Krampe en blaasinfeksie. “Openbare” gesondheidsorg in die platteland.

Gister sit ek in die apteek en wag vir ‘n voorskrif. Vra maar enige joernalis, as jy nie op pille is nie, is jy op drank. Kies maar. Die wat meer as 20 jaar in die beroep is, is meestal op albei.

Hoekom ek juis na daardie apteek toe gegaan het, weet ek nie. Die enigste rede waaraan ek kan dink is dat dit reg om die hoek van my dokter is en ek haastig was om die tweeling te gaan haal. Want enige ander redeeming rede is daar nie.

Ek was doodseker die tweeling het in daardie stadium sonder twyfel hul maatjie by wie hulle vir die middag gekuier het, se ma amper al  tot mesmoord gedryf.

So sit ek toe op die gekraakte vinielbanke tussen menige ander kranklikes, lui vlieë en somerverkouekieme, en die horsosie tik tik tik verby. Daar is nie eens ‘n dakwaaier wat die vlieë bietjie kan spoed gee nie.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

‘n Tannie met krukke en perserige hare sit langs my en ek sien hoe sy my oog probeer vang. Seker sodat sy kan kla oor hoe lank ons wag vir ons medisyne. Ek vermy haar, want ek is bang my damwal breek en steek my Boere-voorsate in die skande.

‘n Vrou wat duidelik al voorheen van dié spesifieke apteek se dienste gebruik gemaak het, kom in. Sy het vroeër die middag al haar voorskrif ingedien, en het seer sekerlik toe haar maandelikse groceries gaan koop, haarsalon toe gegaan, haar naels gaan doen en haar kranklike skoonpa vir ‘n skuifeling langs die rivier gaan neem. Ek wed enigeen net kort voor sy terug is, het hulle haar voorskrif klaar gemaak.

“Watse krampe het jy?” vra die vroue-apteker vir haar. Almal kan dit hoor.

“Gewone krampe.” sê die vrou, sag(erig).

“Ja, maar is dit maagkrampe, menstruasiekrampe, spierkrampe…WAT?”

Teen die tyd tik die horlosie so bietjie vinniger, want die spanningslyn van die sepie begin optel.

“Nee, gewone krampe, soos in in my bene. Die vrou voor by die dokter se ontvangs het  gesê ek moet iets met magnesium en kalsium in kry.”

“Hm.” Die suur apteker trek haar neus op ‘n plooi. “Ja, want hier staan nou net: Iets vir krampe. HOE moet ek nou weet WATSE krampe, en toe’s jy nou nie hier nie, jy’t mos toe nou net die voorskrif gelos, met dié briefie aan.” (Dit  blyk ekstra nota te wees wat aan die dokter se voorskrif vasgekram is, deur said ontvangsdame/krampkundige). Op die Hoe en die Watse skud sy die briefie.

“Goed, ek kry die regte goed. Gaan staan solank in die ry. Ek bring dit vir jou daar.”

Die apteker gee die bakkie met die voorskrifgoed wat sy reeds vroeër ingesit het, en gaan krap agter in die Plek Waar Niemand Behalwe Die Apteker Toegelaat Word Nie.

Die klant en haar pre-teen dogter, wat tot dusver tjoepstil en bewerig langs haar ma gestaan het, maak groot oë vir mekaar agter die apteker se rug.

Hulle gaan staan in die (lang) ry.

Skielik weergalm die apteker se stem deur die vertrek, dóér agter uit die rakke uit en almal se koppe ruk van skrik.

“SÊ MY, HET JY BLAASINFEKSIE OOK????”

17 thoughts on “Krampe en blaasinfeksie. “Openbare” gesondheidsorg in die platteland.

  1. Murphy, al wat ek kan voorstel is Lennon’s se medisyne. Hier waar ek bly is geen dokter of apteker nie (goddank?) en so jy’s op jouself aangewese vir jou gesondheid. Die (enigste) winkel hier verkoop egter Lennon’s. Dit werk, vir my. Good luck.

  2. Ek probeer so half onthou waar dit mag wees en die vroëe ervaringe van apteek toe gaan “come flooding back!” Goed geskryf om dit weer lewend te maak in my geestesoog Murphy!

  3. Man, nou’t ek heerlik verdomp gelag….. iets wat my in angs laat verkeer as mens( soms )binne ‘n Bank moet wees en deur ‘n glaspaneel moet praat, en die een agter die paneel hoor nie en jy moet so harddd praat, ” MAAR DIT IS AL VIR 40 JAAR MY HANDTEKENING!” ..nee hul glo jou nie, en dan kyk almal in die ry na die vrou wat moontlik , miskien , aldan nie – ‘n skelm blyk te wees.
    Heerlik gelees.

    • Dankie Dirkie, ek is ook iemand wat net so anoniem as moontlik in die openbaar wil bly. My man sal soms moedswillig wees en byvoorbeeld vir afslag op die slaptjips in KFC vra. Net sodat ek in die grond kan wegsink.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s