‘n Panado-stropie maak mos alles reg? Hoe absurd.

Ek is 40. Of eintlik 41, maar wie tel nou?

Om een aand, terwyl jy na The Good Wife kyk, ‘n onverklaarbare pyn op jou bors te kry, soveel só dat jy voel jy gaan letterlik dood, val nie in jou raamwerk as jy 41 is nie.

Om dan te oorweeg of jy jouself hospitaal toe gaan ry of nie, want daar is nie iemand anders om dit te doen nie, grens aan die patetiese.

Om dan jouself met jou sesjarige tweeling se Panado-stroop te dokter om hulle nie wakker te maak en te ontstel nie, grens seker aan die absurde.

Sien, ek val vir ‘n redelike tydjie al in die spesie wat al hoe meer onder wit, Afrikaanse vroue in Suid-Afrika voorkom. Voltydswerkia Manweggia. Vrouens wie se mans lang tye weg werk van die huis af.

As jy ‘n joernalis in ‘n dagblad se buitekantoor is, val jy in die subspesie Alle-urewerkia Manweggia. No cellphone off, ooit.

As jy geen grootouers of sibbe tot jou beskikking het vir hulp nie, val jy in die subspesie…wel…wat kan ek sê? Steekjoukopinnieoondia?

Eersgenoemde spesie bestaan natuurlik onder alle ander bevolkingsgroepe ook, dekades al veral onder vroue wat in tuislande vir hul mans wag wat op myne in die stede gaan werk.

Hul sosiale strukture werk egter heeltemal anders, waar die konsep it takes a village to raise a child prakties uitgevoer word. Bietjie meer in teenstelling as ons Westerse vroue, waar elkeen min of meer aan sy eie lot en kinders oorgelaat word. Ek dalk meer as ander, weens my omstandighede.

Maar miskien ís dit net ek. Ek vra nie maklik hulp nie, bloot omdat dit in my aard is. Soms dwing mense hulp op my af, en ek is inniglik dankbaar daaroor.

Toe ek, drie dae ná die pyn-in-die-bors-insident, uiteindelik ingelig is dat ek ‘n angina gehad het op die rype ouderdom van 41, en dat ek hospitaal toe moes gaan vir toetse, was ek verstom deur hoeveel mense hulp aangebied het, en watter vorme die hulpaanbiedinge aangeneem het.

Van geldelike hulp, tot om na die kinders te kyk, tot die inpak van toebroodjies vir die kinders skool toe.

Om terug te keer na die spesie waarna ek vroeër verwys het, die Afrikaanse vrou met ‘n man wat wegwerk. Hoe meer ek bedag is hierop, hoe meer van hulle loop ek raak. En daar is talle, selfs in die klein dorpie waar ek woon.

Nou die dag sit ek in die hof, en ek lyk seker soos ‘n uitgewaste waslap, want een vrou storm my.

Ek het vroeër die oggend ‘n lekker tjanksessie deurgewerk, want my man het vir die derde (nie-agtereenvolgende) aand in vyf weke tuis geslaap, hoofsaaklik om iewers net kookkos in sy lyf te kry en wasgoed te laat was.

Toe hy die oggend ry, het een van die tweeling hom om die been vasgehou en gevra hoeveel slapies hy dié keer gaan weggaan.

Dit het my damwal sommer gebreek.

Toe ek myself uitendelik onder beheer het (een van die rolle van die spesie Manweggia, is dat jy altyd pose hou voor die kinders, veral as hulle nog klein is.) en ek by die hof kom, het een van die vroue wat by die hof werk, gesien iets is nie lekker nie.

Toe ek en sy gesels, het sy my vertel dat haar man al vir agt jaar so weg werk. Hy rig selfoonmaste vir ‘n Chinese maatskapy op, nadat hy deur Telkom ge-affirmative is.

“Dis ‘n kopskuif,” sê sy. “Jy gaan hom moet maak, anders gaan jy mal word. Jy gaan breek. En as jy nie lag nie, en die humor in dit raaksien nie, sal jou gesin dit nie maak nie. Ek sê altyd vir mense die enigste rede hoekom ek en my man nog getroud is, is OMDAT hy so baie weg is,” lag sy lekker.

Daaroor kan ek getuig, want as jou inkomste grotendeels afhanklik is van die feit dat jou man kontrakwerk kry, beteken die tye wat hy tuis is, letterlilk geen inkomste nie. En dit lei weer tot sy eie soorte konflik. Die enigste werk wat dan gedoen word, is op mekaar se senuwees.

Dis ‘n groot catch 22.

Wat ek egter nou die dag oor wonder, is hoe dit ‘n groot gros kinders beïnvloed, om so ongereeld ‘n pa te hê. Wat gaan die uiteinde daarvan wees? Is dit maar dieselfde as kinders wat uit ‘n ”geskeide” huis te kom? Of is dit anders?

Al wat ek weet, is dat my agting vir enkelma’s deur die dak gestyg het. You girls rock.

En julle girls wat twee stelle ouma’s tot julle beskikking het, voltydse huiswerkers het, ”werkloos” tuis sit en in koffiewinkels uithang. Tel julle blerrie seëninge.

6 thoughts on “‘n Panado-stropie maak mos alles reg? Hoe absurd.

  1. Ek besef hoe bevoorreg ek was dat ek nie ‘n manweggia gehad het nie en haal ook my hoed af vir al jul susters wat so alleen, vir watter rede ookal jul krosie moet grootmaak. Dis goed dat jy hierdie platform gebruik om dit te deel – ek vertrou dat gee baie ander moed. As ek nou nader was (waar jy ookal is) sou ek oorkom en vir jou en die kinders pannekoekbak en vir stories lees (in ‘n gemaakte tent met krismisliggies in) terwyl jy lekkerlê in ‘n warmbad by kersleg. Sê tog groete vir mania ook.

  2. Jy sal verstom wees hoeveel kinders verstaan van ‘n situasie. (Probeer gerus iets vir hulle wegsteek🙂 ) Ek glo soos Flenters dat dit wel beter sal word, maar dit is ‘n baie slegte situasie om in te wees, sterkte en groete aan die tweeling xxx

  3. Jislaai, nee. Dis niks lekker om so te moet leef nie. Byt vas. Die kwaad sal verander in goed, die morelig skyn deur die duister. Of enige ander onsinnige versie wat dieselfde sentiment deel. Kyk mooi na jouself en aanvaar ander se hulp. Dit laat hulle goed voel om te help, en so doen jy ‘n goeie daad.

  4. Jy het genoeg om jou oor te kwel (as dit die regte woord is) moenie nog bekommerd wees oor die uitwerking op die kinders nie. Dis nie die opbreek van ‘n gesin nie en hulle verstaan op hulle manier dis om logistieke redes. Julle bly ‘n gesin. Dis nie soos ‘n egskeiding nie.
    Sterkte.

  5. Laat jy my nou traan so op ‘n Sondagoggend. Alleen kinders grootmaak donder maar. Ek was bevoorreg om ‘n ma en stiefpa en suster te hê. Vandag nog is my kinders die familie se kinders. Almal mag gedissiplineer het, gelukkig was almal se waardes dieselfde. Die kopskuif was by my as na om te laat los. Sterkte. Its not a walk in the park.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s