Om te trek is soos om met afgeskeerde hare voor Hubble te gaan staan.

Een keer, lank gelede, het ek my hare afgeskeer. Die aanvanklike euforie wat daarmee gepaard gegaan het, het ‘n paar dae gehou. Dit was tot een oggend wat ek ‘n innerlike bad hair day beleef het. Skielik het ek nie ‘n lang bos krulhare gehad waaragter ek my gemoedsbekakking kon wegsteek nie.

Ek het die oggend dorp toe gegaan en skielik het my vette baie prominent gevoel en my plooie ekstra diep.

My self-oorbekende gesig en lyf het soos ‘n uitgewaste kombuisvadoek gevoel onder die nommer 2-seunsnit op my kop. Uitgelewer aan almal en nog wat. Maar deurdruk moes ek deurdruk, en ek het maar so geloop, want wat anders moes ek nou juis doen?

Enige vrou sal jou vertel dat daar nogals ‘n voordeel is aan hare, en aan baie daarvan. ‘n Groot haredos help jou wegsteek aan al die ander goed wat jou pla.

Om na ‘n vreemde dorp te verhuis, is soos die megagreep van hare afskeer. Dis soos om met jou afgeskeerde kaalkop aan die kykkant van die Hubble-teleskoop in te beweeg. Weg is die wegkruip agter die bekende, die poniestert maak van paaie ry sonder om twee keer daaroor te dink en handoplig en groet vir almal en nog wat.

Skielik is jy uitgelewer, in al jou naaktheid, aan dit wat jy net is sonder die pantser van dit wat ander van jou WEET.

Jy is skielik net die wat jy op die oog af is: ‘n middeljarige, valerige vrou met twee kinders en skottelgoed in die wasbak. Jy kan nie meer wegkruip ager die langhaar-kapsel van waar jy gewerk het, skoolgegaan het, wie jy ken en wie jy vir ander is nie.

Jy is skielik net die somtotaal van die biologiese massa bo-op jou voete. (In my geval ‘n bietjie te veel, weens te min draf). Niks meer nie en niks minder nie.

Op die lange duur kan dit nie sleg wees nie, want dit gee jou dalk die kans om jouself weer te herontdek, te herontwerp, as’t ware. Maar dat dit moed vat om jouself in al daardie naaktheid te aanskou, is nie altemit nie.

Jy doen nie net afstand dit wat jy al reggekry het nie, maar jy moet ook erken dit wat jy nooit kon vermag nie.

Gelukkig groei hare weer terug. Die onbekende word weer die bekende, hopelik later die beminde. Soos die wysgeer een keer gesê het: “Ons sal maar moet sien.”*

 

*Ek lieg, die wysgeer bestaan nie. Dit was my ma. 

 

 

21 thoughts on “Om te trek is soos om met afgeskeerde hare voor Hubble te gaan staan.

  1. ‘n grap is dit nie – inderdaad nie. jy stel dit altyd so mooi. het nou sommer vir my laat dink aan veranderinge wat ons deurgaan. sterkte daar …

  2. Hoop julle voel gou tuis. Toe ons hier in die vreemde na ‘n nuwe huis trek, het dit ook ‘n rukkie gevat om in te pas. Sommer die eerste week het ons onmin met bure verder af in die straat gehad, omdat die vrou ons kat uit haar tuin gejaag het. Dit het ‘n jaar of wat gevat voor ons begin praat het – mens jaag nie my kat nie!😉 Sy het toe so maand of wat terug aangebied om ons katte op te pas🙂

    • Ek moet sê, die bure het ons baie gou laat welkom voel hier. Gelukkig is ons straat vol oulike mense en kindiertjies vir die tweeling om mee te speel. Ek het darem daar die jackpot geslaan. Dankie!

  3. Wees net jouself, want jouself is goed genoeg en dié wie nie jouself aanvaar nie, hulle se moere. Daar is oopkop mense orals, selfs op Worcester. En ons is net anderkant die berg. Eendag is eendag kom klop ek aan jou deur vir koffie – ek hou hoeka daarvan om Worcester Mall toe te ry, hulle het meer klere vir anties met groot boude😉

  4. Trek is beslis bo-aan die streslys en sommige van ons maak maar aanhoudend skuiwe sodat ons nie aan ‘n trekkery blootgestel word nie. Soos jy tereg hier bo sê, is ‘n mens eintlik totaal en al uit jou gemaksone. ‘n Mens besef selde hoeveel van jou identiteitservaring is opgesluit in die bekendheid van ‘n rol wat jy vervul en daardie beeld van jouself wat jy onbewustelik saamdra. Bekende mense bevestig dit vir jou, so dis al asof ‘n mens meer daarin groei met elke bevestiging. Met enige verandering – werk of trek – is ‘n mens aanvanklik so opgeneem in alles wat nuut is en gedoen moet word dat jy jouself nie veel tyd gun om stil te sit en daaroor te dink nie, maar daar is altyd ‘n oomblik van ‘verskrikking’ wanneer jy besef: DIT is nou my lewe. En dis gewoonlik nie ‘n mooi oomblik nie. Woorde troos ‘n mens ook nie juis nie, maar vir later – sterkte met die proses, dit word beter, al gebeur dit nie oornag nie. Elke nuwe hoofstuk in ‘n mens se lewe bring ongetwyfeld groei mee en kort voor lank sal die nuwe mense in jou lewe en die nuwe plek ‘joune’ wees. XX

  5. Jy sal weer wortelskiet. Jy is gelukkig, toe ons in ‘n dorp vol oumense in ‘n historiese huis intrek, het baie inwoners kom aanklop en wou deur die huis loop en ons goed bekyk. Daai lot het ons nooit weer gesien nie. Ek raai dis die ekwivalent van die mammas by die skoolhek vir jou… Wat jou uitkyk. Een ding waaroor ek bly is, ons het nie gedoen wat ons oorweeg het om moontlik te doen (kerkstorie), net om in te pas nie. Ons het gebly wie ons is, en nou word ons so aanvaar. Sterkte!

    • Dankie, ek weet dis alles deel van ‘n proses, en iets wat ek moet doen. Mens kan nie vir ewig op een plek sit en muf nie. Dis moes juis dié proses, hoe pynlik ookal, wat die doel van die oefening is.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s