Die avonture van ‘n plaaskind: Mongolese hordes en perdestalle

Ons het ‘n sandsteen-stal gehad toe ek ‘n kind was. Nie dat dit eintlik toe meer ‘n stal was nie.

Nadat die groot perdegriep al my oupagrootjie se perde uitgewis het (sien ek in my geestesoog die ry dooie perde met skuim om die bek en uitpeuloë op sinkplate lê), het die stal ontaard in ‘n algemene hooibaal-stoorplek en hoogs geheime bendehoofkwartier vir me, myself and I se bende, Die New Kransspruit (ons plaas se naam) Avengers (Die NKA). Ek was Purdy én die res.

Die stal het twee verdiepings gehad. Onder was die vloer geplavei met ronde stene. Seepglad afgeslyt deur generasies se hoewe en voete. Die hoefysters van perde uit twee oorloë  teen die Britte het oor daardie stene gekloppitieklop. Tot die griep Kransspruit se perde vir ewig stil gemaak het.

Dis nou behalwe vir Bonita die volbloedresiesperd wat my pa op ‘n bankrotveiling gekoop het vir die werkers om die plaas se skape aan te jaag. Nodeloos om te sê ons het die vinnigste skape in die distrik gehad.

Teen die stal se binnemuur was ysterstawe waar die perde vasgemaak was. Sandsteenvoerbakke was al langs die vloer uitgekap, waar die vloer en die muur bymekaarkom. ‘n Lendelam houtleer het opgegaan na die tweede verdieping, wat eintlik nie veel meer as ‘n solder was nie.

Hier, op die solder,  het wakiste met ou gereedskap gestaan. My oupagrootjie was ‘n skrynwerker wat geboer het. Antieke hamers, beitels en skawe het ‘n groot deel van Die NKA se wapenarsenaal uitgemaak.

Aan die voorkant van die soldermuur was ‘n langwerpige vensteropening, waar die hooibale van die wa af met ‘n outydse pully opgehys is.

Dit was aan dié pully, halfpad tussen die vensteropening en die grond, wat ek my eerste broekpiepiebang ervaar het.

Ek was seker so nege jaar oud toe ek, in ‘n verbete poging om altesaam 1000 lede van die Mongolese Hordes wat ‘n aanslag op Die BKA geloods het te ontkom, die muur aan die buitekant uitgeklim het.

Die venster se opening was ongeveer vier na vyf meter bo die grond. Flippen ver as jy nege is, maar naby as die Mongolese op jou case is.

Die eerste meter het dit goed gegaan. Die sandsteen het saamgewerk en die growwe tou het goeie vatplek gegee. Na twee meter het die tou my hande tot twee kole vuur geskaaf en die kinderskouertjies wou nie meer aan die tou hang nie. Die Mongolese Horde het verdaag vir pouse en toebroodjies en skielik was dit net ek, die tou, die venster doer bo en my boerboel wat my aankyk. Ek het vasgebyt en nog een meter boontoe gevorder, maar die venster was nog baie ver uit my bereik.

En dit het ook beteken ek het nog een meter verder om te val.

My pa was op die lande en my ma was 200m weg, in die huis. Die wind het om die hoeke van die sandsteenstal geloei en die hond het klaar gekyk en hom gesit en lek. My negejarige armpies het gebewe. Ek het geweet ek gaan my doodval. My ma en my pa gaan my geknakte liggaam aan die onderkant van die stal se vensteropening ontdek.

Hulle gaan treur oor my en dan ‘n nuwe kind kry, ‘n seun, wat die boerdery gaan oorneem en vir die Springbokke gaan speel. Iewers het ek krag gekry en die laaste meter opgeklim. Ek het lank in die vensteropening gelê.

Toe het ek my gepiepiede panty in die hooibaal weggesteek, waarna ‘n bees dit seker maar opgevreet en uitgedinges het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements

6 thoughts on “Die avonture van ‘n plaaskind: Mongolese hordes en perdestalle

  1. Ek het lekker gelees en onthou van ‘n koeistal waar daar ook ‘n paar perde was. Kon nie help om te glimlag vir die ‘vinnige skape’ nie. En ek het nou gewonder of verbeelding iets is wat net met kindertyd kom, of is dit iets wat kom wanneer ‘n kind nie ‘ek is verveeld’ as ‘n verskoning kan gebruik nie, of wat daar is omdat daar nie die verleiding van tegnologie is nie…

  2. Jinne ek het nou lekker gelag vir daai laaste twee paragrawe. Ek wou ook so graag Purdy wees, maar die hare wou nooit saamspeel nie. Ons plaaskinders het nie geweet hoe bevoorreg ons was nie. Daar is ‘n skatkis se herinneringe van my plaaskind dae.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s