Ek talm nou nie meer, nee, ek ry net verby

Noudat ek vanaand op die oudagsaand van my 41ste verjaardag staan, kyk ek terug en ek sien dit is amper tien jaar sedert my ma dood is.

In hierdie tien jaar het ek getrou, my pa ook aan die dood afgestaan en kinders gehad. Opgehou werk, en weer begin. Ryk geword en weer arm ook. Baas gewees en weer klaas.

Ek het iets by my ma geleer wat ek graag ook met my kinders doen. Soms, wanneer ek hulle in die bed sit, druk ek die duvet aan die kante van hulle lyfies in, styf vas. Dan vryf ek hulle bene an arms en lywe vinnig, sodat die friksie ‘n behaaglikheid bring. Guaranteed om enige groei- of gemoedspyn net daar stop te sit. Selfs vir grootmense wat hartseer is, werk dit.

Ek onthou ons het op Kransspruit, waar ek grootgeword het, ‘n bloekombos langs die boonste mielieland teen die teerpad gehad. Dit was in ‘n vierkant geplant, met ‘n oop stuk in die middel. Dié oop stuk het op die beste van dae miskien ‘n sonkolletjie in die middel gehad as die son reg van bo geskyn het.

Image.

In die bloekombos het ek dikwels as kind gaan wegkruip, as ek moeg geraak het vir die stroper se stowwerigheid of as die huis se dinge vir my soms te veel geraak het. Dit was presies ‘n myl van ons huis af, op met die grootpad aan, by die groot sementdam verby, skuins agter oom Johan van Rensburg se huis verby en deur die doringdraad.

Gewoonlik, teen die tyd wat ek verby die sementdam gekwaadstap het, was my boosgeit oor huisdinge al verby, maar dan het ek maar aangestoot om ‘n punt te bewys, En nooit was ek spyt nie.

Want in die bos het Stilte gewoon. Wanneer jy op ‘n sekere plek tussen die bome gaan staan het,het jy van elke klank en beweging wat nog ooit in die heelal bestaan het, of nog gaan bestaan, afgesny geraak. Net jou eie hartklop en asemhaling het oorgebly. Net Jy.

Nou as grootmens, onthou ek dat my ma se teenwoordigheid vir my soos daardie bloekombos was. Deur die struwelinge van my tienerjare, die angst van die 20’s. En toe, was dit weg, sommer net een Saterdagoggend, terwyl ek op ‘n seiljag in die Indiese Oseaan oor die kant van die boot gehang het, is sy op haar bed dood. 

Soms, as jy lank genoeg getalm het in die bloekombos, miskien tot die son begin water trek het en die temperatuur skielik en skerp begin daal het, het jy jou verbeel jy kan die stemme van jou voorvaders in die fluistering van die bloekomblare hoor. Hulle woon almal daar.

Nou nog, as ek by die bloekombos verby ry, kan ek dit na my hoor roep. Maar ek stop nie en gaan in nie, ek talm nie meer nie.

Want my voorvaders woon nou op iemand anders se grond. 

22 thoughts on “Ek talm nou nie meer, nee, ek ry net verby

  1. My ma leef nog, maar my ma is weg en sy gaan elke dag bietjie verder weg. Dis erger as doodwees. Ek wil haar nie eers meer sien nie en dis nog erger.

  2. Moenie dat die ouderdom jou onder kry nie! My suster wat al 50 is leer my dat die lewe word net beter en lekkerder hoe ouer mens raak. Mens kan dinge kwyt raak sonder om skuldig te voel.

    Geen bosse vir my nie, maar daar is niks so still soos onder druiwestok te sit en na alles te luister nie.
    Dink almal van ons het maar so “bos”.

  3. Ek stem plaaskinders het ‘n groot voordeel gehad, ek onthou ons bos was polulier bome langs die Caledon rivier, die een ding waaraan ek my altyd verwonder het was die oog (water put) waar die soetste water was wat ek nog ooit in my hele lewe geproe het. Die water het van tyd tot tyd uitgeborrel en dan ‘n ‘dammetjie’ gevorm waar al die diertjies en voëls kom drink het. ek kan asek my oë toemaak nog die reuk van die bome ruik. nou is ek skoon nostalgies.

  4. Murphy, jy troos my hart – ek leef al vir 5 jaar in effense ontkenning, dan hoef ek nie elke keer seer te kry as ek besef: my Pa is dood. Nou leef hy in’n rooi jasper en ‘n neushoringvoël – maar ek talm vantyd tot tyd nog, darem omdat ek wil🙂

  5. Ek het so fiets gery doer in Naauwpoort, op-en-af in die plaaspad. En stories gesels. Ek was nog maar altyd ‘n storie-kind, dis seker hoekom die werklikheid van die lewe vir my te klinies is. Soms wil mens mos nog maar so gaan lê sodat stilte tot op die been kan kom skoonmaak.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s