As jy ondeund is, moenie uitgevang word nie. Brief aan die tweeling op hul eerste skooldag – Volksblad

n Brief aan my kinders, die tweeling Jan-Willem en Lodewyk Jordaan, wat vandag hul skoolloopbaan aan Sentrale Volkskool op Kroonstad begin:

Beste Jan-Willem en Lodewyk,

Wanneer julle vandag jul eerste treë as graad eentjies op die stoepe van die skool gee, loop julle op spore wat jul voorgeslagte meer as 100 jaar al hier trap.

Die tweeling se ouma- en oupagrootjie, Myrtle en Jan van der Merwe, afgeneem naby die parlement in Kaapstad, waar hy LV vir Kroonstad was. Hulle was albei in Sentrale Volkskool.

Die tweeling se ouma- en oupagrootjie, Myrtle en Jan van der Merwe, afgeneem naby die parlement in Kaapstad, waar hy LV vir Kroonstad was. Hulle was albei in Sentrale Volkskool.

Jul oupagrootjie, Jan van der Merwe, en oumagrootjie, Myrtle (gebore Holmes), was albei in dié laerskool.

Jul oupagroot het ek nooit geken nie, omdat hy dood is lank voordat ek gebore is. Maar ek het gesien hoe ’n goeie man hy was in briewe van hom wat ek onder in ’n kas gekry het. Daarin help hy mense van die dorp.

Jul oumagroot was ’n statige vrou. Ek onthou hoe sy die klokkie aan etenstafel gelui het vir die kos om bedien te word en hoe sy my met groot oë aangekyk het as ek met my elmboë op die tafel gesit het. Sy het haar beter maniere altyd aan haar Engelse bloed toegeskryf. So gebruik asseblief dié sestiende van jul herkoms in die skool.

Sy het as 14-jarige meisie in 1929 haar laerskoolloopbaan by Senties voltooi.

Hul oumagrootjie se sertifikaat van voltooiing aan  Sentrale Volkskool in 1929.

Hul oumagrootjie se sertifikaat van voltooiing aan Sentrale Volkskool in 1929.

Oupagroot Jan moes ongeveer in 1915 sy matriek hier voltooi het (die skool was toe nog ’n gekombineerde laer- en hoërskool), as ek reg skat. Hy was baie ouer as jul oumagroot en het as peuter die Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekamp op Kroonstad oorleef. Julle sal nog later van daardie oorlog leer.

Hy het later Volksraadslid geword, wat jul grênd oumagroot natuurlik nóg grênder gemaak het.

Hul enigste seun en my pa, Carl Lodewyk van der Merwe, het in 1953 sy laerskoolloopbaan voltooi by Senties. Die skool het in daardie jare, en járe daarna nog, as Parravlei bekend gestaan.

Hy het iewers in die 1970’s Senties se swembad gebou. Dit was die eerste en enigste skool in die dorp wat ’n regte oefenswembad mét bane gehad het. Dit is onlangs toegegooi en in ’n krieketveld omgeskep, wat my nogal tot droewigheid gestem het. Daardie soort gevoel sal julle ook later verstaan.

Die tweeling se oupa, Carl Lodewyk van der Merwe, poseer hier in sy skoolklere van Sentrale Volkskool met sy pa, Jan, se pyp. Die foto moes in die vroeë 1950’s geneem gewees het.

Die tweeling se oupa, Carl Lodewyk van der Merwe, poseer hier in sy skoolklere van Sentrale Volkskool met sy pa, Jan, se pyp. Die foto moes in die vroeë 1950’s geneem gewees het.

 

Geniet dit net eers om ses te wees.

Ek was in 1984 hoofmeisie van Senties en kan met sekerheid vir julle sê, hoofseuns en hoofmeisies is ook maar lekker bang vir die skoolhoof, al lyk dit nie so nie.

Ek onthou hoe ek een jaar groot moeilikheid gehad het omdat ek Meneer Swanepoel, my wetenskap-onnie, se sleutels op die laaste skooldag agter sy laboratoriumbank weggesteek het. Hy het die hele Desembervakansie daarna gesoek. Hy het my jare daarna nog elke keer as hy my sien daaraan herinner, selfs nadat ek ’n grootmens geword het.

As julle dus wil ondeund wees, moenie uitgevang word nie.

Slegs ’n paar onderwysers wat vir my skoolgehou het, is steeds daar.

Een van hulle is Ebe Badenhorst, destyds die biblioteekjuffrou, wat my liefde vir boeke en lees aangemoedig het. Ek hoop sy doen dieselfde vir julle.

Julle oupagroot, oumagroot en oupa is vandag weg, maar ek wéét julle gaan hul skoene volstaan.

Geniet die skool!

Julle mamma, Marlene.

 

Die tweeling Lodewyk (links) en Jan-Willem Jordaan, wat vandag gr. 1 toe gaan in Sentrale Volkskool op Kroonstad. Hulle is die vierde geslag wat na dié skool toe gaan in die familie

Die tweeling Lodewyk (links) en Jan-Willem Jordaan, wat vandag gr. 1 toe gaan in Sentrale Volkskool op Kroonstad. Hulle is die vierde geslag wat na dié skool toe gaan in die familie

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gepubliseer in Volksblad van 9 Januarie 2013, die tweeling se eerste skooldag.

20 thoughts on “As jy ondeund is, moenie uitgevang word nie. Brief aan die tweeling op hul eerste skooldag – Volksblad

  1. Dis wonderlik dat Senties na al die jare nog so goed aangaan en ‘n voorslagskool is. Ek was bevoorreg om in 1998 by die 90 jarige viering die diens in die NG Kerk Kroonstad Noord te lei. Ek is bly om te hoor dat Border tennisklub nog bestaan. In my skooldae was daar ses tennisklubs in Kroonstad: Wanderers, Border, Spoorweg, Vooruitsig, Kroonheuwel en Suidrand. Toe hulle Wanderers se bane verbeter en nog aangebou het het ons vir ‘n lang tyd spoorwegklub se bane gebruik en ek onthou nog hoe sleg was dit in die roetomgewing en hoe gou die balle swart geword het soos die roetlaag po die bane was. En nou is wanderers tot niet. So sterf tennis op baie plekke. Ons bly op die grens van Amerika en ek is ‘n lid van die USTA en speel toernooie in Michigan. Tennis is lewend in Amerika en groot geld word in tennis ingepomp. Van die oorde waar ons speel het vyf bane onder dak. Die University of Michigan het 12 buitebane van USTA standaard en ‘n klomp onderdakbane.

  2. Was baie lekker om dit te lees. Was ook in Parravlei en in my tyd is daai 25m swembad in gebruik geneem. Jammer dis toegegooi. Ek en my ouers het saam met jou ouma Myrtle en ma Marieta tennis by Wanderers gespeel. Mnr Swanepoel was my houtwerk onnie en tennis meneer. Wanderers Tennisklub het seker in die vroeg tagtigs tot niet gegaan.

    • Baie dankie vir die kommentaar. Dit is ‘n riem onder die hart. Ja, van die gedeelte waar die tennisbaan was, is niks meer oor nie. Dit is nou ‘n dierepark met ‘n paar donkies en perde.

  3. Mooi brief! My Oupa, Jim Fowler, was skoolhoof van een van die twee ho-erskole daar, daar’s ‘n straat na hom vernoem. Ek vergeet egter of dit die Blou-skool of die Rooi-skool was waarvan hy skoolhoof was. (Ek dink hy was ook vir ‘n ruk lank burgemeester, maar ek onthou nie meer als nie. Ek het hom nooit geken nie.)

      • As jy kan, Murphy, sal dit nice wees. Die een kant van die familie en die ander kant deel nou al jare lank nie juis inliging met mekaar nie🙂 En ek sit bietjie ver van Kroonstad af… Ek het egter verstaan hy was blykbaar goed in sy werk, maar baie beneuk.

  4. Kom mos ook van daardie wêreld af. Buurdorp Lichtenburg. Het baie teen Sannieshof rugby gespeel.
    Ek glo die manne sal dit oorleef. Is teelaarde vir tawwe manne daar in die ou Wes-Transvaal.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s