Balans. Of: My voorsate was lief vir byle.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het my groot-oumagrootjie op ons plaas die Engelse vrou-alleen vir drie dae met ‘n perd en een geweer van die huis weg gehou.

Die mans was almal weg op kommando en sy het alleen by die huis gesit met my oupa (haar kleinkind), wat in 1898 op die kombuistafel gebore is, en sy boetie en sussie. Uiteraard wou sy nie daardie kombuistafel sommer so aan die kakies oorhandig nie, watwou nog haar kleinkinders, beeste en skape.

Die plaashuis was op ‘n heuwel (relatief gesproke, want dié is die Vrystaat) geleë. Sy kon ver in die vallei af sien tot by die rivier, waar die kakies kamp gemaak het en hul daaglikse terroriseringsessies en eie weergawe van affirmative shopping in die skaapkraal kom doen het.

Dit wat hulle nie wou eet nie, is keelaf gesny of aan die brand gesteek.

Na drie dae het versterkings opgedaag en het ‘n hele kommando van Haar Majesteit se beste opgedaag om haar te vang en konsentrasiekamp toe te neem.

Die kindertjies is op die wa gelaai, maar my oumagroot moes die 12 km na die kamp kaalvoet aflê, tot groot vermaak van die dapper soldate.

Later, toe een van die Britse ampsdraers die konsentrasiekamp besoek het, was daar ‘n ernstige tekort aan brandhout vir kosmaak en water kook.

Oumagroot het gou ‘n rebellie gereel onder die vroue en toe die man se perdekar by die kamp se hek inry, het hulle die karretjie bestorm en dit met handbyltjies opgekap. Hy moes maar wag vir ander vervoer verder.

Sy is later huis toe. Al die kinders het dit oorleef, maar van die plaas was nie veel oor nie. Die diere was almal dood en die plaashuis, kombuistafel en al, is tot op die grond afgebrand.

Vandag wonder ek: Sou ek dieselfde moed gehad het? Vloei daardie bloed regtig in my are, of het gemaksug en moderniteit my kookwater braafheid tot louwater laat afkoel?

As kind het ek telkemale in die veld gestap en gietysterkanonkoeëls bymekaargemaak en saksgewys huis toe gekarring, tot groot irritasie van my ma, wat maar altyd ‘n lêplek daarvoor moes kry.

In ‘n boek oor ons dorp word darem ook gemeld dat daar ‘n bylmoordenares ook in my voorsate is.

Balans.

Een van die menige koeëls uit die Anglo Boereoorlog wat ek as kind op die plaas opgetel het

19 thoughts on “Balans. Of: My voorsate was lief vir byle.

  1. Aan beide kante van ons familie was daar slagoffers, een van die oupagrootjies was ‘n krygsgevangene en het met sy terugkoms ontdek dat sy vrou en 5 van sy 6 kinders in ‘n konsentrasiekamp dood is. Die ma is so tussen die kinders dood, ek wonder altyd wie na die kinders wat oorgebly het omgesien het tot hulle dood.

    Aan die ander kant was die stoereboervrou, buurvrou van Pres Kruger, sy het hom een oggend gegryp en uitgetrap dat hy verwag van die Afrikaners om te veg maar sy ossewaens staan klaar gepak om weg te vlug Rhodesië toe. Daardie grootoumagrootjie was baie taai, sy het ‘n hele paar mans oorleef, sy is nogal groot inspirasie vir my.

    Ek dink nogal jy sou net so hard terugbaklei het, kyk hoe hard het jy vir jou geboortegrond baklei.

  2. My ma het my al vertel hoe die Engelse al die diere op die plaase doodgemaak het. Die koring op die lande aan die brand gesteek het en al die vrouens en kindertjies konsentrasiekampe toe geneem het. My oumagrootjie was in a draad hok gevange gehou vir drie dae sonder beskerming van die warm son. Sy het in die hospitaal in die konsentrasiekamp gewerk en sy het water vir ‘n kind gegee wat erg koors gehad het. Dit was nie toegelaat nie en toe straf hulle haar deur haar in die hok te sit. Ek is nie so dapper soos jou oumagrootjie nie.

  3. Ek onthou goed hoe my dogter nog in die 1960s uitgejou is oor sy dit durf waag het om ‘n Engelse vriendin te he. Haar skoolmaats het gemeen dat sy die ABO in ag moes neem en niks met die vriendin te doen moes he nie. Dus stem ek saam met Ekkedink dat ons eers teen 2050 kan verwag dat dinge sal beter word. (Dit is nou as dit nie eers heelwat slegter word nie.)

  4. Ek stem saam met ekkedink. In die laat 90’s het ek nog oumense met wrewel teenoor die Engelse oor die ABO hoor praat. Loop altyd ‘n myl in die ander ou se skoene. As ek ‘n swart ma was wie se kind net verdwyn het in die apartheidsjare, omdat hy durf waag het om op te staan vir sy reg as mens, wanneer sou ek vergewe? Heel moontlik nooit. Dis nie reg nie, maar dis menslik.

    Ek like jou agter-oumagrootjie. Vertel gerus meer van haar🙂

  5. Murph, dit is wonderlik dat jy sulke stories oor jou familie het. Ek versamel narstiglik soveel moontik stories oor my familie as wat menslik moontlik is, maar die mense wat die stories vertel het is nou amper almal weg.

    Bly dat ek jou raak ge”click” het hierso.

  6. eishhh, jy’t in ‘n ander post verwys na die swart-wit / boer-brit verbittering…. hier kom krap jou post sommer nou weer gevoelens jeens die britte oop hier binne-in my….maar ek moet dit weerstaan! ek verwag dit immers van swartes (wel, verwag dalk nie maar hoop).

    sal ons dieselfde karakter hê vra jy? ek dink so, maar MOET ons? oorlog het geen wenners nie; so het die AngloBO ons mos mooi gewys. weet nie, wonder maar…

    @jan: ek dink 14jr is nog bietjie kort vir daai “saam-leef” wat ons vandag tussen ons en die kaki’s het. ek sou reken, 14jr na die Anglo-Boere oorlog was dit maar nog erg broos in ons land! dis net na unifikasie, sappe en natte. miskien moet ons mik vir 2050 / 2060 rond vir daardie “vreedsame naasbestaan” wat ons almal so voor hoop!

  7. “In ‘n boek oor ons dorp word darem ook gemeld dat daar ‘n bylmoordenares ook in my voorsate is.”
    En ek het altyd gedog my voorsate wat in Renfrewshire verbrand was vir witchcraft was wild. Vertel bietjie van die bylmoordenares?, dit is vrek interresant want wat sal veral ‘n vrou na so iets dryf?

  8. Wel een ding is seker. Julle familie is goed met byle🙂

    Op ‘n meer ernstige nood. As mens praat van onderdrukking en sulke dinge, is dit eintlik wonderlik oor hoe goed Afrikaanse en Engelse mense in ons land met mekaar oor die weg kom. Ek persoonlik het nog nooit ‘n haat ervaar of by iemand anders teegekom teenoor die “kaki’s” in ons land nie.

    Dit is jammer dat vandag se realiteite tov wit en swart soveel anders is. ‘n Mens sou miskien kon hoop dat die haat sou verdwyn het met tyd en ‘n nuwe generasie. Ongelukkig vervaag daardie hoop as mens kyk na die Malema’s die vure stook, juis onder die jeug.

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s