Stort gou ineen, en maak dan hotdogs.

Gisteraand kyk ek op Oprah hoe sy ‘n onderhoud voer met Iyanla Vanzant wie in die laat 1990’s gereeld op die Oprah Show verskyn het as motiveringspreker en verhoudingsadviseur.

Die lank en die kort daarvan is dat sy wat Iyanla is, destyds grootkop gekry het, Oprah se hand wou forseer om haar eie program te kry (sy ontken dit vandag, maar dit was duidelik wat gebeur het), en dat die Oprah-netwerk haar soos ‘n warm patat gelos het.

Sy is vandag haar fortuin van miljoene kwyt, het haar huis verloor en is basies vervreem van haar oorlewende kinders. Sy lewe deur scented seep te maak en te verkoop en lewe van ‘prayer to prayer’, soos sy dit stel.

In haar nuutste boek Peace from Broken Pieces vertel sy van haar reis vanaf ‘n multimiljoenêr, deur die dood van haar kind, die verlies van haar inkomste en fortuin, en hoe sy sin gemaak het daaruit.

‘n Mens kan glad nie apaties staan teenoor die vrou nie, soos ook blyk uit die uiteenlopende resensies van en reaksie op haar boek en verskyning op Oprah. Sy is ‘n groot karakter, met sterk opinies (ook van haarself) en die bietjie nederigheid wat af en toe (en half met voorbedagte rade) te voorskyn kom, blyk nie altyd so opreg te wees nie.

Maar haar sin vir humor is aansteeklik, en ek dink dit gaan haar weer op haar voete help. Haar vertelling van haar ineenstorting voor die broccoli-rak in die groente-afdeling van ‘n upmarket supermark, is skreeusnaaks.

Een ding wat sy vertel het, het egter by my vasgesteek.

Dit is hoe sy, juis die dag van die groot broccoli-ineenstorting, op daardie oomblik alle seerkry, verkeerde en dom besluite, verlies en pyn, ervaar het asof dit op daardie oomblik in haar siel kom sit het.

Toe dink ek: Hoe dit  moontlik is dat ‘n mens sommer so, halfdrie op ‘n Dinsdagmiddag, skuins voor die yskas, geklap kan word deur alles wat die afgelope paar jaar verkeerd gegaan het. Hoe al die besluite wat jy geneem het, sommer so skielik en swaar soos ‘n sak mielies op jou skouers kan kom lê.

Hoe jy dan net by die kombuistafel gaan sit, jou gesig in jou hande, en huil oor alles. Jy gaan haal dit mos hier by jou hond wat kleintyd deur die buurman op die plaas vergiftig is, die geld wat jy spandeer het op stront wat jy nie nodig gehad het nie, maar wens jy’t nou gehad, die kere wat jy nee gesê het toe jy ja moes sê en en andersom.

Dan gaan los jy dit by mense waarna jy verlang wat jy nie ken nie.

Die kere wat jy iemand se liefde vinniger moes beantwoord het.

Wat jy nie so ‘n totale drol oor dinge moes gewees het nie.

Wat jy net meer mens moes gewees het. Minder trots.

Dan staan jy maar weer op van die tafel af, en maak hotdogs vir aandete.

18 thoughts on “Stort gou ineen, en maak dan hotdogs.

  1. Dan staan jy maar weer op van die vloer/stoel/tafel waar jy jou oë uitgetjank het en jy begin huis skoonmaak. Dis MY terapie. (Want die luukse van eet as jy hartseer is, is iets wat ek myself nog nooit kon waag toe-eien nie😉 )

  2. ek dink enige normalie aksie in n ongewone situasie kan die vrees vir die abnormale verminder. Ek het seker in al die jare wat oprah op is in geheel n hele episode gesien. Dit is wanneer my dogter my geroep het on n insetsel te kyk.

  3. Ek het vanoggend so ‘n totale ineenstorting oor ‘n paar jeans gehad, toe besef ek dat ek regtig sal moet wegkom, of ek dit nou kan bekostig of nie. As jou kiepies vir jou aankyk met sulke bok-ogies dan weet jy, nou moet jy ‘n plan maak. Great writing, by the way, jy het nou maar een maal ‘n talent met woorde, ek hoop jy blog lank en gelukkig hier.

    • Dankie Celia, wat ‘n nice ding om te sê! Ek voel bietjie veiliger hier, maar ek weet nie of dit .n gewaande gevoel is nie.

      Vanoggend loop die twinnies by die trappe op. Die een sê vir die ander een: “Hoekom is mamma so lelik met ons as ons dan niks gemaak het nie?:” (LW hulle wou nie hulle kouse onder hulle skoene aantrek nie, maar toemaar). Ander twinnie: “Ja, hoekom as ons niks gemaak het nie.”

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s