Nampo……….oeeesdag! (En hoekom ons soms ons kinders vergeet).

Soos die lewe dit wil hê, dwing jou lyf jou mos tot stilstand as jy nie wil of kan nie.

Die noodlot het bepaal dat ek die afgelope maand (minus die afgelope week toe ek omgedop is) nogals moes graft. Een kollega was met verpligte verlof, en toe breek daardie lastigheid met die naam Nampo ook aan, en ek moes inspring met werk wat rondom die Nampo-Oesdag (ons locals noem dit iets anders, wat nie in beskaafde geselskap tuishoort nie) nodig was.

En nog ‘n plaasaanval of drie breek in een maand uit, met die meegaande boere- en veiligheidsvergaderings en dinge daarmee saam. Wat beteken het dat ek my koerantbakkietjie menigmaal na-uurs op verlate platteland-potholepaadjies in die rooi gesteek het, met twee kleintjies wat deur ‘n babysitter of huishulp tuis opgepas word. En ‘n man wat iewers in Gauteng of die Oos-Vrystaat aan ‘n bank se dakbalk hang of onder kitsbanke lê, vir weke aan mekaar.

Dus het die kuggie wat ek vir van voor die Oesdag af geignoreer het, my toe Dinsdagaand omgedop. Met ‘n vat jou en fok jou, jy is nie Tarzan Tieties nie.

En sien, as mens nou so lê en almal ignoreer wat jou soek, dan dink jy weer oor alles. Is die paycheck die opoffering werd?

Daar is nie ‘n groter skuldgevoel as toe ek so twee Vrydae terug  my kinders by die kleuterskool oplaai nie en ek, toe ek instap, my kinders se traanbedekte gesiggies sien, en die juffrou vir my sê: “Jou kinders se partytjie waarheen hulle twee-uur moes gaan, is seker lankal verby.”

Ek het pas klaar met ‘n iemand ‘n onderhoud gevoer wat die vorige aand in ‘n plaasaanval was. Kon nie die persoon aanjaag nie. En in die proses heeltemal vergeet van die partyjie.

Ek wou kwaad word en vir haar sê: “Jy is vinnig om my te bel as ek vyf minute laat is om hulle op te laai, vir dieselfde prys kon jy seker maar die telefoon opgetel het en my net gevra het of ek van die partytjie vergeet het? Toe laat huil jy hulle maar twee-en-‘n-half-uur by die skool. Ek kry die boodskap, ek is ‘n kak ma.”

Maar nou ja, dis nie haar plig om my te herinner nie, dis myne. En baklei sou nie help nie. Toe jaag ek maar partyjie toe en die partytjiemamma was gaaf genoeg om hulle nog 45 minute te laat speel (dankie Jackie), en my nie soos ‘n kompleet aap te laat voel nie.

En dit moet ek bylas. Daar is ‘n subtiele attitude-verandering teenoor my vandat ek weer voltyds in die tuig is. Nie van my tuisbly-ma-vriendinne nie. Maar wel van sommige minder bekendes en kennisse. ‘n Afkeurende afsydigheid, stille neerhalendheid. Een waarvan ek voorheen subtiel bewus was, toe ek nog by die huis was. Maar wat nou so groot soos die spreekwoordelike wit olifant in die kamer staan.

Jy kies werk bo jou kinders.

Aan elke ma waaroor ek nog nooit voorheen kon verstaan hoekom jy altyd laat was, hoekom jy nie altyd daar kon wees vir jou kinders se elke ding nie.

Jammer, opreg jammer.

16 thoughts on “Nampo……….oeeesdag! (En hoekom ons soms ons kinders vergeet).

  1. Ag, hoe onthou ek net nie daai werkdae nie! Ek het eendag my kind by die skool vergeet en dit eers by die huis besef en moes toe terug jaag! En snaaks genoeg, opgehou werk nadat sy skool verlaat het. En sy het in ‘n wonderlike mens uitgedraai, baie meer verstandig en wys as haar ma as gevolg van vroeë interaksie met ander kinders en mense. In retrospek kan ek net vir jou sê, raak ontslae van die skuld gevoelens, dit bring mens nêrens nie, en geniet die kwaliteit-tyd saam met jou kinders wanneer jy wel tuis is. Groete!

    • Ek dink die meeste ma’s wat werk, het al kinders vergeet. Ek onthou hoe een van my vriendinne in die hoërskool vir ‘n week nie met haar ma gepraat het nie, oor sy haar eendag by die hokkie-oefening vergeet het.

  2. Ek sou ‘n vrot by-die-huis-ma gewees het, ek dink my kinders sou VIR my werk gesoek het!! Ja ek het seker baie gemis, maar hulle is taamlik dankbaar ek was nie elke keer langs die veld wanneer hulle gehardloop of aan ander sport deelgeneem het nie. Ek is ‘n baie raserige tipe mens.

    Die juffie gaan ook kinders hê. En sy gaan dan eers agterkom wat dit beteken om soms nie oral te kan bykom nie.

    Vandag se lewe is duur. mens moet maar werk.

  3. My ma het my hele lewe lank gewerk, in ‘n tyd toe ma’s eintlik nog net by die huis gebly het, kaalvoet en swanger in die kombuis. Soms het ek gewens sy was by die huis, maar dit was meer vir selfsugtige redes as enigiets anders. Hier is ek vandag, spekvet en uitgegroei en glad nie slegter af as die kinders van die ma’s wat nie gewerk het nie. Dalk net meer selfstandig as sommiges. Meer gepantser vir wat die lewe kan uitdeel as mammie nie daar is om die houe af te weer nie🙂

    En my ma het ons selfs ‘n keer of twee by sport en ander aktiwiteite vergeet😯 Vandag is dit deel van ons familie stories!

    • 🙂

      Nogal ook het navorsing (ek dink dis by die Universiteit van Kalifornië gedoen) wat oor 20 jaar gestrek het, ook gewys kinders van ma’s wat werk, is baie meer suksesvol in skoolwerk, studies en hul loopbane as kinders van tuisly-ma’s. Hulle volhard ook langer met take.

  4. Ek was ‘n dagma. As die mammas snot en trane hul bloedjies by my afgelaai het met skuldgevoelens …het ek hul tjank afgetrap en vertel moenie uit die arbeidsmark beweeg. moenie dink om ook jou kind die voorreg te ontneem om van kleinsaf reeds gewoond te maak om met ander kinders te meng , te deel, te komunikeer …
    Ek is net so effe teleurgestel in jou kleuterskool juf/tannie sy het sekerlik kennis van jou beroep! Sy kon darem situasie beter hanteer het..(!!)

    • Dirkie, dankie vir jou antwoord. My kinders was al by ‘n dagmamma en kleuterskool, selfs in die tyd toe ek nie gewerk het nie. Ek stem volkome saam dat dit beter is vir hulle om van kleins af skool toe te gaan en te leer sosialiseer.

      Ek weet dis elke ma se eie keuse, maar ek het tog gesien hoe sukkel kidnertjies wat nou gr. R is saam met die tweeling en vir die eerste keer skool toe gekom het. Speel moeilik saam emt die maatjies en wil nie deel nie. Maar dis ‘n ander gesprek.

      Die juffrou wat dit hanteer het, is jonk. Ek moet sê ek het nogals daardie dag gevoel sy het dit moedswillig gedoen om my ‘n les te leer. Ek het nogals gevoel sy vind die hele affêre baie amusant. Ek oorweeg dit nog om met die skoolhoof te praat, maar ek dink die grootste deel van die skuld lê in elk geval by my. So nou los ek dit maar.

  5. More is nog ‘n dag! Die kinders het oorleef en sal geen terapie nodig hê wanneer hulle tieners is nie. Jou dalk net so af en toe herrinner dat jy hulle vergeet het. Jy is nie die eerste en ook nie die laaste ouer wat sulke goed oorkom nie.
    Soms gebeur dinge wat skielik net belangriker is op daardie oomblik.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s