamer klaarmaak.

My man het ’n ander seun een keer laat begaan met die hoop dat hy iéwers uit die dieptes tussen sy afsakbroek en sy death metal-T-hemp die dryfkrag sal opdiep om self iets te doen.

Hy het vir ’n uur op sy selfoon gestaan en facebook. In die middel van die werkplek.

Die nuutste aanwins tot die arbeidsmark wat my man se werkwinkel onlangs betree het, is ’n jong man van 22 jaar wat in sy onderhoud sonder om te blik of te bloos gesê het hy sal die rowwe (en harde) konstruksie-ure werk wat van hom verwag word.

Ná die tweede dag vra hy my man vir ’n werk-selfoon. Die eerste naweek wat hy moet werk, kla hy dat hy nie sy meisie gaan sien nie.

Die volgende week vra hy of hy my man se bakkie kan leen om vir sy niggie te gaan kuier in Pretoria: “Dis nou as jy nie kan saamkom nie, as dit in werktyd is,” sê hy tegemoetkomend.

Vra jou af: Wat maak jou anders as die duisende ander jongmense wat werk soek? Getuig jou gees van leergierigheid, nederigheid en hardwerkendheid?

Of is swaarkry en opoffering, met die oog op sukses, vir jou ’n onbekende landskap?

http://www.volksblad.com/Rubrieke/Goeiemore/Al-drentelend-kletsend-en-kouend-of-20120620