‘n Kollektiewe sameswering teen vegetariërs – Volksblad-rubriek

Goeiemôre-rubriek, soos verskyn in Volksblad van 5 September 2012.

Marlene Jordaan

OM ’n vegetariër in die Vrystaat te wees, is soos om die enigste Cheetah-ondersteuner op ’n Bloubul-paviljoen te wees. Jy steek soos ’n seer duim uit, jy met jou eensame oranje vlaggie.
“Ownsome by your lonesome,” soos my ouma altyd gesê het.
Kollega Charles Smith het onlangs hier geskryf oor die heerlike kulinêre lewer- en longvreet-avonture wat met jag gepaard gaan.
Dit is eg Vrystaats, en iets waarmee ek ook grootgeword het, synde my pa elke winter al sy tjomme genooi het om die springbok- en blesbokbevolking op ons plaas uit te dun.
As kind het ek my oë styf toegeknyp as ek verbygestap het by die rye en rye slagsinkplate vol dooie bokke met starende oë en uitgerygde derms.
Een van daardie snaakse kwinkslae van die heelal het bepaal dat ek, in wie se mond vleis ná die tweede kouslag dik word, ’n beesplaas sou erf toe my pa oorlede is. Een van my diepste liefdes is die rooi Afrikanerbees. Dit is my hartsbees. Solank hy nie slagplaas toe hoef te gaan nie. Nodeloos om te sê ek was ’n patetiese beesboer.
Toe ek ’n paar jaar gelede besluit het om die vegetariërpad te loop, het ek min besef watter uitdaging gegewe my geografiese posisionering.
In die Vrystaat en Noord-Kaap reken die meeste mense mos ’n hoender is groente met vere aan. Sien jy met groot opgewondenheid in ’n restaurant dat daar ’n “v” langs sekere geregte staan, word jy gou afgebring aarde toe.
Hier bestaan eetplekke se idee van meer gesofistikeerde vegetariese geregte uit spinasie-en-feta-pizzas, spinasie-en-feta-quiche, spinasie-en-feta-tramezzini en spinasiepasta.
Ek vermoed die bedryf het kollektief saamgesweer om vegetariërs se ystertekorte uit te wis.
’n Bekende gesinsrestaurant het ’n vegetariese “platter”. Dit bestaan uit ’n paar van sy bykosse en ’n kaas-quiche saamgeflans op ’n bord.
Die quiche proe of dit sewe maande in die diepvries gelê het en op hoog opgewarm is, het ek onlangs ontdek.
Ek onthou hoe ek, in dramatiese ontsnappingspoging van spinasie, ’n ham-en-sampioen-fetuccini bestel het. Ek smeek hulle moet dit asseblief sonder die ham maak. En toe dit met die ham aankom, die kelner vir my vra of ek nie maar net rondom dit kan eet nie, want “dit gaan mos maar net oor die smaak, né, tannie?”
Red nou ’n nasie en red vegetariërs van spinasie.

http://www.volksblad.com/Rubrieke/Goeiemore/n-Kollektiewe-sameswering-teen-vegetariers-20120905

20 thoughts on “‘n Kollektiewe sameswering teen vegetariërs – Volksblad-rubriek

  1. Dis persoonlike keuse. Elkeen verdien seker maar sy plekkie in die son – solank die vleisie en veggie net nie begin lelik raak met mekaar nie. Ongelukkig gaan restaurante aanbied waarvoor daar die grootste vraag is.

  2. Pingback: Gevulde tamatie (is nie spinasie nie!) | Swartbelt vir diere

  3. Hahaha! Shame! Ek was vir ‘n ruk lank ‘n vegetarier…en onthou hoe ek elke keer my eie soja-‘vleisie’ na ‘n braai moes neem…en dan nog vra dat dit voor die vleis gaargemaak word….! En toe word ek vrek siek – was vier keer in minder as ses maande in die hospitaal…uiteinde…ek MOET vleis eet, want my liggaam het dit nodig. En let wel, ek het al die noddige ‘supplements’ gebruik wat ek moes.
    Ja wel…nou eet ek weer woes vleis en is mal, versot op my ‘fillet’! En ribbetjies. En ‘prawns’. Veral in Zambie…is erg beesvleis-wereld. Maar ek weet waardeur jy gaan…spinasie, spinasie, spinasie, soja, soja, soja! Hihihi!
    Sterkte!

  4. Ja, my pa het weer altyd gesê: Jy kan baie dinge van die Lewe sê, maar life is not fair. Jy roer my hartsnare met twee woorde – Vrystaat en Afrikanerbees (lg. vir my die simbool van iets waaraan ek graag klou, iets van ‘n vergange era). Self ‘n diereliefhebber (veral met ‘n lekker sousie) gaan my hart uit na julle mense met die Veg-vlaggies. Anderdag geproe aan ‘n quorne-tjoppie en besluit dat dit vir die mense in die tronke gevoer moet word. Misdaad in SA sal dramaties afneem.

  5. awesome blog!! mag die vrystaters se oë oop gaan! ek sê jou, hoe verbeeldingloos. en langsaan sit piet met sy steak saam soetpatats en broccoli à la suzanne. maar nee, hulle kan nie dink dat vegetariërs ook die patats en broccoli kan eet nie. toemaar, (nie so) lank gelede het vroue en swartes geen stemreg gehad nie. dinge verander, al is dit stadig. vasbyt!

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s