Om een of ander rede, lees mense hierdie. Ek dink dis oor hulle moeg is vir ruggraatlose slapgatte.

Ek het ‘n rukkie terug hierdie as my bydrae tot die Goeiemôre-rubriek in Volksblad aangebied. Vandag kry ek ‘n epos en ek sien toe dis die mees gelese rubriek op die Volksblad-webwerf op die oomblik.

Toe is haar ander handjie skoonveld

Marlene Jordaan

IN die dae toe ek nog netbal afgerig het, het ek altyd nadat proewe gehou is, my finale spankeuse se name met gemengde gevoelens op die kennisgewingbord gaan plak.

Wanneer ’n mens se span uitgesorteer is, doen ’n mens mos wat ’n coach moet doen: Leef met jou keuses saam. Soms wil jy jou keuses vermoor en ander kere wil jy hulle oorsee vat vir ’n vakansie, só trots is jy op hulle.

Ek het Amelia (nie haar regte naam nie) die eerste keer gesien toe sy as ’n o.14-meisietjie by my aangemeld het vir netbaloefening.

Sy het vir my maar net soos die dertigtal ander giggelende o.14’s gelyk.

Op daardie eerste dag het ek hulle laat hardloop, opstote en opsitte doen, touspring, balle gooi en vang. Die gewone, geykte netbaldinge. Ek het geraas en bemoedig en geprys, net soos enige netbaljuffrou maar op so ’n gewone dag doen.

En Amelia neem deel, en sy speel, en as asems begin jaag en opgee naby lê, moedig sy haar maatjies aan. “Kom kom, girls, nog bietjie, nog bietjie!”

Ek luister maar altyd so half onderlangs, want die leiertjies moet gou geïdentifiseer word, vir latere verwysing. Nog steeds het ek niks anders aan Amelia opgemerk nie.

My oog het hare nie eens getref nie, want op dié eerste oefendag, was daar heeltemal te veel oge.

Eers later, toe dié klein meisietjie haar sweetpakbaadjie aantrek en haar arm deur die mou steek, sien ek dit toevallig raak.

Sy het net een hand. Haar ander handjie is af.

Weg. Skoonveld. Nie daar nie. Net ’n stompie sit waar haar vang-instrument moet sit.

Haar gooi-instrument, haar opstoot-stut, haar touspring-hefboom. En Amelia het nie ’n woord gesê nie. Nie ’n dooie een nie.

Sy’t net gedoen. Plan gemaak. En stilgebly.

Amelia se handjie is op twee jaar oud deur ‘n worsmasjien afgekap. Haar ma-hulle het later vir haar ’n prostese gekry, wat sy weggegooi het omdat dit haar “terughou”. So is sy die lewe in.

Sy was later hoofmeisie en studeer vandag vir ’n graad in ingenieurswese.

Wanneer sy moes vang, het sy dit met een hand gedoen. En sy het nie die bal laat val nie.

Wanneer sy moes opstote doen, was dit op haar stompie. Wanneer sy moes touspring, het sy die tou om haar stompie met haar tande en ander hand vasgeknoop.

Ek het later nie eens meer onthou sy het net een hand nie.

Want sy’t my maak vergeet.

 

 

Om een of ander rede het mense dit regs en links begin lees. Ek dink nie dit het iets met my skryfvermoë (of gebrek daaraan) te doen nie, maar eerder omdat mense almal siek en sat is vir ruggraatlose mense wat verskoning soek oor hoekom hulle nié iets kan doen nie.

Ons het ‘n samelewing van slapgatte geword, in die staatsdepartmente en groot maatskappye. Winsbejagte, geldgierige slapgatte.

Mense smag na rolmodelle en positiewe stories.

Die verhaaltjie is eintlik ‘n storie wat ek baie lank terug op LitNet geskryf het, toe ek nog daar geblog het.

Dankie vir die wat dit lees. Ek dink elkeen van ons het ‘n plig om elke dag ten minste een keer ‘n goeie rede te soek hoekom ons wel iets kan doen. Veral as daar die stemmetjie in jou opkom wat sê: “Ek is nie lus nie!” of “Ek kan nie!”

Veral ouers. Ons soek so maklik verskoning vir ons kinders, wil dalk die lewe soms vir hulle té maklik maak. Hierdie kind waaroor ek hier skryf se ma het haar, en haar sussies en boetie, van Gr.1 af in die koshuis gesit. (Hulle kon nie anders nie, en dit was nie vir haar as ma maklik nie.)

Maar vandag is al daardie kinders goedgebalanseerde, suksesvolle jongmense wat hul eie potjies krap. Kinders word nogal vreeslik opgepiep oor die algemeen, dink ek.

Kom ons leer ons kinders (en sommer onsself) om nie verskoning te soek nie, maar om net te dóén, die beste wat hulle kan, met dit wat hulle ontvang het.

 

http://www.volksblad.com/Rubrieke/Goeiemore/Toe-is-haar-ander-handjie-skoonveld-20120208

23 thoughts on “Om een of ander rede, lees mense hierdie. Ek dink dis oor hulle moeg is vir ruggraatlose slapgatte.

  1. Ek het dit gelees toe dit in die Volksblad verskyn het.. aanlyn. Die skerm het dof geword, ek kon nie help om my oë te vryf nie! Dit is net weereens ‘n wekroep om ons seëninge te tel! Ek ken ook baie mense wat met ‘n skynbare las deur die lewe gaan en tog bo uitkom! Dit wys ‘n vinger na ons almal wat eintlik te veel gekry het en dit nie ten volle gebruik nie!!
    Baie treffend!

  2. Ek het dit nou eers gaan lees en ek het trane in my oë gekry. As almal maar net hulle kinders wil leer dat die wêreld ons niks skuld nie. Ek het nogal my kinders so probeer grootmaak, want ek het geweet as ek iets oorkom, moet hulle hulself kan help in hierdie wrede wêreld.

  3. Laat mens dink ne. My oom is blind na ‘n skietongeluk toe hy 15 was. Hy is nou 46 en hy smile nog elke dag en bly positief – altyd. Dan kla ons so maklik.

  4. Met krom skouertjies het ek by die universe bakhand gaan soek vir gunste, en fo… uhm boggerall gekry nie.
    Met trots het ek dit wat ek kon vir die universe loop aanbied, en ek het sedertdien nie ophou kry nie.
    Ek kan so relate met jou storie, en al wat dit vat is om soms jou lewe deur ‘n ander ou se bril te sien.

    • Ek lees nou die dag iets: Doen net nou de ebste wat jy kan, met dit wat jy het. Die res sal vir homself sorg.

      Ek voeg myne by: Moet niks verwag nie, die wêreld skuld jou niks. Dan is alles wat gebeur ‘n helse bonus. Vandat ek daardie filosofie volg, gaan dit met my beter en meer dinge gebeur. Simple laws om te volg, eintlik.

  5. Ek het ‘n swaer, my wederhelfte se broer, wat op 16 in ‘n motorongeluk was en in ‘n rolstoel vasgekluister is.
    Nie eers die breinskade, die onvermoë om te kan loop het hom laat ophou lag nie.
    “Hoe gaan dit?” vra mens gereeld, en die antwoord; “Goed” het nooit verander nie.
    Ons kla te maklik! selfs ek wat ‘n voorbeeld in my familie het!

    • Ek dink dis in ons aard. Ek dink ook kla is ‘n goeie en natuurlike manier om van stres ontsae te raak, dis seker beter as om iemand met ‘n groot geweer te skiet.

      Ek dink net ok dat die lewe maar so is dat ‘n mens jouself dikwels moet dwing om te doen, en meer te doen as waartoe jy in staat is. Ek byvoorbeeld, is nou vandag boggerol lus vir iets doen..🙂

      • Praat met my oor “boggerol” doen!

        Vrydae is my admin dag en ek werk baie vinnig baie hard van vroegdag af sodat ek die res van die dag kan niks doen nie, net slegs wees😉

  6. Ek het self ook die storie in die Volksblad gelees en ek het ‘n gevoel van WOW gehad en besef dat ons heeltemal te maklik opgee as ons nie iets regkry nie.

    Ons het soveel om voor dankbaar te wees en dis kinders/mense soos hierdie wat mens laat stil word en besef dat mens altyd iets kan vermag as jy dit regtig en met die regte gesindheid doen.

      • My oudste is hierdie jaar in matriek en ek wil haar nie eers volgende jaar in ‘n koshuis sit nie. Maar my beste vriendin op skool was ook van kleins in ‘n koshuis, haar ouers het op Oranjeville geboer, vandag boer sy alleen in daardie omgewing, ek mis haar baie. ‘n Ander vriendin van my wie se ouers ook geboer het, se broer het sy hele arm verloor toe ‘n draaitjie uit sy trui in die dorsmasjien vasgevang was. Hy het ook met daardie af-arm rugby gespeel, ens. Sy gunsteling tydverdryf by die see was om vir almal te vertel dat ‘n haai sy arm afgeruk het.

        • Nou die dag wou my man die kinders na ‘n pel op die plaas stuur om te gaan kuier, toe dink ek twee keer. Ek vertrou my pelle, maar nie al die masjiene nie!

  7. Veels geluk! Ek onthou dat die storie op Litnet ook bitter gewild was. Soms kan iemand ‘n lewensles sien en herken, en soms kan iemand so iets beskryf. Dis spesiaal as jy beide kan doen, soos jy.
    XXX

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s