Die terterige Ashley en haar slegte suster Madison. Die perdjies se ruggies is weer warm gesit.

Op AshleyMadison kan jy alles wat jou in jou lewe onvergenoegd maak, gaan regmaak.

Jou vervelige man, jou vervelige huwelik, en jou vervelige kinders. Jou vervelige hond en jou vervelige papegaai kan ook sommer dalk ‘n nuwe glans kry, veral wanneer hulle sekondêr gaan begin raak aan die eposse en sms’e  wat gaan begin instroom van ‘n misterieuse vreemdeling wat ”jou gaan streel dat jou voetjies vuisies maak.”

Daai vreemdeling wat ook maar ‘n vrou iewers het wat gatvol vir sy stront is.

As alles maar so eenvoudig was. So eenvoudig soos die beswaardes en die bewakers van sedes dit wil hê. ”’n Mens wat sy huweliksmaat verneuk, is van die bose en gaan in die hel brand,” sê hulle.  Of nog beter, is deur die bose besete en verlei.

Die tert Ashley en haar slegte suster, Madison, gaan verantwoordelik wees vir die opbreek van elke huwelik van Koekenaap tot Kaapstad, van Pretôriô tot Pofadder. Want die omies van die gemeentes gaan nie die hitsige getroude huisvroue en cash strapped studente op dié webtuiste kan weerstaan nie.

Inderwaarheid gaan die internetgeletterdheid van middeljarige manne wat al  dekades lank onder die pantoffelregering leef, eksponensieël toeneem oor die volgende paar maande.

Een van Ashley Madison se koerantadvertensies in New York. Vir my is dit snaaks, bloot omdat dit mense se eng grense toets. En dis net snaaks.

Pandora se doos is inderdaad nou oop, skrou al wat beswaarde sms-inskrywer in die dagpers is. En is Pandora nie té sexy nie, skrou die ondersteuners.

Nou.

Soos enige mens wat al ‘n paar jaar getroud gebly het, en enige beswaarde wat ‘n oomblik van sy boerperd sal afklim, vir jou sal sê: “In die régte lewe is niks so eenvoudig nie. Huwelike is nie so eenvoudig nie. Mense is nie so eenvoudig nie.”

Vra my, ek weet waarvan ek praat.

Mense maak mekaar al seer voordat AshleyMadison haar kubervoetjies hier kom plant het. Gaan kyk maar op Naaibuddies.com. Ja. Naaibuddies.

En die ander tienduisende websites vir dieselfde soort ding. Mevrou, jou man hang al lankal daar uit saam met pruilmondstudentjies. Sonder dat jy dit weet.

Hierdie webtuiste is maar net die eerste een wat dit op die billboards doen. Wat ons eng samelewing se grense ‘n bietjie kom toets waar jy dit ook kan sien. Die Huwelik word al bedreig nog voor leeus Christene in Rome opgevreet het.

Want juis daar, in my beskeie opinie, lê die groot probleem. Die mens is nie natuurlik aanmekaar gesit om vir 40 jaar aan dieselfde mens te bly vat nie. Ons IS net nie so nie. Ons hou aan in daardie huwelikshokkie sit, omdat dit is wat ons oupas en oumas gedoen het, en (merendeels) ons pa’s en ons ma’s.

Ons vroue wil nie meer met ons speel nie. Ons mans hou meer van rugby as van ons. Ons kinders tap ons flou. Ons honde en katte en papegaaie vreet die bankrekeninge leeg. Ons base oes ons lande leeg. En tussendeur alles moet ons altyd net doen soos die samelewing van ons verwag. Hou tog net die regte front voor, al vrot alles agter af.

Geen wonder duisende mense in SA registreer, saam met die miljoene wêreldwyd wat ook so voel, by AshleyMadison nie. Dis ‘n uitlaatklep, waar jy soos ander net soos jy, maar net jouself kan gaan wees.

En ek? Ek hou by een op ‘n slag, dankie. Dis makliker, eenvoudiger, en baie minder werk.

En dit maak niemand seer nie. Nie my man nie, en nie my kinders nie. Minste van alles, die mens in die spieël.

47 thoughts on “Die terterige Ashley en haar slegte suster Madison. Die perdjies se ruggies is weer warm gesit.

  1. Ai mens, ek sit nou al dae lank met die idee om kommentaar te lewer. Net verlede week vir iemand gesê mens moet NOOIT skryf as jy nog kwaad is nie. Ek kan nou eers weer objektiewe kommentaar oor my eie gebeurtenisse lewer sonder om die risiko te loop om gedagvaar te word vir naamskending. Al dink ek nog steeds die eks van my is ‘n doos.

    Dit is nes jy sê, mense wat dink hierdie website is die eerste, is bietjie agter die nuus. Daar is alreeds baie, baie websites en maniere waar mans hulle vingers laat loop. Daar is baie metodes waarop hulle die tone in die water steek. Skype is maar een daarvan.

    Iets (en dit sluit nou maar ‘n verhouding/huwelik ook in) kan net werk as albei partye na dieselfde eindpunt toe werk. So ‘n rondgestekery op die sideline dra absoluut niks by tot enige rustigheid in die verhouding nie.

    Die tannies wat so vinnig op die vingers was, moet twee keer dink. Sommige van hulle se pappies reis, en waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.

  2. Dink die ooms van Koekenaap en Poffader gaan maar sukkel met die “dial-up” internet wat elke nou en dan kontak verloor. Wie wil met so persoon vry? Dit is soos om op die rusbank te vry en op die “heat of the moment” klop iemand aan die deur of die foon lui! Mens kan later heeltemal stryd verloor.

  3. Huwelik is maar net nog ‘n stel reëls om te help om die samelewing te orden – iemand moet na die kinders kyk, iemand moet die geld maak, en daai iemande wil verkieslik na hul eie kinders kyk; die ou-testamentiese reëls (en in ‘n mate baie van ons extended-family kulture) maak baie sin as ‘n mens net na die praktiese kyk; in die natuur het ‘n sterk bul die koeie, elkeen in die trop het sy werk en elkeen bring sy kant – ek skat die kern-gesin gaan deur verandering soos wat die sosiale opset verander -aanpassing is die goue reël.

    • Nee, jy verstaan my verkeerd. Ek meen mense is nie fisiologies geprogrammeerd om vir 40 jaar met net een maat seks te hê nie.

      Maar ons kan kies om 40 jaar getrou aan een maat te bly, al is dit nie maklik nie. En dit is tog oor en oor al bewys dat mense 40 jaar getroud kan bly. Party is gelukkig en ander grom vir mekaar op die ouetehuis se stoep.🙂

      • Oukei, ek verstaan. Dis hoekom `n mens regtig mooi moet dink voor jy trou – of jy regtig jouself vir 40 jaar saam daai persoon kan sien. Want anders gaan daai keuse om getrou te bly, maar `n moeilik een raak…

        • En, wat ook gebeur is dat mense baie verander in die huwelik. Die een met wie ‘n mens dalk op 29 getroud is, is nie meer dieselfde mens op 45 nie. Mense staan ouers en kinders aan die dood af, verloor besighede, verander van werk of kry geloof of raak ateisties. Die scenarios is legio.

          Life happens.

          Mens word dalk net eendag wakker en dink: wie de hel is hierdie vreemdeling langs my? Maar dan begin die keuses. Bly ek of gly ek? Wat van die kinders? Ek weet van ‘n geval van ‘n oom wat al tien jaar sy sieklike vrou in ‘n tehuis versorg. Hy gaan twee keer ‘n dag na haar toe, maar sy weet nie eens meer wie hy is nie. Hy is relatief jonk (in sy 50’s) en kan nog twee dekades van ‘n vol lewe geniet.

          Hy het sy kinders gevra of hulle sal omgee of hy van hul ma op papier skei, hy sal elke dag nog steeds na haar toe gaan en al sy verpligtinge nakom, maar hy het iemand ontmoet wat hy die lewe mee nog kan geniet en hy wl haar nie verloor nie. Hulle weier en die familie skeur uitmekaar.

          Niks is ooit cut and dried nie.

          Nou ja, na hierdie lang relaas is jy seker ook moeg vir my gepruttel oor die onderwerp… lekker aand!

          • Nee glad nie – pruttel voort! Die lewe het my baie vinnig reggehelp – dinge is nooit net swart of wit nie. En as `n mens nie die tussenin al gesmaak het nie, moet jy nie so gereed staan om te oordeel nie. Wat ek egter steeds sterk oor voel, is dat jy nie jou broodjie albei kante gebotter kan kry nie. As jy nie meer gelukkig is met wat jy het nie, doen iets daar omtrent or walk away.

  4. Dit sou vir my finansieel sin maak om so iets te doen, maar moreel kan ek ongelukkig nie. My blog post hieroor was meer gebaseer oor die tjol wat die ou kwytgeraak het… “ek wil nie huwelike vernietig nie”.
    Maar jou blog som dit baie mooi op. Elkeen moet self kies en hom-/haarself in die spieël check… en eendag verantwoording doen.

    • Ek weet wat jy bedoel het. Ek het dit hier teen die tannies met oogklappe aan wat dink hulle mans het ‘n katalisator nodig om “onheil te gaan pleeg”.

      Kyk, ek het geen iluusies dat hierdie twee mense wat die website bedryf, self nie elke aand lekker langs mekaar in die kooi le nie, maak nie saak hoe hulle dit spin nie. Ek sou nie.

      Dankie vir die reblog.

  5. Wil net kom sè dat ek hier gelees het. Ek het gewoonlik ‘n opinie oor alles maar hier besef ek dat ek nie die lengte en breedte en diepte van hierdie skrywe kan peil nie. Ek het altyd die easy antwoord hieroor gehad: eksodus 20 vers whatever. Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

    As ek hier tussen die lyne lees sien ek geniune dubbel. Aan die een kant die hartseer van die leuens en die verwerping. Ek sien ook die vryheid wat duur gekos het om die blikskottels te kon vergewe om self te kon aanbeweeg.

    Mevnel en ek beweeg maar soms deur die dale van doodskaduwees maar ek moet erken dat ek nooit die affair pad sal loop nie.

    Ek gaan hierdie topic eersdaags opbring as ek en die wolfpack ‘n paar happe inhet. Dan sal hulle sonder pretensies hulle eerlike mening kan gee. Dankie vir die nuwe insigte en deurmekaarkrap van my egbreuk mindbox

  6. Ek het hier gelees en heeldag loop en dink hieraan. Ek was al self aan die ontvangkant van ontrouheid. Ek ken die seer. Ek was self ook al een keer ontrou, in my eerste huwelik. En al het die eks elke slegte ding verdien wat ek aan hom kon doen, het ek myself meer skade aangedoen. Want ek het gevoelens gehad vir die ander man en geweet daar kan niks van kom nie. Die botomline is dat mans en vrouens ontrouheid op verskillende maniere sien. ‘n Man kan ontrou wees om dat hy verveeld is met sy lewe vir die oomblik. Vir hom is dit die opwinding van seks met iemand anders, ‘n nuwe oorwinning, ‘n ego boost. Maar hy wil nie sy vrou en huis lewe verloor nie. En ek is geneig om hulle te glo wat sê hulle is steeds lief vir hulle vrouens. Want mans, of meeste van hulle in elk geval, is emosioneel gestremd. Hulle skei seks van liefde. Maar vrouens, meeste in elk geval, het lief en het dan seks. As ‘n vrou ‘n affair begin,is die kanse groter dat dit dit op ‘n skeiery gaan uitloop, want sy het emosioneel reeds aanbeweeg. Hoe die huweliks opset gaan verander om al hierdie te akkommodeer beats me. Ek weet net dat ek ook een op ‘n slag verkies, en as ek nie die enigste een is nie, is ek GLAD NIE een nie. Taai tameletjie hierdie.

    • Jy sê hier presies wat ek ook dink. Dis hoekom ek dink dis te maklik om net te oordeel en ‘n eksterne faktor vir ‘n rondlopery te blameer.

      Ek dink ook steeds dat dit absoluut onmoontlik is om enigiemand te beheer, of ‘getrou te hou’, soos van hierdie vrouesprekers beweer jy gaan doen as jy elke aand met die sexy teddy in die bed klim (jy weet wie ek bedoel).

      Mense maak foute, en mense maak ook foute weer reg.

  7. ‘n Baie goeie vriend van my sê altoos dat die huwelikswet verander behoort te word dat mens die huwelik elke vyf jaar moet hernu. Soos ‘n bestuurderslisensie.

    As dit moontlik sou wees, sou ek sê as jy dan so lus is vir die groener weivelde, moet dan net nie jou lisensie hernu nie. Dis mos beter as om ander seer te maak. Iemand gaan vir seker seerkry, al is dit ook net die kinders.

    • Ek dink die gesin en huwelik soos ons hom vandag ken, gaan oor 100 jaar totaal anders daar uitsien.

      Dit IS so dat kinders seerkry uit egskeidings, maar as die konsep van wat ‘n tradisionele gesin en huwelik is, verander, gaan die seerkry dalk mettertyd minder word?

      Moeilik om te sê. Ek dink baie keer kinders kry so seer as die huwelik verbrokkel omdat die ouers so seerkry. Dit was vir seker in my en my ouers se geval so.

  8. So goed gestel, Murphy! Vandat ek How the Mind Works van Steven Pinker gelees het, dink ek dat ek in alle geval beter verstaan hoekom die mens doen wat hy doen.
    Daarby moet ek sê dat dit my vreeslik ontstel om uit te vind tot watter lengtes mense sal gaan om hulle affairs weg te steek. Bv. ek het gehoor van mans wat vir hulle vrouens sê dat hulle gaan jag met geen selfoonopvangs op die japlaas nie. Intussen vat hulle die skelmpies Mauritius toe vir ‘n week. As hulle terugkom met geen bokke nie, verduidelik hulle dat die wild uitgeskiet is. En al die mans weet dit en cover vir mekaar!

    • Dis die leuens wat die seerste maak, in my opinie. Ek is ook eerlik as ek sê dit sal my breek as ek moet hoor ek is nie meer die enigste nie. Maar is dit beter om eerder niks te weet en dan twee jaar later uit te vind ALLES wat jy gedink het van jou man en huwellik is ‘n leuen?

      Elkeen sal seker maar ‘n ander antwoord hê vir daardie een. Seer bly seer. Elke mens moet maar net besef dat sy dade gevolge het, en as jy bereid is om met die gevolge saam te leef, kan jy seker maar doen wat jy wil. Dis maklik om voor die tydte sê jy sal met die gevolge saamleef, nie so maklik om dit te doen nie.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s