Een ou se alikreukel is ‘n ander ou se mieliepap

Ek lees nou op Niël Stemmet se blog sy resep vir alikreukel. Die eerste en enigste keer wat ek alikreukel geëet het was op Franskraal, in die Desembervakansie voor die Groot Y2K-rekenaarverdonkering, wat toe nooit plaasgevind het nie.

Dit was inderdaad een van die vreemdste vakansies van my lewe, die een voor Y2K se nuwejaarsaand. Daardie Desember het vir my ‘n skeiding tussen ‘n ou en nuwe lewe gebring.

Voor daardie Desember (en in hom) het my lewe meestal bestaan uit baie dom keuses maak, en die gemors opvee na die tyd. Ek was ‘n jong, naiewe vrou wat soms agteroorgebuig het, haar beginsels prysgegee het om liefde te wen.

It.Did. Not. Work.

Die meeste van daardie tyd se stories hoort op ‘n biegblad, so ek gaan eerder hier skryf oor my vreemde ervaring met die alikreukel-mense, daardie Desember-vakansie.

Ons het by mense aangekom (vriende van vriende) se huis op Franskraal. Ek was net saam, dit was ‘n vakansie waar ek meestal nie in beheer was van my eie lot nie. Of nog nie besef het ek kan beheer neem van my eie lot nie.

Pas aangekom by die vreemde mense, het die dogter van die huismense (sy was omtrent my ouderdom) my aanhou aanstaar asof ek van ‘n ander planeet kom.  Later het sy opgespring en haar ma luidkeels geroep: “Ma! Ma! Kom hier!” Dit het dringend geklink.

Haar ma het die sitkamer ingekom, na my gekyk en dadelik vir my gevra of ek van Kroonstad af kom en of ek familie van die Serfonteins was. Dit was die eerste keer in my lewe wat ek die mense ontmoet het.

“Ja,” het ek geantwoord. “Ek is familie van die Serfonteins.” Inderdaad, my grootoumagrootjie was ‘n nooi Serfontein, ons (nou heengegane) familieplaas was van haar pa af. Die dam langs die plaas is na hom vernoem.

Ook het ek en die ma (wat toe nou ook Serfontein-bloed in haar het) op ‘n druppel na mekaar gelyk. Dié dat die dogter my so aangestaar het. Seker gereken ek is weggegee by geboorte.

Interessant genoeg, die einste dogter werk as verslaggewer, so skryfbloed loop.

Nadat daar toe familie uitgelê is, het die ma aangedring ek moet saam gaan alikreukel uithaal. Dit was vir my, ‘n gebore en getoë Vrystater, een van die vreemdste ervarings wat ek tot hede gehad het. Dis seker net so goed jy vra ‘n Kapenaar om mielies te pluk.

Die branders, die snorkels, die rotse, die soutwater in die neus op. Het net nie vir my gewerk nie.

Ek onthou hoe spulletjie, gaar, my ook laat gril het. Hoe ek die reuk nie kon hanteer nie, en hoe my maag draaie gemaak het toe ek dit in my mond sit en sluk. Ek skat ‘n mens moet daarmee grootword om dit werklik te geniet. Ek reken dit het min of meer dieselfde uitwerking op my gehad as wat mieliepap op Kapenaars het.

Die les wat ek daardie vakansie geleer het: Ware liefde is onselfsugtig. ‘n Mens kan jou eie lot bepaal, en dis beter om dit te doen. ‘n Mens het oral familie, veral daar waar jy dit nie verwag nie.

En belangrikste van alles: Een ou se alikreukel is ‘n ander ou se mieliepap.

 

 

10 thoughts on “Een ou se alikreukel is ‘n ander ou se mieliepap

  1. Baie lief vir alikreukel, alhoewel ek dit eintlik nie meer eet nie omdat die see leeggedra is. In my kinderjare het ons dit uitgehaal, sommer in die poele, sonder snorkel en sonder seewater in die neus.

  2. ‘n Arikruk lyk so: http://fotoskool.co.za/photo/arikruk?xg_source=activity

    En ja, in die Kaap roep ons dit eintlik arikruk. Jy moet dit maal en lekker sout en peper en braai. En saam met rys eet. En net so vir die rekord, hierdie Kapenaar, gebore en getoë, is nogal laf oor lekker stywe pap met tamatie-en-uie-sous daaroor, saam met ‘n vet skaaptjoppie. Net soos arikruk, is dit ‘n “acquired taste”😉

    • Jip, tannie Dot pas in, ons is veeeeeeeeeerlangs familie. Interessan, in daardie string familie, en daar is triljoene van hulle, is daar baie skrywers en joernaliste. My grootoumagroot, Grietjie Serfontein, was een van agt of nege kinders, Tannie Dot se ouma/oupa was een van daardies. Ek het die hele familie uitgelê op ‘n stadium, en ongelukkig die papiere vir een van die Serfonteins geleen en dit nooit weer teruggekry nie. (Go figure, hahah). Kroonstad is maar klein, en tannie Dot het mos ‘n boek geskryf oor almal en alles, so sy het presies geweet wie ek is, en wie my ouma-hulle was. Daar was (volgens familie-oorlewering) nie love lost tussen haar ma-hulle en my ouma-hulle nie, blykbaar. Eendag toe ek haar as jong verslaggewer moes afneem, sukkel ek vreeslik met die kamera. Sê sy vir my: “Julle Van der Merwes (my nooiensvan) was nog nooit vinnig met enigiets nie.”

  3. Dis hoekom die lewe seker nooit vervelig sal wees nie. Daar is soveel verrassings om elke hoek, as ons net wil kyk. Ware liefde sukkel ek nog mee – die regte definisie daarvoor. Maar beslis onselfsugtig. En dit beteken om niks terug te verwag nie. En tog verwag ek selfs soms van my kinders om iets te gee, al is ek onvoorwaardelik life vir hulle. Dit doen nie afbreek aan my liefde as daar nie teruggegee word nie, maar as mense wil ons tog aan die ontvangkant ook wees. Soms.

  4. Hoe lyk ‘n alikreukel?Ek is ook eerder ‘n mieliepapmens.Ek het tot die slotsom gekom dat visserige goed vrek sleg is en dat dit al die byvoegsels is,wat dit eetbaar maak.Oulik geskryf.

  5. Wel, wel, dis nou vir jou “toeval” hoor. Dis nou n mooi vergelyking tussen mielies(pap) en alikreukels.
    Ek verstaan nou hoekom jou pappegaai Trompie heet – Trompie en die Boksembende!Dis waar my Tompie se naam ook vandaan om

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s