Onverteerbare verlies, as jy van binne af buite toe begin werk.

Terwyl ‘n kollega sy jaarlikse maandlange Sabbatsreis deur elke antiekwinkel in die Wes-Kaap neem, en ek vir die volgende maand so bietjie harder gaan moet werk om sy gaatjie vol te maak, dink ek aan die afgelope jaar wat verby is.

‘n Jaar gelede, het ek weer myself na ‘n breek van bykans sewe jaar terug in die koerantwêreld begewe. Dit eintlik soos baaisiekel ry, het ek agtergekom.

Skaars ‘n week nadat ek begin werk het, het ‘n geweldige tragedie ‘n gesin op ‘n dorpie naby my getref.

‘n Ma het albei haar klein seuntjies in ‘n ongeluk verloor, en ek moes daaroor berig.

Met groot trepidasie het ek die telefoon opgetel, ‘n paar oproepe gemaak en uiteindelik by haar uitgekom via ‘n susterskind. Heel onverwags. (Ek het eintlik die niggie gebel om die mamma se nommer te kry, toe sy vir my sê: “Hou aan, sy staan hier langs my.”)

En skielik moes ek met iemand praat wie se lewe die vorige aand onherroeplik verander het. Nooit weer sou dié vrou die voorreg hê om haar twee seuns teen haar vas te druk, soos wat ek pas daardie oggend gedoen het voordat ek werk toe is nie.

Ek onthou hoe sy gehuil het aan die ander kant, soms só dat ek glad nie kon hoor wat sy sê nie, hoe ek te sleg gevoel het om elke keer “ekskuus?” te sê.

Ek moes begrafnis toe, om dit af te neem. Ek het eenkant op die galery gesit, weg van die mense, dalk omdat ek nog nie seker was of ek myself heeltemal wil terug begewe in dié hartseer en rou wat so dikwels met hierdie werk gepaard gaan nie.

Kort daarna het ek en die vrou facebook-vriende geword. In lyn met haar oop geaardheid het sy selfs al vir my ‘n foto gestuur wat iemand van MY op die begrafnis geneem het,

Ek volg haar rouproses nog elke keer wanneer sy skryf oor hoe sy sommige dae nie kan aangaan met haar lewe nie, sonder haar seuns.

Soms inbox ons mekaar, oor ander dinge.

Oor ‘n week of wat is dit ‘n jaar sedert haar seuns weg is. Ek gaan daar wees wanneer hulle ballonne gaan loslaat op die plek waar die ongeluk gebeur het. Ek sal iets daaroor skryf, vir die koerant.

Maar wanneer ek volgende jaar my eie twee seuns se nuwe skoolklere aantrek en hulle vir die eerste keer deur die skoolhekke stap, wéét ek gaan ek aan haar dink.

 

 

 

 

 

12 thoughts on “Onverteerbare verlies, as jy van binne af buite toe begin werk.

  1. Liefste Marlene ek weet nie hoekom maar vanaand het ek net weer besluit om weer deur google te gaan en al die berigte te lees wat opgesit is van my twee rockers en kom toevalig op die storie af wat jy geskryf het ek het nie eers geweet nie my vriendin ek is in trane vanaand besef ek eers hoe erg dit vir jou ook moes gewees het dis glad nie n maklike werk wat jy doen nie maar vanaand wil ek vir jou dankie se vir elke tree wat jy saam ons stap dankie vir elke traan wat jy saam my stort en dankie vir al die mooi berigte wat jy vir ons rockers geplaas het ek het nooit gedink jy het ook soveel seer saam my gevoel nie en daarom sal ek altyd elke aand bid dat jy net die heel beste uit die lewe kry en dat dai twee seuntjies van jou vir jou net soveel vreugde geluk en liefde sal gee soos wat ons twee engeltjies vir ons gegee het en dat jy die vooreg sal he om hulle voor jou te sien groot word en hulle drome uitleef.baie lief vir jou xxx

  2. Thanks Murphy vir jou stunning skrywe oor hierdie ervaring. Dit raak my diep, maar hierdie is nie oor my nie.
    Wat ek wel graag wil sê is dat in jou beroep, soos in baie anders, word mense ontmoet in hulle diepste seer en donker. Dit is baie “real”. Daarom is ek dankbaar dat ek mense kan ontmoet deur my beroep, want daar is niks kunsmatig daarin as mense moet soek na nuwe werklikhede en betekenisse. Ek is dankbaar dat ek hulle in hierdie baie eerlike plekke mag ontmoet en saam met hulle mag reis na nuwe uitkomste. Iemand het eenmaal gesê dat kunstenaars mense is wat met hulle are oop loop. Dit is sekerlik waar dat dit nodig is om die wêreld rondom ons met sensitiwiteit te kan raaksien – maar dit kom ook met sy eie seer en die dinge wat in ons are kom sit.
    Sterkte Murphy!

  3. Miskien dink sy na hierdie jaar ook daaraan terug dat haar vriendskap met jou toe begin het en dalk het dit vir haar iets beteken dat dit juis JY was wat self twee seuns het, wat haar storie kon vertel.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s