Jy sal nooit weet voor dit te laat is nie.

Eendag, lank lank gelede, het ek bykans elke dag voor die rekenaar gesit en iets geskryf. Dit was òf deel van my werk, òf ek het by die huis gesit en iets te sê gehad. Iets wat mense wou hoor. In sekere opsigte was dit die lekkerste, maar ook die slegste tyd van my lewe.

In daarde tyd was ek soms verlore vir myself, weg vir my kinders en onbekombaar vir my man, omdat daar groot persoonlike verliese in my lewe plaasgevind het. Daardie verliese het gemaak dat die spasie in my kop iets geword het waar ek elke dag vertoef het, maar dit het ook my tronk geword.

My verlosser en my bewaarder.

Ironies genoeg, was dit juis daardie verliese wat gemaak het dat ‘n paar half-verlepte gedigte en drie beskaafde stories – elke dan en wan – op ‘n bladsy kon realiseer. Die ou geykte storie van die skrywer wat skryf wanneer hy op sy seerste is, en ‘n doodgewone wekrklose word as dit met hom redelik goed gaan.

In daardie tyd het stories oor geldelike verlies, persoonlike teleurstellings, half hoopvolle toekomsdrome en verbeeldingryke verliefdvlugte gegaan. Niks spesiaals nie, net gewoon.

Die meeste van dit was waar, en die res was in my kop (die toekomsdrome en die verliefdgeit).

Vandag sit ek en wonder of dit moontlik is om twee lewens te lei.

Een waarin jy gekonnekteer met jou roeping deur die lewe gaan, waar jy uitreik na die “universe” en funksioneer vanaf jou ware self. Waar woorde soos water vloei en jy kan drink uit die fontein van jou oorsprong.

Van daardie plek warvaan jy af kom: Waar jou binnekantse self sy ontstaan gehad het.

En dan ‘n parallelle lewe, waar jy gewoonweg net Sondagoggend voor die visblikrak in Checkers staan en wonder of jy twee woorde agtermekaar kan string, omdat jy vir die afgelope jaar vanaf jou buitekantse self funksioneer. Daardie plek waar jy net oorleef en bestaan.

Daardie plek waar jy voor die afgrond staan en dit nie eens sien nie, omdat jy blind geword het daarvoor. Waar jy gaan afval as jy vorentoe tree.

Wie weet? Dalk is die beste deel van jou lewe al verby, maar jy sal nie weet voor dit te laat is nie, né.

15 thoughts on “Jy sal nooit weet voor dit te laat is nie.

  1. Ek kan net skryf as dit regtig sleg gaan. Anders skryf ek crap. Ek het gedink mens kan skryf en skryf. Tot so 5 blogs in. Tot iemand vir my gesê het ‘skryf ‘n gedig oor x.’

    Arme mense wat vir geld moet skryf.

    Die beste deel van my lewe is agter my. D
    My grootste bydrae vir my medemens lê nog voor my.

  2. Ja, ek dink nogal mens kan 2 lewens lei. Het ook soms daardie gevoel. Hier in die hede gaan jy goed aan, maar wanneer jy dink oor dit wat seer veroorsaak, trek jy terug in ‘n eie wereldjie en haal die masker af…

  3. Dit is moontlik om twee lewens te lei, om die waarheid te sê ons kan ook op meer as een plek gelyk wees, ons besef dit net nog nie. Eers was die aarde plat en toe word hy rond, nou kan ons al aan die sterre raak. Ons is besig om van 3D na 4 en dan 5D te gaan. Jy kan maar as’t ware sê ons is besig om te groot vir ons skoene te raak. Is dit nie wonderlik nie!

  4. Jy het ‘n pragtige feite verhaal geskryf….ek het nog nooit so daaroor gedink nie,….ek is ‘n voorwaarts mars mens. Ek kyk nie terug en leef net vooruit. Dankie Vader vir my gees wat hy in my geplant het. Jy mag maar skryf hoor!!!

  5. Dalk voorbaarig van my Murphy, maar dalk is daar verskeie parallelle lewens wat ons lei. Nie weens patologie wat ons verskuil nie, maar eerder weens die kompleksiteite van ons identiteit of self-verstaan. By tye is ons emosionele lewe die hooffokus, soms bepaal ons breine koers, waar ander tye dit ons kinders, visblikke of tuinwerk is. Dit vat nie weg dat elk van ons ‘n volle mens is nie, maar gee dalk toestemming om al die dele te wees asook meer en anders in die toekoms.

    Of die beste deel van my lewe reeds verby is, weet ek nie. Maar ek kan nie onthou wat die toekoms in hou nie …
    :~)

  6. Vir my klink dit asof jy in ‘n innerlike metamorfose is – ek was ook daar. Wanneer helderheid dan deurbreek, dan word jy heel. So was dit vir my tot ek op die ouderdom van 65 werklik kon begin leef. Dit is inderdaad te laat vir sekere goed, maar in die plek daarvan kom nuwe lewe. Dan eers sal jy werklik kan leef.

    Sterkte vir jou

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s