My ouma se Kersfees-skoene – Volksblad

Kersfees-storie vir Volksblad van 22 Desember 2012

Kersfees: Mooi, fraai skoene was ouma nie beskore

Marlene Jordaan

WANNEER my ouma Kerstyd die koekroller by die kombuistafel oor deeg laat dreun het soos net sý kon, het ek as kind onder die tafel gelê en my deur die woerrr-woerr-woerr laat sus.

Dan het ek gewoonlik met my kop op haar spesiale ortopediese skoene gaan lê soos dit onder die tafel ingesteek het. Hulle was swart, lelik en groot. Stewig en sterk opgebou, net reg vir ’n lomerige kleindogtertjie-kop.

As dit later stil geword het, het ek geweet sy gaan nou-nou my kop met die ronde, versterkte voorpunt van haar skoen oplig en my vra om die koekiedrukkers te gaan haal.

Dan het ek, neffens die vleismeul en die worsmasjien onder in die kombuiskas, die bruin kartonboks met die koekiedrukkers in uitgehaal.

Ek het dan, soos elke jaar vantevore, die vorms vir die soetkoekies uitgekies. Sterre en harte, sirkels met geriffelde rante en natúúrlik miniatuur-Kersboompies. Soms miskien ’n haas of eend, maar net by uitsondering, want dit was eintlik vir die verjaardagkoekies.

Later van tyd het ek gewonder hoekom sy sulke skoene moet dra. Niemand het daaroor gepraat nie. Dit was deel van haar, soos die reuk van oliekolonie en vloerpolitoer.

My ma het my, ná ’n gekerm, vertel: My ouma het as jong vrou in die 1940’s op hul stoep met sy blink gepoetste rooi vloer gegly toe my ma se boetie sy albasters daarop vergeet het.

Sy het haar een enkel gebreek. Die dokter wat haar geopereer het, het gruwelik verbrou en daaropvolgende operasies het tot meer brouwerk gelei.

Einde ten laaste het haar ander voet heeltemal krom getrek om aan te pas by die een wat stukkend geopereer is.

Dekades lank het sy só geloop. Geskuifel, eintlik.

Mooi, vroulike, fyn skoene was haar nooit weer beskore nie. Stap in die dorp was haas onmoontlik.

Kort voor Kersfees in 1981 het sy haar ortopediese skoene gekry: ’n Geskenk van haar kinders. ’n Skoenmaker in Pretoria het dit spesiaal, op plan van die dokter, vir haar gebou.

Ek onthou hoe ek as tienjarige om die kamer se deur geloer en gesien het hoe sy hartverskeurend op haar bed sit en huil oor hulle so lelik was.

Maar hoe sy ook stil geword het toe sy dit aantrek en haar eerste paar tree gee. Hoe my ma se skouers geruk het van huil-lag.

Dié skoene was haar anker. Vir die eerste keer in 35 jaar kon my ouma amper normaal loop.

Die “bruggies” van sement tussen die straat se ryvlak en sypaadjies by voetgangeroorgange op Kroonstad is later in die 1980’s gebou, te danke aan my ma se aanhoudende en jare lange veldtog by die stadsraad sodat my ouma net in die dorp die straat kan oorsteek.

Later van tyd, soos die skoene se stewigheid begin gaan het, het die koekies minder geword en ek het aanbeweeg onder die tafel uit.

Sy wou nie nog ’n paar gehad het nie, al wou ons koop.

“My kind, ’n mens kan net een keer in jou lewe vrede maak om sulke lelike skoene vir Kersfees te kry,” was haar antwoord.

– Volksblad

http://www.volksblad.com/Bonus/Nuus/Kersfees-Mooi-fraai-skoene-was-ouma-nie-beskore-20121221

4 thoughts on “My ouma se Kersfees-skoene – Volksblad

  1. Wow Marlene, uit jou hart geskryf oor die mense in jou hart. Dit is stunning geskryf. Daardie vroee herinneringe van oumas en oupas en plaaskombuise moet meer aandag en erkenning in ons stories kry. Jy laat my nou sommer verlang na my oumas en hulle onderskei boere en duitse kombuise en alles wat daar gebak en gebrou was. Van skuinskoek en afval tot marzipam en gerookte vleise.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s