Gaan sit daai ma op die kombuisvloer en verloor dit heeltemal voor haar kinders?

Aangesien ek nou weer begin werk het by ‘n koerant, kry ek nou weer met dinge te doen waarvan ek al lankal vergeet het. Of laat ek dit só stel: van naderby te doen met dié dinge.

Dis mos maklik om elke dag jou lêppie oop te slaan, of jou koerant op die troon (met hopelik die klein venstertjie oop ter wille van dies wat ná jou kom), en te lees oor die tannie wie se dogter verkrag is en nou huil sy daaroor, of die mense wie se kindertjies dood is in ‘n ongeluk, foto’s te sien van huilende familie by die graf.

Miskien lees jy daardie storie met ‘n tikseltjie empatie, simpatie selfs, en dan gaan skep jy jou joghurt en muesli in (of jou spek-en-eiers as jy een van diés is wat die troonvenstertjie moet oopmaak) en gaan aan met jou dagtake.

Maar ek het vergeet hoe aanhoudend hierdie werk kan wees wat ek doen. Hoe aanhoudend jy dood en verwoesting en padslagtings en skietery en getuienis in die hof oor hoe ‘n siek mens sy privaat in die kind ingedruk het en malles en elkeen se ding moet hanteer. Dit wat mense elke dag lees, is nie ‘n tiende van wat ‘n verslaggewer  deur sy brein moet verwerk, en weer by sy lyf se selle moet uitwerk nie. Soos gif. Soos een lang rillerfliek.

Dit herinner my aan die mal tannie Debora wat altyd hier by ons in die koerant se kantoor gekom het. Kyk, ‘n koerant is mos soos ‘n vliegplak-gifstrippie vir mense met – hoe sal ek dit nou diplomaties stel – verkleinde sosiale vaardighede.

Nou ja, tannie Debora was ons dorp se een met verkleinde sosiale vaardighede. Sy het altyd hier voor by die ontvangs gekom, haar rok so opgelig en haar been op die toonbank gegooi en geskree-sê: “Hulle het my beeeeeeeen gesteel. Julle moet ‘n storie doen. Kyk hier is die evidence!” Toe sy dood is, het die koerant se mense en die staatsaanklaer  haar uit hul sakke begrawe.

Been en al.

‘n Kollega is besig met ‘n liefdadigheidsprojek om kos in te samel vir welsyn. Toe sê sy gister iets wat my vreeslik geruk het, meer as enige storie wat ek gedoen het die laaste tyd.

Hoe voel dit vir ‘n mamma wat voor haar koskas staan, en sy het net een eier, maar twee kinders? Hoe voel daardie mamma as sy nie eens die vooruitsig het om nog ‘n eier te koop nie?

In die tye wat dit al regtig met ons swaar gegaan het, was daar altyd nog die vooruitsig dat dinge gaan beter gaan. Aan die einde van ‘n projek/maand gaan daar geld kom, al moet ons die meeste daarvan spandeer om die wolf van die deur te hou.

Maar wat doen dié mamma? Bedel sy? Bid sy? Gaan sit sy op haar kombuisvloer en verloor dit heeltemal voor haar kinders? Of leer sy maar net om in dankbaarheid te lewe teenoor mense wat nog in hierdie dag en tyd bereid is om te gee, uit die diepte van hul harte.

12 thoughts on “Gaan sit daai ma op die kombuisvloer en verloor dit heeltemal voor haar kinders?

  1. So paar dae terug, net voor Kersfees het dit maar bedrywig gegaan by ons. Daar sou mense oorkom vir ‘n vroeë middagete en later die aand sou ons weer gaan kuier. Op ‘n stadium moet ek nog iets in die yskas bêre en sukkel toe om ‘n plekkie daarvoor te kry (wat ‘n probleem kan wees hier op die warm Gold Coast!) Dis toe dat dit my tref, dieselfde gewaarwoeding wat jou blog nou by my gebring het. Soms dink ek dinge kan beter gaan, maar kan dit enigsins sleg gaan as mens sukkel om plek in jou yskas te kry? In my kinderdae was daar ‘n tyd wat ons vir ‘n paar dae net rooibostee en bruinbrood met botter gehad het om van te leef. Daardie tye is lank vergete en ek glo dit het ‘n beter mens van my gemaak, maar hoeveel mense is nie nou in daardie situasie nie! Ek is besig om my eie blog hier te skryf so moet afsluit. Ek los julle net met hierdie gedagte, of uitdaging. Kom ons werk saam om in hierdie jaar wat kom meer mense te help sodat daar minder leë yskaste is!

    • Baie dankie vir hierdie antwoord. Ek en my man het gister weer gepraat dat ons moet ophou om so te sukkel. Toe wonder ek of ons regtig sukkel, want ons kon Kersgeskenke oop en ‘n skaapblad vir Kersdag. Dit is voorwaar ‘n seën om eerder in dankbaarheid te bly lewe.

  2. maar mens, dis mos nou eintlik hoekom ek ook nie meer koerant lees nie…..want ek wil nie my dag vul met al daai snert nie. En as ek nou koerant MOET lees, dan ‘n ingelse een, al is ek nie baie lief vir hulle nie, maar om een of ander rede, dis hulle nie die nuus vir my op, op so ‘n manier, dat ek alles en almal rondom my weer meer-en-meer wil haat nie. Dit kry die Beeld nogal reg…..om weer ‘n vlammetjie van wrok en haat teenoor ander aan te steek. Hoe hulle dit doen, die weet ek nie?

    Die hartseer/ironie is, die koerant gaan nie verkoop as hulle ons net al die lekker, goeie stories gee nie.

  3. Jou inskrywing laat my dink aan die outobiografie wat ek eendag eendag gelees het, van ‘n joernalis wat oor die jare baie van Afrika se menseslagtings, hongersnood en oorloe gedek het. Die naam ontval my nou. Hy het self emosioneel nie ongeskonde daarvan afgekom nie.

    Daar is ‘n paradoks gekoppel aan joernalistiek: Is dit nie juis mense met empatie vir ander wat dit hul beroep maak nie? Dan word hulle blootgestel aan ‘n oordosis van emosionele ervaringe en daar word van hulle verwag om hul werk te doen sonder om persoonlik betrokke te raak.

  4. Uitstekend geskryf, ek lees alles behalwe die koerant, dit word elke dag afgelwer vir my ma en dan moet ek net walgooi of ek hoor elke ellende en seer van ander. Ek wens ek het jou vaardigheid met skryf gehad, maar of ek nou jou joppie wil doen. Nie so seker nie. sterkte….

    NS koerant moet al amper geel wees dan diep ek dit uit en snuffel inspirasie vir skryf… Besit so ‘n paar koerante (engels) van 1967 – 1969.
    groete

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s