Om skoon te maak

Nou ja, soos die lewe dit wil hê, moes ek ‘n bietjie vervel die laaste paar weke. Dié dat ek so skaars was hier op die blogs. Soos ek hier tik, is die meeste van my bokse al uitgepak, en dit waarvoor ek nie in my kleiner huurhuis plek het nie, staan in die motorhuis.

Die dat ons elke oggend met groot fanfare ryp en ys van die bakkie se vensters afskraap.

Al wat nou oorbly, is daardie bokse wat ek nie lus het om uit te pak nie. Soos die ou fakture en rekeninge wat ek al in ons vorige blyplek moes uitsorteer en nou net weer in ‘n boks geneuk is.

Skilderye moet nog gehang word, en ook die familiefoto’s wat in die vorige huis teen die trap gehang het.

Dan moet die twee vragte junk wat nie meer werk nie, maar wat vir ander mense treasure troves is, na Jors toe gery word waar hy dit vir (hopelik) ‘n paar honderd rand vir ons gaan opveil by sy maandelikse veiling. Onder meer ‘n stoel waarvoor ek net glad nie meer plek het nie, en my twee juicers wat altwee lek.

Die realiteit van ‘n gesin wat op kontrakwerk oorleef in die huidige ekonomiese klimaat, moes my van my vorige huis laat afsien. Dit was my droomhuis waarby ek as kind verby gery het en geweet het: in jou gaan ek eendag bly. En ek was bevoorreg genoeg om vir amper vier jaar dit my tuiste te maak.

Toe moes ek besluit: gaan ek in my droomhuis wakker lê in die nag oor geld, of gaan ek dit laat gaan en nie meer (so erg) bekommerd hoef te wees nie.

Nou bly ek in ‘n oulike huurhuis, met ‘n kaggel en plankvloere. Ek en my gesin besef vir die eerste keer hoe ver ons van mekaar geleef het in ons kasarm van ‘n huis. Nou is ons, letterlik, die meeste van die tyd in mekaar se geselskap, oor ons moet wees. Ons sit voor die kaggeltjie en gesels met die kinders.

Ons kan nie meer ‘n hele oggend gaan sonder om mekaar nie te sien nie.

Soms lê die die grootste seëninge in wat jy dink die grootste ramp is wat jou nog ooit getref het.

Ek bly miskien nie meer in ‘n kasarm nie, maar ek bly nou in ‘n HUIS.

24 thoughts on “Om skoon te maak

  1. Pingback: Tannie Tossel se blokstorie « Toortsie se Blog

  2. Na drie (of is dit nou vier?) ‘downgrades’ wat blyplek betref die laaste paar jaar lyk dit darem of ons kurwe nou weer opgaan na ons nuutste ‘upgrade’. Ek sal egter die swaar tye nie verruil nie…ons het as gesin gegroei en vandag is ons vier gelukkige siele wat vir mekaar omgee. ‘n Hegte familie.

  3. Ek weet hoe jy voel – ek het al lang trane oor huise gehuil, ek moes al van gaatjies ‘n huis maak. En uiteindelik het ek besef dis nie die mure wat die huis maak nie, dis die mense. Jou huis is waar jou hart is. Mag jou nuwe huis jou hawe en jou hart word🙂

    • Mens heg te blerrie veel waarde aan goed wat op die einde nie saak maak nie. Ons vrouens wil mos sekuriteit hê, maar teen watter prys? dankie vir die mooi wense!

  4. Ek hoop die nuwe huis word ook ‘n droomhuis waar jy jouself ten volle kan uitleef! Mag daar nuwe drome wees wat almal jou lewe mooi maak. En mag die toekoms weer beter wees met die kontrakwerk saam vir julle!

    • Dankie Bileam, dis soms lekker om jou drome aan te pas. Mens heg te gou waarde aan die verkeerde dinge, en het net ‘n hupstootjie nodig om jou weer in die regte rigting te druk. Be it dan dat kontrakte opdroog om die hupstootjie te bewerkstellig, né!

  5. Dit moes ‘n moeilike besluit gewees het, maar ek bewonder jou dat julle dit met ‘n gees van positiwiteit aangepak het. Sulke positiwiteit is die een ding wat ‘n mens altyd weer bo kry.

    • Die positiwiteit is ook nie altyd daar nie, glo my, ons het ‘n paar lekker onderonsies deurgewerk die afgelope paar weke. Gelukkig het geen bloed gevloei nie😉

  6. Great inskrywing Murphy, dit is seker een van die grootste gawes wat jy besit, om die beste in enige slegte situasie te sien en daarvolgens te leef, geniet jou gesin, mooi bly, xxx

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s