Volksblad-rubriek: Die fyn kuns van toasted-broodjies

’n Entjie straataf van Volksblad op Kroonstad is Tannie Akropolis se kafee. Sy heet so, omdat haar kafee se naam so dikteer. Onlangs, toe die winterknyp die kantoor-eetkliere stimuleer, bied ek aan om soontoe te stap en “toasteds” te kry.

Sy is seker reeds so bietjie meer as ’n dekade in die klein perseeltjie langs die drinkplek, oorkant die apteek. So verneem ek van my eggenoot, wat homself as ’n roosterbroodjie-afficionado beskou. Dis nou weens die duisende kilometers wat hy elke maand landwyd aflê en sy gereelde besoeke aan dié soort eetplek.

Toe ek so omstreeks tienuur die oggend by haar kafee instap, sit ’n man en koerantlees by een van haar twee tafeltjies. Op die tafeltjies is plastiektafeldoeke.

Hy eet pap-en-stew, bedien in ’n bruin, geriffelde glasbord, met ’n regte mes en vurk.

Die sonnetjie lê ’n diagonale streep oor sy rug.

Ek bestel die proviand. Sorgvuldig haal sy haar brode uit die sakkie. In die kombuis staan die broodsnyer met die slingerhandvatsel. Daarmee sny sy elke dag tien of meer brode, elke snytjie presies dieselfde dikte.

Haar kaas en tamatieskyfies is netjies verpak in donkerblou Tupperbakke. Op elke broodjie kom een-en- ’n-halwe skyfie kaas, om die platkant heeltemal toe te maak.

Eers skraap sy die flat-toaster skoon. Pak elke broodjie sorgvuldig daarop. Mooi en presies. Rangskik die kaas bo-op, braai eers die tamatie effens. Sy hanteer die eierspaan behendig, soos sy dit al vir jare daagliks doen.

Die teller is af, nie eens meer by die muur ingeprop nie. Dit kom uit ’n ander era, afgetree vir nou. Moeg. Langs die teller lê ’n lyntjieboek, met vertikale lyne per hand afgetrek. Syfers, wat net vir die skrywer daarvan sin maak, is kolomsgewys ingevul.

Terwyl ek wag (want dis die moeite werd), maak die pap-en-stew-man klaar. Hy los sy bord op die tafel. Sy stap flink en dek die tafel af, vee dit skoon.

Buite roep ’n motorwag vir iemand in die straat: “Kom weg hier, vandag klap ek jou!”

Die broodjies sis op die rooster. Sy haal dit af en vou dit sorgvuldig in wit papier toe. Met ’n dubbelvoutjie aan die oop kant om dit af te rond, soos vir ’n piekniek.

Al die broodjies is presies ewe groot en rus behaaglik swaar op die handpalm.

Nadat ek my broodjie geëet het, het ek my Facebook en Twitter vir die res van die dag afgeskakel.

 

Soos verskyn in Volksblad van 3 Julie 2013.

10 thoughts on “Volksblad-rubriek: Die fyn kuns van toasted-broodjies

  1. Het hierdie een per ongeluk raakgelees. My pa het my geleer van Nolsbroodjies. Nols was die strokies karakter wat bekend was vir sy “Dagwood” broodjies. Sny brood kaas sny brood tamatie sny brood spek in die pan gebak sny brood gebakte eier en dan die laaste sny brood.

    In die weermag het on ‘n variasie genoem Bedford burger gemaak sny brood in lengte se boonste sesde af, hol uit en vul met mengsel van aartappelskyfies weense worsies kaas en tamatiesous. Sit deksel op en draii in foelie toe. Sit in papiersak en laal Bedfor se wiel oor hom loop. Onthul, sny in kwarte en geniet.

  2. hhhhmmm, snaaks ek is nie een wat van broodjies hou nie maar hierdie maak my nou honger, lank lank gelede het ek eendag saam klonkie gegaan waar hy ‘n rugby wedstryd moes speel, en daar by daai skooltjie was ‘n soortgelyke tannie met haar broodjies, en dit was hemels, al hou eki regtig van broodjies nie…….. wwweeee jy ek sommer nou lekker honger

  3. ahhh, dis nou een ding wat ek baie mis – ek kan nie regtig mee brood eet nie, maar het net nou die dag vir iemand gese ek mis so ‘n toastie. mooi geskryf … ek kon alles ‘sien’ voor my …🙂

  4. sulke kafees is die lekkerste. ons was een keer by so een op philippolis, baie netjies, met glasverstoonkaste (dink egter daar was goedkoop chineesvervaardigde goed in) en laaitjies en dinge. maar daar het ek ‘n bloutjie geloop. ek en my pa wou net iets vir die pad kry, en ek was toe al vegetaries (en maar te lank uit die land). ek bestel toe in alle onskuld ‘n hawaiian burger, en stel my hierdie heerlik gebraaide skyf pynappel saam slaai en tamatie op die broodjie voor. natuurlik kry ek toe ‘n hamburger met pynappel op! gelukkig was daar tjippies by vir my om te eet. die hamburger het dit tot by my tannie-hulle op vanderkloof gemaak, en daar het ‘n brak toe ‘n lekker aandete gekry!

  5. Mis ek nou Kroonstad se dae… dankie Murphy! Wat het van KTA se lekker hamburgers geword, hulle het darem baie gegly toe ek op die Poison Rally daar was laas jaar!

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s