As jy vorentoe en agtertoe kyk, gaan jy skeeloog word.

Om ‘n nuwe begin te maak, is goed vir jou. Dit keer dat jy vasval in ‘n groef, jou boude dik raak en jy ‘n tjoep om die middel ontwikkel. Of vol van jouself raak. Of ander keelvol vir jou raak.

Om ‘n nuwe begin te maak, is soos om sushi vir die eerste keer te eet. Jou lyf trek eintlik ineen van gril, omdat jy nie weet wat vir jou voorlê nie.  Aan die een kant het jy die vurige sushi-eters wat jou aanhits, hoog op wasabi en sashimi.

Aan die ander kant is die steak en chips-manne wat jou aanbeveel om maar eerder net te bly by dit wat veilig is. Wat sê sushi is vir mal mense en bewoners van Japan.

(Walvisse kan nie enigiets sluk wat groter is as ‘n pomelo nie, so terloops.)

Volgende week word ek 40. Terwyl ek die week onder die komberse gelê het, onder die invloed van ‘n eksotiese virus en dronk van hoesmedisyne en Benylin 4 Flu, het ek in my geestesoog gesien hoe ek ‘n nuwe begin maak.

‘n Begin waarin ek ligvoets huppel oor die  grasvlaktes van sukses en dans op die grafte van my vyande. Waar ek skuldvry onder ‘n groen wilgebroom lê, terwyl my tieties punt in die wind staan en my plat magie tussen my heupbene wegsink. Salig.

Waar ek ligweg in die verte hoor hoe my nanny my vierjarige tweeling roep om hul broccoli te eet, en hul laggend aan tafel gaan sit en vra of daar nie pampoen ook is nie.

Ek is gou deur ‘n hoesbui van dié koorsdroom gered.

Wat is dit aan die 40’s wat ‘n mens met nuwe waardering na jou eie menswees laat kyk? Weg is die angst en die vreeslike selfbejammering wat met die 20’s gepaard gaan. Weg is die gedrewenheid van die 30’s, die vreeslike soeke en eksistensiële krisisse.

Nou kyk jy met nuwe oë na dit wat jou gebring het tot waar jy is, en na waar jy vandaan kom. Jy het ‘n nuwe waardering vir die struwelinge wat jou ouers deurgemaak het, dalk in tye wat oplossings moeiliker bekombaar was as nou.

‘n Waardering vir die pad wat jy gestap het, en ‘n diepe dankbaarheid dat jy nog al jou tande het en boonop nog lewe om ‘n storie te vertel.

Ek het in die afgelope tien jaar albei my ouers aan die dood afgestaan, getrou, ‘n tweeling gekry, ‘n helse boedelgeveg verloor maar oorleef,  geboortegrond prysgegee aan iemand wat geen agting het daarvoor nie, weer opgekom, ‘n mislukte besigheid oorleef (of soort van) en sewe keer getrek. En hier sit ek vanaand.

Gesonder en beter daaraan toe as wat ek ooit in die dekade voor die afgelope een was. Arm, maar ryk.

Daar is niks so gesond soos verandering nie, maar niks beter as gedwonge verandering nie. Niks leersamer as wanneer die lewe jou op jou knieë dwing en jou leer dat jy nie so belangrik is as wat jy reken nie. Dat jy nie die kroon van die skepping is nie, maar net ‘n stekie in ‘n baie, baie groot tappiserie.

Ek sien uit na my nuwe dekade.

Ek hoop ek haal vyftig. My skuldeisers ook.

12 thoughts on “As jy vorentoe en agtertoe kyk, gaan jy skeeloog word.

  1. Genade, wag met al daai diep goeters tot julle 60 is! Dan praat ons weer. Dis die tys wat die verlede skielik meer in jou gedagtes is as die toekoms ens…… maar wag, laat ek ne afdwaal nie….

  2. ek kan nou nog nie tot die idee succumb dat mens “nie so belangrik is as wat jy reken nie”. Jy klink my is ‘n enkel ouer met ‘n man en twee kinners! ‘n situasie waar jy belangriker is as wat jy reken en jou wese intrinsiek en essensieel is tot die suksesvolle beweeing van die wiel wat die klok wysers draai na die aankomende en onvermeibare toekoms van jou gesin ( jirre ek spel soos ‘n kind) Respect vroumens. “Wat is dit aan die 40′s wat ‘n mens met nuwe waardering na jou eie menswees laat kyk? ” Dis die wete dat jy nou maar is wie jy is en doen wat jy moet doen binne jou volgende dekades om jou eie boedel te los met meer as net die materiele, en eerder iets na laat wat verykkend is tot die samelewing en upliftment tot die masses en nie net die oorlewing van jou familie is nie. Dis eers as jy jou geboortegrond prysgegee het dat jy besef die wereld is koud en lustig vir wat jy kan los in ponde en dis die wete in jou siel wat jou dryf gee om meer as dit te los. As jy daai ouderdom slaan wat jou lus maak vir ‘n nuwe begin dan is dit die begin van jou einde wat jy wil maak tel, jou inprint los om belangrikker te wees as wat jy reken. mmmmaar wat weet ek tog,..wel al wat ek weet is dat dei lewe jou ‘n helse houslaan sodat jy nie net nog ‘n boaring mens is nie, dat jy eers deur die kak gesleep moet word, jouself uit die kak uit moet help en dan die kak kan gebruik as kunsmis in jou lewenes tuin voordat jy rus kan kry in jou siel as jy met juo tiete onder die grond le en lewe gaan aan die bossies legecy wat uit jou graf kan groei.

  3. Jinne – julle is almal nog embrio’s😆

    Turskvy – jou vy – ek het klaar 50 geslaan en NIKS aan my hang nie!! (wel, miskien die tieties so bietjie) Nee wat, die lewe is nou EERS lekker👿

  4. Hier by ons meet ons ook nie ons rykdom aan die dikte van ons beursies nie. Hello Murphs. Al sien ons mekaar nie, dink ek tog ons stap dieselfde pad.

    Maar hel jy raak nou oud! 🙂

    (Toemaar ek slaan self volgende jaar die 40)

  5. LOL! Jy kon net sowel hierdie vir my geskryf het. Net, jy klink of jy weet waarheen, ek glad nie! 😆

    Weet nie wat ek wil he nie, weet nie wat ek wil doen nie, weet boggerol.
    BTW, moenie verder droom oor stywe tieties en maer magie nie. Worry eerder oor die nekvelle wat nou gaan begin hang. Jy sal sien, gee dit nog so 3 jaar. :mrgreen:

Wat sê jy?

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s