Moeggesloeg.

En daar sloeg ek vandag neer terwyl ek draf. Voor ander mense. Kyk, as dit mos nou ek was wat moes kyk hoe sloeg iemand soos ek het, sou ek gelag het. Dit was een van daai slowmotion tipe sloege.

Ek het gesien hoe kom die aarde nader, soos daai lelike oom met die nikotiensnor wat jou elke Kersfees sulke nat soene gee. Jy wil hom vermy maar jy kan nie. Dan gee jy jou maar oor en hoop jy kom heelhuids ander kant uit.

Toe skuif ek vorentoe soos ‘n ploegskaar in ‘n nat land. Behalwe die land was nie nat nie, net vol donnerse klippe. Ek dink van hulle sit nou nog onder my palmvelle. Die enigste gedagte wat deur my kop gegaan het, was: Ekhoopnieiemandsienmynie -asem- jittemyvettedrilsekernoulekkervanagteraf.”

Toe staan ek maar net op en draf verder. Soos mens mos maar moet in die lewe.

Later het ek eers agtergekom die bloed stroom teen my vingers af en drup op die grond. Soos mens mos maar ook eers na die tyd agterkom in die lewe, wanneer stront jou tref.

Toe ek by die huis kom, inbox ‘n kollega in die mediabedryf in die Vrystaat my. Sy vra: “Marlene, hoe skakel jy af? Ek kry nie my kop stil nie.”

Ek skryf terug: “Ek het my vandag des moers geval by die Parkrun”.. Want sien, vertel ek haar toe, dis oor ek nie gekyk het waar ek hardloop nie. Oor ek nie my kop afgeskakel kry van werk af nie. Oor ek altyd in my kop besig is met dinge wat ek nie nou met my lyf mee besig is nie.

Dis hoekom ek baiekeer nie hoor wat my kinders vir my sê nie.  Of my man. Of die kassier by die supermark. Want ek is altyd op ‘n ander plek. Ongeskik en afwesig.

Die naam daarvoor is ”mental overdrive”, sê my kollega.  Mental overdrive. Soos ‘n kar wat in die rooi gerev word. Ek kan dit verstaan. Dit is hoe dit voel. Jou brein rev in die rooi en jy moer neer op die klippe en gruis.

Na ek en sy bietjie verder gesels het, en ek my foon neergesit het, het ek besef. Ek sal weer moet joga begin doen. Dit werk.

En as ek dan neermoer (wat heel waarskynlik is) is dit te  minste in die privaatheid van my eie sitkamer, ten aanskoue van slegs my eie persoonlike hond.

 

 

Advertisements

7 thoughts on “Moeggesloeg.

  1. Ek het pille gekry daarvoor. Geen oefening benodig nie. Neem die pilletjies met water of koffie en wag ongeveeer 30 – 60 minute. Dit skakel daai tor wat die toutjies trek in jou kop se liggies af vir 8-9 ure.
    Ek het definitief minder self inflicted rowe deesdae.

  2. Ons het n siekte. Ons almal. Ons word deur n moderne sisteem van geld-maak gedwing om nooit op te hou dink nie, selfs wanneer ons niks doen nie, dink ons. Gelukkig het jy n tydjie gehad om hier vir ons te vertel wat ons almal se probleem is. Ek lag nie as mense val nie. Dit lyk te pynlik. Mense wat neersien op ander? Nou daar is n rede om te giggel al hulle val!

  3. Ek is jammer jy het geval. Maar ek het ook bietjie gelag oor hoe jy dit beskryf. Ek slaap sleg omdat my kop nie wil afskakel nie. My swemmery help darem.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s