Al drentelend, kletsend en kouend of…Volksblad-rubriek

My bydrae vir Goeiemôre in Volksblad, 21 Junie 2012.

Al drentelend, kletsend en kouend of…

Marlene Jordaan

MY man, wat ’n houtwerk-onderneming het, het pas die soveelste jong man wat by hom op proeftydperk gewerk het padaf gestuur, soos Kapenaars dit sou sê.

Sien, my man kom uit die era van weermag toe gaan en onder begin. Nie uit die tydvak van by ’n werk instap en ’n hoekkantoor en ’n voertuigtoelaag verwag nie.

Hy het, letterlik, toe hy as jong appy by een van die mees gesogte houtwerkfabrieke in die Kaap begin werk het, vir drie maande skroewe ingedraai en saagsels van die vloere gevee.

Nádat hy twee jaar in die weermag was.

As die baas, een van die gedugstes in die bedryf, die appies laat aantree het met die kaste wat hulle die dag gemaak het, het hul broeke gebewe. Hy het niks daarvan gedink om jou kas uitmekaar te klap as dit nie op standaard was nie.

Die ou oom se fabriek staan vandag nog, een van die grootstes in die land.

Maar so ’n kas-uitmekaarklappery is mos ’n menseregteskending, sal baie jongmense vandag sug.

Ongelukkig raak my man se geduld net op as hy onder ’n swaar toonbank lê en vir ’n sekere stuk gereedskap vra, en die jongetjie drentel-drentel kougomkouend gereedskapkis toe, terwyl hy die nuutste gesprek in sy MXit-kletskamer klaarmaak.

My man het ’n ander seun een keer laat begaan met die hoop dat hy iéwers uit die dieptes tussen sy afsakbroek en sy death metal-T-hemp die dryfkrag sal opdiep om self iets te doen.

Hy het vir ’n uur op sy selfoon gestaan en facebook. In die middel van die werkplek.

Die nuutste aanwins tot die arbeidsmark wat my man se werkwinkel onlangs betree het, is ’n jong man van 22 jaar wat in sy onderhoud sonder om te blik of te bloos gesê het hy sal die rowwe (en harde) konstruksie-ure werk wat van hom verwag word.

Ná die tweede dag vra hy my man vir ’n werk-selfoon. Die eerste naweek wat hy moet werk, kla hy dat hy nie sy meisie gaan sien nie.

Die volgende week vra hy of hy my man se bakkie kan leen om vir sy niggie te gaan kuier in Pretoria: “Dis nou as jy nie kan saamkom nie, as dit in werktyd is,” sê hy tegemoetkomend.

Vra jou af: Wat maak jou anders as die duisende ander jongmense wat werk soek? Getuig jou gees van leergierigheid, nederigheid en hardwerkendheid?

Of is swaarkry en opoffering, met die oog op sukses, vir jou ’n onbekende landskap?

http://www.volksblad.com/Rubrieke/Goeiemore/Al-drentelend-kletsend-en-kouend-of-20120620

31 thoughts on “Al drentelend, kletsend en kouend of…Volksblad-rubriek

  1. Dis die ouers se skuld, finish en klaar! Ek en my susters en broer moes opgehou asemhaal het voor my pa gedink het ons is siek genoeg om uit die skool te bly. Verder is ek grootgemaak dat mens moet werk vir wat jy wil hê en dat GEEN werk ‘n skande of benede ons is nie. En dis hoe ek my kinders grootgemaak het. My seun het, toe hy in die koshuis was, die panelbeater op die dorpie help lorries afskuur vir sakgeld. My meisiekind het naweke ge-waiter. Daar was een reël na my kinders klaargemaak het met studeer. . . My huis sal altyd plek hê vir julle, maar in my huis bly nie mense wat nie werk nie. Sorry!

    Vandag weet ek dat, maak nie saak wat se ander issues my kinders het nie, hulle kan altwee op hulle eie voete staan en hulle KEN van werk. Dit help nie mens kry jou kinders jammer en wil hulle die dinge gee wat jyself nooit gehad het nie en intussen maak jy ‘n slapgat van jou kind nie. Die wêreld gaan nie jou kind in watte toedraai nie, so jy doen hom of haar geen guns nie.

  2. Dit is ooral oor die wêreld dieselfde. Almal soek ‘n net “job”, maar nooit die werk nie. “Job” is makliker as werk. Gister ‘n toets skof gedoen in hotel hier in London. Laataand het ek amper my polse begin kerf met ‘n “sucker stokkie” van moedeloosheid. Die lus is maar net nie daar om te leer en goeie diens te lewer nie.

    Vir my is geduld ook maar net ‘n stadiger manier van my moer “strip”! Dit is hoekom ek sommer my sê sê voor ek kwaad word.

    • Dis ‘n universele probleem, grootliks te wyte aan kinders wat nie meer nodig het om hard saam met ouers te werk om die pot aan die kook te hou soos die generasie na die oorlog nie. En ook te wyte aan ouers wat in daardie generasie grootgeword het, baie hard gewerk het as kinders, en nou na die anderkant toe oorleun en kinders amper niks laat doen nie…my opinie. Gruwelike veralgemening, ek weet!

      • Dink nie so nie. Dit is wat ek ook waarneem. Moet bysê dat ons in Suid Afrika vir onsself ‘n gat gegrawe het. In die verlede is daar baie klem gelê om Universiteit toe te gaan om “goeie” werk te kry. Wat dit ook mag beteken. Ek dink die wonderlikste ding wat ooit in Suid Afrika was, was die ou technikons ipv universiteite. Meer praktiese toepassing van wat jy leer. Weet ingeneurs het makliker werk gekry as die universiteits persoon omdat hulle elke ses maande moes gaan prakties doen. Ek self is deur technikon en sal dit vir geen graad verruil nie. Ongelukkig het ons nuwe “regime” te verwyder omdat Diploma klink nie so “grênd” soos graad nie. Voel dat wat en waar jy werk ‘n rol speel in Suid Afrika om aanvaar te word. As mense weet watse werke ek al gedoen het omdat ek wou en ool soms moes, word ek verban uit meeste se huise en blogs.

  3. Hier by my het ons gisteraand by die werk afskeid geneem van een van ons jong Chileense bestuurders: ‘n Wonderlike persoon wat ongelooflik hard werk. Hier by ons het hy gou gevorder tot so ver as wat ons hom kon bevorder. Hy het nou ‘n baie senior, hoogs betaalde pos by ‘n ander groot maatskappy aanvaar en ek is regtig bly vir sy onthalwe. Sy pa is ‘n bakker. Hy staan elke more 3 uur op om te begin deeg knie en doen dit al meer as 40 jaar. Hy werk getrou 364 dae per jaar: Net Kersdag is sy enigste vakansiedag vir die jaar en dan is die bakkery gesluit.

    Ten spyte daarvan dat beide pa en seun hulself disnis werk in hul beroepe, straal daar ‘n lewensblyheid uit hulle wat ek nog by min ander mense teegekom het.

    Dis tyd dat meer jong mense weer die lekkerte van harde werk ontdek: Dit gee mens nie net bevrediging nie, maar ook selfrespek.

    • Hard werk is lekker. Daar is darem niks so lekker as om in die aand op die bank te val en te weet jy het regtig daardie dag alles ingesit nie. Dis jammer sommige jongmense besef dit nie. Dis iets wat in die ouerhuis aangeleer word.

  4. Ek is deesdae maar ‘n naweek stryder en na ‘n Saterdag se bou/sweis/houtwerk/karwerk is my lyf so seer dat ek Sondag skaars kan loop. Vakmanne staan elke oggend op en dan doen hulle dit weer alles van voor af, maak nie saak hoe seer die lyf en hoe laat die werk gisteraand aangegaan het nie. Dit is iets wat regte durf en deursettingsvermoë vat en wat ek selde sien in die twintigs/vroeg dertigs generasie, my jonger broer ‘n sprekende voorbeeld daarvan. Terloops, in die bou/konstruksiebedryf is die gemiddelde ouderdom van vakmanne nou al oor die 50jaar, en as die tendens in ander sektore dieselfde is, dan is ons ekononomie binnekort in rêrig diep moeilikheid.

    Die gee my/help my generasie kan eenvoudig nie met dieselfde werketiek kers vashou nie, waarom dit so is sal ek nie ‘n opninie oor waag nie.

    Vir die “old school” vakmanne daar buite, Nkosi!

    • Hey!!! Ek gaan dadelik jou kompliment aan Stilman oordra…my stiefseun is nou matriek. Hy kom die vakansie vir sy pa werk. Ek wil met hom praat en vir hom sê hoewel dit nie ‘n glamorous werk is nie, moet hy dit sterk oorweeg om deur sy pa opgelei te word en die besigheid eendag oor te neem. Opgeleide vakmanne gaan so in aanvraag word dat hy ‘n miljoenêr kan word oor 20 jaar deur shopfitting te doen, ek is doodseker daarvan.

    • Sy’t nou die dag geskryf oor ouers wat hule kinders konstant prys, self al is ‘n beduidende prestasie nie behaal nie. Ek dink ons as ouers moet daarteen waak (veral wat nog kleintjies het) om nie prysing en liefde met mekaar te verwar nie.

        • Ja, daai verskoning van “dis deel van die kind se weerbarstige geaardheid” of hy is maar net “temperamenteel” of “vurig van karakter.” Nee man, die kind is net donners stout!

  5. Onthou ek nou hoe ek moes vloere vee en lugreëlingfilters skoonmaak. Om onder op die vloer te begin leer jou harde werk en sukses waardeer. Sterkte vir die jong mense van vandag. Vir die wat wil, lê daar baie voor. Die ander moet maar deur sukkel en swaarkry hopelik leer arbeid adel. Enige eerlike arbeid.

    • Dis waar. Ek het in vakansitye by die biblioteek gewerk en boekrakke afgestof. Toe’t ek by die apteek gewerk en medisyne in die rakke gepak. Op varsity het ek by my pa se onderneming (hy’t geboer, maar het ook ‘n hardewarewinkel op die dorp gehad) gewerk in die vakansie, in die stoorkamer, waar ek ou kwitansies in boeke gestaple het en nie die son sien skyn het vir dae lank nie. Op goeie dae het hy my toegelaat om die skakelbord te antwoord.

      O ja, en ek het ook een jaar ‘n hele paar maande nadat ek geswot het en nie werk kon kry nie, in Mr Price gewerk, waar ek my eie maats moes bedien en my een groot skoolmaat my bestuurder was. Ek moes die skoene van die rakke pak, die skoene en die rakke was en weer terug pak, elke dag. Tot sy groot vermaak.

  6. Ek verstaan jou man se dilemma, en die trant van die artikel. Maar daai ou omie van die houtwerkfabriek kan ek nie bewonder nie. Hy is vir my in dieselfde klas as Mev. von Blinkerd van nou die dag se blog.

    • Ek hoor. Die ou man leef nog, en is uiters geliefd onder die inwoners van die dorp waar die fabriek staan. (Dis intussen verkoop aan van die mans wat as appies daar begin werk het).

      Die eienskap van hom wat deur my uitgelig is, was sy perfeksionisme in sy fabriek, omdat almal (100e werkers) se brood en botter daarvan afgehang het. Sy filantropiese werk is wyd bekend. Aldus my man.🙂

  7. Ek dink regtig nie daar’s hoop vir vandag se jong mense nie. (Nie die tipe hoop van gaan hulle werk kry of nie, die tipe hoop van gaan hulle hulle treurigheid laat staan en IETS word). Nope.

    Hulle is meestal pateties verby.

    Nadat ons 8 handyman/bouers gekontak het en 3 hulle verwerdig het om te kom kyk na ons projekkie, loop ons nou die pad saam met ‘n township bouer (ouerige man) wat netjies en hard werk. Hy wil en hy kan.

  8. Lui slapgat wetters. Die hartseer ding is dat daar well jongmense daar buite is wat graag wil, maar hulle is ver in die minderheid. My oudste het ingekom by UCT Med School, nou vertel almal haar hoe gelukkig sy is. Maar hulle weet nie hoeveel ure sit sy in om die punte te kry wat haar toelating gegee het nie. Nee, sy het mos met haar alie in die botter geval.

    • Dis ongelooflik. En moet my nie eens laat begin oor die gebrek aan maniere nie. Toe Stilman toe die mannetjie laat loop, sms ek hom oor sy laaste geld.

      Nee, seg hy, “Kan G ‘n draai maak by hom en die geld drop?”

      Toe verloor ek dit heeltemal.

      Ek sms hom toe: “Nee, soos ‘n jong man met goeie maniere, gaan jy na die werskwinkel toe kom en die geld kom afhaal. En lyk my jy ken nie asseblief en dankie nie.” (Seker bietjie hard, maar ek het die woorde in die tyd wat hy by G gewerk het nooit gehoor toe ek en hy gekommunikeer het nie).

      Sy antwoord aan my? “Ag, word groot man!”

      Jou kind gaan dit ver bring, want dis mense wat hard werk en opopfferings maak wat doen, ons weet dit mos.

      • Die ander kant van die saak is….Wie moes die kinders leer?
        Ek lag saam oor die laaitie se gedrag….maar sukkel maar ook om my seuns te kry om die selfoon uit te los, terloops, nie wat ek gekoop het nie! (Ek dog nog, nee, as boeta een wil hê, moet hy spaar….en sowaar. Nou sit ek met die ZOMBIE eyes.) Dit raak al hoe meer ingewikkeld om kinders groot te maak want daar is soveel meer ‘distractions’ ….NEE, dis nie ‘n verskoning nie, maar loop ‘n paar dae in ‘n kind se skoene…porn in hul sak…ons het net gehoor van Playboy !

        • “Loop ‘n paar dae in ‘n kind se skoene…”
          Jy laat dit amper klink asof dit moeilik en swaar is?

          “Wie moes die kinders leer?”
          Om hard te werk? Die een wat hulle grootmaak, sou ek reken. Ons sit met ‘n hele generasie ouers wat hul kinders se skooltake VIR hulle doen, ek tel n hele paar vriendinne onder hulle. So die beginsel van ek moet actually iets DOEN om my punte verdien, word nooit aangeleer nie. Jy sien, ek reken ouers dink kinders leer goed net deur assimilasie, en nie deur inderwaarheid die aktiwiteit te DOEN nie. Dit is juis vir my nie die ander kant van die saak nie, dis juis die punt.

          Porn in hul sak? Vat die foon af of installeer apps wat dit blok, dit bestaan. Ek dink ouers sê net te maklik ja of blameer ander dinge vir kinders se onaanvaarbare gedrag. ‘n Selfoon is ‘n voorreg, nie ‘n reg nie, en ‘n slimfoon is ‘n moerse voorreg, in m opinie.

          Namasté.

    • Die oorspronklike debat wat ons hieroor gevoer het, het ook gegaan oor ouers se rol daarin dat kinders net eenvoudig dink hulle is geregtig op sekere voorregte. Daardie ding maak dat mense sulke gedrag in hul werk openbaar.

      Kyk, ons almal maak die odd persoonlike telefoonoproep of betaal iets op die internet, ek dink dis bykans onmoontlik om dit nie te doen nie, en die meeste werkgewers maak voorsiening daarvoor, dink ek.

      Maar die interne dryf om te weet wat reg en verkeerd is, voel vir my dit onbtreek by baie mense. En ek moet bysê, ek het ook agtergekom mense wat nog nooit hul eie besighede bedryf het nie, maak makliker misbruik van werkgewers se tyd.

  9. Ek stem 100% saam. Sommige van die jeug het nie ‘n benul wat dit beteken om te WERK vir jou geld nie. Dit begin by die ouers wat hulle kinders moet leer. En die grondwet wat kinderregte so beskerm dat van die jeug ‘n klomp klakouse geword het.

    Nie almal verdien dieselfde salaris nie, hoekom wil van hierdie beginners dieselfde as ek, wat langer as 27 jaar al werk, verdien?

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s