Mag ons almal skorokoro-specials wees

Gister stop ek by die 4-rigting stopstraat naby my huis.

Dit is mos nou by dié stopstraat waar die intelligente en welbelese mense (ek neem aan) wat in my woonbuurt bly, elke oggend tussen 7 en 8 die deel in die handboek waar ons geleer het hoe ‘n stopstraat werk, vergeet.

Oorkant my nader ‘n man met ‘n 1970’s Opel die stopstraat. Die karretjie huiwer iewers tussen antiek en skorokoro. Dit klou nog desperaat vas aan sy eertydse glorie, bygestaan deur die liefdevolle aandag van iemand wat sekerlik maar net ‘n paar duisend rand per maand verdien en bietjie bloudraad onder die bonnet.

Die skorrie oorkant my by die stopstraat, was nie meer heeltemal so netjies soos dié 1970’s Opeltjie nie.

Agter die stuur, kiertsregop, sit ‘n man met Caltex-klere aan, die soort wat petroljoggies dra, sy mus presies op sy kop gesentreer, gelyk oor elke oor getrek. Sy hande rus tien-oor-tien op die stuurwiel.

Die karretjie blink.

Netjies stop die man, presies agter die wit streep. Tiktaktiktak, flikker hy sy intensie om regs te draai. Aangesien ek feitlik gelyk met hom stilgehou het, en ek wil sien hoe sy skorrie van agter af lyk, beduie ek hom hy kan maar ry.

Hy knik vriendelik, en die tande flits wit. Skorrie bol blou rook by sy stertkant uit, en hy begin draai.

Skielik hoor ek ‘n moerse getoet. Ek was so meegevoer deur die man met sy blink Opel, dat ek nooit Mev. von Blinkerd met haar 7-reeks langs my sien stop het nie. Ná my en skorrie.  Haastig, seker, want iemand moet by perdry- of vioollesse uitkom.

Opelman is halfpad die kruising in. Ek kan sien hy weet nie moet hy aanry of moet hy wag nie. Hy huiwer ‘n sekond of twee. ‘n Ewigheid op mev. von Blinkerd se Michel Herbelin, seker.

Sy trek met skreeuende bande weg, haar mond ‘n in skarlaken sirkel opgeruktheid vertrek. Plooie keep diep. Haar botox in een moerigheidsessie skoon uitgewerk, lyk my.

Ry ‘n draai voor die man in, en om hom, waar hy nog steeds half verskik in die middel van die kruising bly staan. Haar koppie  skud meewarig heen en weer soos ‘n koshuisgras-sproeier.

Later, toe ek my eie moerigheid en skaamkry met ‘n glasie rooies afgewerk het by die huis, het ek net een ding besef.

Vandag, mevrou, was joú blink wa vir my baie, baie leliker as ‘n 1970’s skorokoro-special.

14 thoughts on “Mag ons almal skorokoro-specials wees

  1. ‘n Kar is net ‘n ding wat my veilig van punt A na punt B moet vat. Solank hy skoon is en alles werk, gee ek nie regtig om watter model dit is nie. En die vroumense wat so met hulle 4×4’s by die winkelsentrums lé en hulle mans se swaarverdiende geld uit tee-en-koek-shop gee my ‘n pyn in my verstandtandholte! Dis juis hulle wat dink die son sak as hulle hul boude op daai blink wa se seat inskuif👿

  2. Dankie vir jou blog…ek skaam my morsdood vir sulke ‘ ek is beter as jy” mensdommes! Wou eintlik baie krasser geraak het … jirriekie verêrre ek my nou vir die vrou !!

    • ‘n Mooi kar bly mooi, maar hoekom hou almal aan om hulself so in die skuld te dompel daaroor? great as jy kontant kan betaal vir hom, maar waarom skuld maak?

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s