‘n Nommer een skeer vir die siel

‘n Paar jaar gelede, kort na my ma se dood, het ek een snikhete somersdag op my sitkamerbank gelê en vergaan van die hitte.

Ek onthou hoe ek in daardie stadium min geweet het wat om my aangaan. Saam met die hitte buite – daardie snikkendheid wat hier by ons in die Vrystaat dikwels opbou tot ‘n donderstorm in die laatmiddag – was ‘n storm binne my ook aan die broei.

Ek onthou hoe ek my vingers van onder af deur my hare wou trek, en dit ongeveer een sentimeter van die worteldeel af vasgesteek het. Daar het ‘n verskriklike koek gesit. Dit was ‘n koek hare wat opgebou het weens weke se banklê-treur oor my ma se dood.

Dit was ‘n koek hare wat, soos wat die weke verbygegaan het en ek elke keer die sjampoebottel weggeskuif het vir die lyfseep in die stort, omdat ek nie kans gesien het om hom te ontrafel nie, met ‘n rekkie dieper vasgetem is.

Agter in die naap van my nek, waar ek die minste van hom bewus was.

Meisies met lang krulhare soos ek, weet van daardie soort koek. As hy eers loop sit het. Ja…. dan is daar nie verder juis iets oor hom te sê nie.

Ek het op daardie snikhete dag na die kombuis toe gestap en my man se skeerder uit die onderste laai gehaal. Ek het hom aangetref waar hy in die motorhuis besig was om te timmer aan sy eie verlangeprojek na sy skoonma, omdat hy haar werklik ook liefgehad het asof sy sy eie ma was.

(Dit ten spyte daarvan dat sy eendag aan die etenstafel vir hom gesê het: “As jy met my dogter getroud wil bly, sal jy moet weet wat om jou aangaan.” Of miskien as gevolg daarvan)

Ek het die skeerder vir hom gegee en gesê: “Nommer een asb.”

Hy het my opgestry nommer twee toe, maar het verder nie veel vrae gevra nie. Net geskeer.

Ek kan nie vandag juis onthou of daardie skeer regtig ‘n verskil gemaak het aan my verlange na my ma nie. Ek glo nie.

Ek weet ek het daarna nie veel gehad om agter weg te kruip nie, en dat ek honderde rande aan haarkappergeld bespaar het vir baie lank.

Ek onthou ook hoe ek uit iemand se reaksie oor die kapsel baie gou kon agterkom op watter vlak daardie mens funskioneer. Daar is niks soos ‘n goeie nommer een (of twee) skeer om mense se begripsvermoë bloot te lê nie.

Of die gebrek aan jou eie verduidelik-vermoë.

My antwoord het later net geword: “Ek het donners warm gekry.”

Soms kom daar tye dat jy, en aspekte van jou lewe, ‘n nommer een skeer nodig het. En ek weet net op die oomblik kry ek donners warm. Ten spyte daarvan dat dit koel is buite na die reën. 

4 thoughts on “‘n Nommer een skeer vir die siel

  1. Oopgeskeer.
    Soos jou woorde Murphy.
    Dalk is dit soos my hond wat oop-kettel lê in sy diepe wagter slaap. Dit is sonder pretensie. Laat my dink aan wattet knope die res van ons kan wegskeer.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s