“Hy’s nie daar nie.” – ‘n Les in losmaak

Die vreemdste ding het gisteraand met my gebeur.

Kyk, ek het ‘n vriendin wat baie meer spiritueel ontwikkel is as ek. Ek is 1+1=2 en sy is E=MC². Ek is two minute noodles en sy is gevulde canelloni.

Maar na gisteraand dink ek het ten minste nou een vlakkie op die evolusionêre geestesleer geklim.

Toe my ma dood is het ek  ‘n Carlo Sdoya-skildery  geërf. Dis nie baie werd nie, maar is my kosbaartse besitting, sentimenteel. Omdat ons ons huis huur, het ek nog glad nie my skilderye opgehang nie, hulle staan in die sonkamer, skuins teen die muur staangemaak.

Gisteraand, halfnege, loop ek toevallig by die skilderye verby, wat met hul rugkante na buite staan. Iets sê net vir my, ‘n klokhelder stem, en ek kry so ‘n hol kol op my maag: “Die skildery is nie daar nie.”

En hy is nie. Ek en Stilman soek en soek en soek die hele huis deur, tot in die garage, (maar ek weet ek sal nie die skidlery ooit in die garage bêre nie, nooit.)

Later baklei ons soos kat en hond, want hy was verantwoordelik vir die trek hiernatoe (ek vir die inpak) en ek is kwaad en wil iemand blameer. Maar ek het ook nie gekyk of die ding hier is nie, net aangeneem. En die skildery wat net langs hom gehang het in die sitkamer is hier, almal is hier, behalwe daai een.

Ek kan glad nie meer sê of hy ooit gekom het of nie, ek het drie keer deur die ou huis geloop en gekyk dat alles af is en weg is en dat die huis leeg is. Ons bly al ses maande in die nuwe huis. As ek iets vergeet het, sou die nuwe mense vir my gese het, want ek en die vrou ken mekaar al jare.

Ek is stomgeslaan en platgeslaan.

Nou dink ek maar net aan Slakkelak en vertel myself ek moet maar net perspektief kry, dis net een skildery.

Toe ek dit vir my vriendin vertel (die een van spirituele E=MC²-faam) sê sy sy dink my ma wil vir my iets sê. Dat ek moet begin losmaak van iets, of aangaan met iets wat sy my geleer het.

Maar ek weet eintlik reeds wat my ma vir my wil sê. Sy is al amper tien jaar dood. Ek het vanjaar vir die eerste keer regtig begin aanbeweeg na dit. Nou die dag, toe ek langs die gholfbaan draf, toe kom ‘n vredegevoel oor my wat ek nie kan beskryf nie. Vir die eerste keer in baie, baie jare van hartseer en huil en verlies. En wroeg (oor ander dinge en verliese ook).

Want toe besef ek: Hier is jy dan nou nog. Jou pa en ma is dood, jy het ander groot verliese ervaar, baie groot verliese, maar hier is jy nog. Jy lewe, en wat, WAT is hierdie gevoel in jou?

Kan dit dalk…wag..’n bietjie happiness wees??

“Jy moet begin losmaak van hierdie alewige storie van verlies wat jy oor jouself vertel,” is wat my ma wil sê, ek weet dit.

En dis ‘n groot stap vir iemand wat ‘n jaar gelede nog absoluut uitmekaar sou geval het oor die skildery. Nou het ek maar vir my ma gesê sy kan dit vir my terug laat kry as sy wil, of miskien het die een wat hom nou het, dit nodiger as ek.

Of dalk het hy iewers beland waar ons hom net nie nou kry nie. Maar eintlik maak dit nie regtig meer saak nie.

19 thoughts on ““Hy’s nie daar nie.” – ‘n Les in losmaak

  1. hi maru-lu
    dis baie cool meisie.
    ons hol en hol en hol
    en dis als net hier.
    hoop ons paaie kruis erens weer so bietjie meer.
    x
    Sanney

  2. Ek het nou so nodig gehad om vanoggend hierdie raak te lees, ek is baie bly dat jy weer tekens van geluk toon. Om te laat gaan en aan te beweeg is nie dieselfde as om weg te gooi nie, daardie wonderlike eienskappe wat jou ma gehad het leef juis voort in jou en beteken dat jy vir jou kinders net so ‘n wonderlike ma is. Mooi bly Murphs, xxx

  3. Pingback: Om te leer van los leef « Kouevuur

  4. Dis goed en dis hartseer. Wanneer mens eers geleer het om nie te vas aan enige aardse ding te wees nie, al het dit ook sentimentele waarde, gaan jy ligter deur die lewe, maar die pad tot by daardie oomblik, is gewoonlik ‘n eina-seer pad. En ek wens daardie pad nie regtig vir enige iemand toe nie. Want jy moet te veel verloor het om te kom waar jy aan niks meer verknog wil raak nie.

  5. As iemand iets skryf oor ‘n moeder wat siek is, of oorlede is, roer dit altyd my hart op ‘n baie intieme manier. Ons kan losmaak, maar ons mag nooit vergeet nie.

    • Ek steek maar so af en toe ‘n kersie aan. Ek gaan nie sommer na haar graf toe nie. Benewens dat dit deesdae hier by ons te gevaarlik is, is die plek so verwaarloos dat ek eerder haar wil onthou in my huis.

      • Jy moet dalk ‘n foto neem van die grafte wat vir jou saak maak en dit oplaai op eGGSA se webwerf. Dit klink ‘n bietjie makaber maar dit is tog ons erfenis. My pa het kontak verloor met sy pa toe hy baie jonk was (lang storie) en ek kon nou die dag ‘n foto van my oupa se graf opspoor vir my pa. Dit het vir hom nogal baie beteken. Hier is die werf adres: http://www.eggsa.org/

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s