Drie kinders brand dood in shack. Sommige kinders vries ook dood.

Hier by ons het daar oor die naweek drie kinders in ‘n shack doodgebrand.

Hulle ma het – na bewering – gaan drink en die shack se deur van buite toegesluit. ‘n Kers het vermoedelik omgeval, en die drie kindertjies, angsbevange, kon nie uitkom nie. As dit waar is, wat volgens die redelik betroubare huiswerkernetwerk in my woonbuurt (waar die kinders se ma gewerk het) het haar verslawing moontlik na die dood van haar kinders gelei. Mxm en eish, sê die netwerk, kopskuddend.

Maar dit moet natuurlik eers in ‘n hof bewys word.

Details rondom die storie loop diep in my woonbuurt se strate, waar die huiswerkers elke oggend om 07:00, wanneer die taxi hulle afgelaai het, ‘n vuur by die ou bushalte maak en opvang oor hul lewens, kinders, en sonder twyfel, hul werkgewers se geite. Die ma het glo ook deel van daardie taxi-groepie uitgmaak, soos ek verstaan. En voorheen was die kinders al van haar weggeneem, as die riemtelegram geglo kan word, waar dit vanoggend met ‘n tongklik in my kombuis geëindig het.

Nou gaan sy aangekla word, waarskynlik tronk toe, waar sy vir baie baie jare tyd gaan hê om oor die dood van haar kinders en die verslawing wat tien teen een daartoe gelei het, na te dink. Ek is baie baie bly ek is nie sy nie. Deur genade, né.

Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie, en dit gaan ook nie die laaste keer wees nie.

Ek onthou ‘n paar jaar gelede, toe ek nog by Volksblad gewerk het, het ek ‘n storie moes loop doen oor twee sussies wat in ‘n huis op ‘n plaas doodgebrand het nadat ‘n kers omgeval het. Hulle was, so ver ek kan onthou, hul ma se enigste kinders.

Die boer en werkers het vergeefs probeer om hulle te red, maar dit was te laat toe hy met sy vuurvegter by die werkershuis aangekom het. Hulle was nie toegesluit nie, die vuur het net te vinnig versprei.

Ek moes langs die teerpad stop, deur ‘n draad klim en veldlangs stap tot by die uitgebrande werkershuis. Dit het my aan my eie lewe laat terugdink op die plaas. Veldlangs, op voetpaaie, werkershuise toe om te gaan speel op Saterdagmiddae. Maar ek het sonsak elke dag weer teruggekeer huis toe.

Voor ek weg is, het ek saam met die pastoor, die ander plaaswerkers, die boervrou en die wyk se dorpsraadslede wat kom help het, hande gevat en in ‘n kring gestaan terwyl hy bid. My oë was oop. Die ma s’n ook en ons het kortstondig vir mekaar gekyk.

Daardie dag, toe ek terug ry kantoor toe op die slaggatpad, die Vrystaat-son laag op die horison en halfgestroopte mielielandgeraamtes as enigste getuie van die onmeetbare tragedie, het ek geweet sommige stories moet diep gebêre word nadat hulle geskryf is.

Dit maak jou moeg, en dit maak jou oud. Dit maak jou weet dat kinders doodgaan, dat JOU kinders kan doodgaan, dat jy in die nag wakker lê en dink, en weet as jy môre opstaan, gaan jy die laai op dié storie moet toesluit en die sleutel weggooi.

Maar daar is duisende onvertelde stories. Dit is die stories van kinders in gewone huise, nie shacks nie – gewone woonbuurte, wat ook dag na dag wag vir ouers. Ouers wat soos zombies voor rekenaars sit, voor die televisie, in die kantoor vir 16 uur dae, permanent oorsee is. Wat verslaaf is aan sukses, elektronika, hul eie lewens.

Ouers wat iPads in klein handjies stop, permanent nannies het, selfs oor naweke, en “nie nou tyd het nie.”

“Nie nou nie, ek is besig.”

Daardie kinders brand nie dood nie, hulle vries dood.

18 thoughts on “Drie kinders brand dood in shack. Sommige kinders vries ook dood.

  1. Pingback: ‘n Mooie Blog Toekenning | Kouevuur

  2. Bly ‘n wrede werklikheid. Ek verkies so min as moontlik media in my dag, blackout-dae hou soms weke aan.
    Wou dankie se vir die follow van mariekiesinne. Het besluit om blogs te merge, tyd bly altyd ‘n faktor. Hoop om jou raak te loop by http://mariekie.wordpress.com
    Gaan probeer om die Afrikaans en Engels in daardie gange te laat skouer skuur.

  3. Dit is inderdaad so dat ‘n ma se hart altyd by haar eie kinders en hulle weerloosheid gaan draai wanneer sy so iets hoor. Die skaal van verwaarlosing, fisies en emosioneel, is eenvoudig net ysingwekkend. En dis net die gevalle waarvan ons hoor. Die hartseerste van alles is dat die kinders wat hulle mishandeling en verwaarlosing oorleef, dikwels grootmense word wat nie van beter weet nie en hulle kinders dan verder in so ‘n siklus intrek. Genadiglik is daar ook dié wat oorleef en poog om beter as hulle ouers te doen. Mag ons nooit so gedesensiteerd wees dat ons nie meer deur hierdie weergawes van die werklikheid geraak word nie…

  4. Dis so onnodig. ‘n Vriendin van my ma was ‘n alkoholis, en sy het vermoedelik uitgepass met ‘n sigaret in haar hand, en het ook doodgebrand. Sulke goed gebeur baie meer as wat ons besef/van hoor.

  5. Dit is ongelukkig die straf van ‘n moderne ouer wees. Al pas jy self nie die ipad metode toe nie- sal jou kinders nogsteeds vrygestel wees aan ander snotneusies wat nie weet van buite speel nie. Dink dis juis wat my so bang maak om eendag ‘n familie in vandag se tye te he. Menswees is nie meer menswees nie. Dis meer soos n robot nasie. Hulle vries dood- well said. Computerised hearts.

  6. Pingback: Kinders sterf en niemand kyk of glo | Dante

  7. We lived for 11 yrs in Robertson, Western Cape (since 2011 in Stanford = less alcoholism and Phetal Alcohol Syndrome). Although we like wine, even a brandy every now and than; we’ve experienced in the Robertson Wine Valley (according to municipality: 70% of ‘thoroughbred’ Robertsonners of all walks of life are born with PAS) where alcohol can lead to; including rape/incest, murder, fire, child abuse … you name it… It’s heartbreaking and mind boggling. And indeed the difference in ‘lifestyle’ Mercedes/BMW versus Leg-wagon… Your story is not new but it can’t be told enough…😉

  8. Ons is almal in ‘n meerdere of mindere mate prisoniers van ons eie status en besittings. Soos met enige prisonier is dit dan ook die mense in ons lewens, en veral dié naby aan ons, wat die swaarste aan die las moet help dra. Dan weer, ek is op ‘n opgeskorte vonnis. Ek hoef nie ‘n kind in die oë te kyk terwyl ek hom verduidelik waarom ek hom nie alles kan gee wat sy maats het nie. Ek hoef hom ook nie in die oë te kyk en die nuutste i-whatever in sy hande te stop voor ek weer verdwyn na Afghanistan of watter godverlate hoekie van die aardbol ek ookal al my geld verdien nie.
    Niemand kan beweer hulle doen die lewens speletjie perfek nie. ‘n Paar kom moontlik naby. Vir die res van ons: ek wil graag glo dat ons die beste doen wat ons kan. Selfs die stoner ma en die ouers sonder tyd.

  9. Die storie is waarskynlik waar en een van vele.

    En, as voormalige joernalis kan ek jou verseker die goed gaan nie hof toe nie.

    Gruwels teenoor kinders het my uit joernalistiek gedwing. Ek kon nie meer die kinderbloed en jong gebreekte liggaampies aanskou en vergeet nie.

    Dit het my byna van my kop gedryf.

    Ek kan nie tel hoeveel maal ek moes skryf oor kinders wat in “hokke”, ook bekend as “shacks”, doodgebrand het nie.

    Een Saterdagaand het ‘n ma die “hok” se deure van buite met ‘n slot toegesluit en gaan suip en hoer. Iewers het ‘n kers aan ‘n gordyn geraak en minute later was 5 kinders as verbrand nadat huilende bure mals probeer het om die deur oop te breek. Die oudste van die vermoordes, 5 jaar oud, moes na haar boeties en sussies, die jongste 4 maande, omsien.

    Daar is Gansbaai se perlemoenpoacher-koningin wat ‘n 5-jarige dogtertjie, sonder haar ouers se toestemming, op ‘n rubberduck vol gesuipte bliksems ter see geneem en agtergelaat het toe die kind afgeval het.

    In Greyton is ‘n dogtertjie gestuur om koopkrag by ‘n winkel net om die hoek van haar woning te gaan koop. Die volgende dag is verkragte, verskeurde liggaampie in ‘n sloot gevind. Die polise het die saak opgemors en hoewel die moordernaars bekend is, stap hul skotvry rond.

    En die media blackout werk nie; snags as ek na my 4-jarige kyk huil ek oor Shirene van Gansbaai en Lucelle van Greyton.

  10. Ons is definitief te ingeprop met al die inligting wat binne sekondes om die wêreld kan gaan.Dis hartseer dat gekonnekteerdheid eintlik die mens diskonnekteer van sy werklike omgewing,soos jy tereg verwys na die kinders wat doodvries.

  11. Hartroerend…Hartverskeurend…Hartseer…

    Vanaf die eerste oomblik wat mens jou eie kind vir die eerste keer in jou arms hou, kruip jou hart & siel uit hulle veilige vestings en kom sit – oop en bloot, kordaat, vewese, weerloos, angsbevange – op jou mou… Vir altyd en vir ewig.

    En daar is NIKS op hierdie aarde onder hierdie son wat mens kan doen om hulletwee te maak terugklim na waar hulle vandaan gekom het nie.

  12. Ai man. Was die lewe altyd so? Was ons net te klein, te jonk, te dom? DIt voel vir my ek cope al hoe minder met alles. Maar dis omdat ons van alles hoor nou.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s