Hoe ek agter die kapstok weggekruip het, Dallas-style.

Ek onthou daardie wysie baie goed. Ta TAAAA ta TA ta ta tada TAAAAA.  Elke Dinsdagaand nege-uur.

Dan was hul dogtertjie mos lankal in droomland, het die twee Van der Merwe-ouers gereken. Veilig weg van die stomende avonture van die losbandige Southforkers, toegewikkel in my baba-plaaskombers.

Min het hulle geweet ek het, elke keer as die kenwysie begin speel het, saggies my deur oopgemaak, my asem opgehou en gang af gesluip. Tot agter die kapstok.

Daar kon ek, as ek net reg sit, die TV net-net by die hoekie van die gangmuur sien verbysteek, buite die oog van die Ouers.

Wanneer my pa opgestaan het om vir hom nog ‘n dop te gaan ingooi (dit was redelik gereeld), het ek tjoepstil gesit en gewag dat hy verbykom. Hoe later die aand, hoe minder die kans dat hy my gaan raaksien, het ek geweet.  Dan het ek saggies by die eetkamerdeur ingegelip en in die donker weggekruip tot hy weer terug was in sy gemakstoel.

So het ek Dallas vir jare gevolg. Later van tyd, toe ek groter was, het ek dit wettiglik gevolg, saam met my ma. Teen daardie tyd was my pa nie meer so baie by die huis nie, en my band met haar nouer.

Een van my lekkerste T-hemde was een met die woorde op: I Hate JR. Daar was nie ‘n mens wat nie geweet het wat daardie woorde beteken nie, en het vir my baie aandag besorg.

Nog later is ek koshuis toe, en ek onthou hoe die koshuisvader soms die ouer meisies toegelaat het om dit te kyk, maar net as ‘n spesiale vergunning. Dan het ons jonger meisies ook skelm deur die traprelings geloer.

Toe my ouers geskei is, het ek en my ma baie wat vir ons dierbaar was, agtergelaat op die plaas. Haar klipversameling het onder die boom by die agterdeur gebly, daar was nie plek vir dit by die meenthuis in die dorp nie. My twee boerboele het ook agtergebly.

Ons het egter nog steeds saam Dallas gekyk. Later ook ander shows, soos Murder She Wrote en LA Law. Later, wanneer ek van universiteit af teruggekom het, het ons baie keer die telefoon onbeantwoord gelaat wanneer ons een van ons ‘saamkykstories’ gekyk het.

Ek het my klein gemaak agter die linkerkantste sykant, om Dallas te kyk.

So, wanneer die deuntjie weer eersdaags op die TV speel, gaan ek ‘n spesiale herinnering in my hart hou. Die kapstok staan nou in my eie huis, en ek het nou self ‘n generasie wat eers nie mag kyk nie.

30 thoughts on “Hoe ek agter die kapstok weggekruip het, Dallas-style.

  1. Dis n mooi storie oor vergange se dae. Dit wat destyds verbode was vir kinders is soos n Sondagskoolpiekniek teenoor dit wat kinders deesdae ewe luiters saam met (of sonder) ma en pa sit en kyk. Dis ‘n storie oor Dallas wat soveel meer vertel as net die ooglopende- en terselfdertyd ‘n klomp vrae laat in die leser se gemoed.

  2. Ek is te jonk om Dallas te gekyk het, maar ek het wel iets soortgelyk gedoen. Ek was seker so 12 toe die 2de reeks van Agter Elke Man van 7:30-8:30 uitgesaai was. Die eerste reeks het ek gekyk, hy was teen 8:00 klaar. Maar my ouers het my agtuur bed toe gestuur, en daar was ‘n hoekie in die gang waarvandaan ek Liana, Ant Stienie, Bruce Beyers en Suzie – hulle se doen en late bekyk het wanneer ek halfpad in die storie kamer toe gestuur was…

    (Moet sê, ek reken my ouers was onredelik om my so vroeg bed toe te stuur. Ek was meeste oggende voor 5 wakker, dan moet ek my in stilte in my kamer vermaak om nie die slapendes te pla nie…)

  3. Ek het nie regtig die herrinnering van die reeks nie omdat ons eers heeeeeelwat later ‘n tv gekry het. almal by die skool het J.R. gehaat en almal het bobby se kant gekies. Die tannies by die kerk het baie oor miss ellie gesels maar ek moet bieg dat Victoria Principal my eerste liefde was.

  4. Hoe beny ek jou dat jy al as jongmens so baie moed gehad het, Murphy! Ek onthou hoe ek by elke rëel van huis, skool en kerk gehou het… Gevolglik het ek tien oor agt al gaan slaap wanneer die nuus begin – boy oh boy ken ek daai deuntjie! (ja, tot in matriek in 1982) en dus niks van Dallas geweet het nie. Tot vandag toe onthou ek hoe ek en my vriendin in die OK in Bloemfontein gesoek het na handsakke, en ek het haar nog gevra: hoekom dink jy die simpel een is soveel duurder as die ander? Dit was ‘n seil sak, met die woorde “I shot JR” op… my vriendin kan nou nog nie glo dat ek regtig-egtig nie geweet het wie of wat is JR nie… hehehe. Het jy nou weer boerboele?

    • Daardie ‘trait’ om so te maak, het my ook maar soms in die warm water laat beland, Gardiol. Ek het, die oomblik toe ek my eerste regte werk gehad het en ‘n huis met ‘n erf, (dit was ‘n kommune) het ek weer ‘n Boerboel aangeskaf. Dit was in 1995. Sedertdien het ek nog altyd een of meer op my erf gehad, tot verlede jaar, toe ons laaste een, Simba, dood is aan ouderdom. Toe ek later die jaar 40 geword het, het huisvriende van ons vir my ‘n Amstaff-hondjie as geskenk gegee, en ek moet sê, nog nooit het ek so ‘n oulike, dierbare, liefdevolle ding as troeteldier gehad nie. (Google hulle gerus, as jy dit nie ken nie) So vir eers is die Boerboel-tradisie gebreek. (En die Amstaff het vir my gewys dat Boerboele nou nie juis die skerpste potlode in die pakkie is nie🙂 )

  5. Ek het die storie gehaat. Hier in Brittanje word die hele reeks weer uitgesaai op een van die honderde kanale en as ek reg geluister het ook ‘n opvolg, met so paar karakters wat weer verskyning maak. JR is een van hulle.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s