Moeggesloeg.

En daar sloeg ek vandag neer terwyl ek draf. Voor ander mense. Kyk, as dit mos nou ek was wat moes kyk hoe sloeg iemand soos ek het, sou ek gelag het. Dit was een van daai slowmotion tipe sloege.

Ek het gesien hoe kom die aarde nader, soos daai lelike oom met die nikotiensnor wat jou elke Kersfees sulke nat soene gee. Jy wil hom vermy maar jy kan nie. Dan gee jy jou maar oor en hoop jy kom heelhuids ander kant uit.

Toe skuif ek vorentoe soos ‘n ploegskaar in ‘n nat land. Behalwe die land was nie nat nie, net vol donnerse klippe. Ek dink van hulle sit nou nog onder my palmvelle. Die enigste gedagte wat deur my kop gegaan het, was: Ekhoopnieiemandsienmynie -asem- jittemyvettedrilsekernoulekkervanagteraf.”

Toe staan ek maar net op en draf verder. Soos mens mos maar moet in die lewe.

Later het ek eers agtergekom die bloed stroom teen my vingers af en drup op die grond. Soos mens mos maar ook eers na die tyd agterkom in die lewe, wanneer stront jou tref.

Toe ek by die huis kom, inbox ‘n kollega in die mediabedryf in die Vrystaat my. Sy vra: “Marlene, hoe skakel jy af? Ek kry nie my kop stil nie.”

Ek skryf terug: “Ek het my vandag des moers geval by die Parkrun”.. Want sien, vertel ek haar toe, dis oor ek nie gekyk het waar ek hardloop nie. Oor ek nie my kop afgeskakel kry van werk af nie. Oor ek altyd in my kop besig is met dinge wat ek nie nou met my lyf mee besig is nie.

Dis hoekom ek baiekeer nie hoor wat my kinders vir my sê nie.  Of my man. Of die kassier by die supermark. Want ek is altyd op ‘n ander plek. Ongeskik en afwesig.

Die naam daarvoor is ”mental overdrive”, sê my kollega.  Mental overdrive. Soos ‘n kar wat in die rooi gerev word. Ek kan dit verstaan. Dit is hoe dit voel. Jou brein rev in die rooi en jy moer neer op die klippe en gruis.

Na ek en sy bietjie verder gesels het, en ek my foon neergesit het, het ek besef. Ek sal weer moet joga begin doen. Dit werk.

En as ek dan neermoer (wat heel waarskynlik is) is dit te  minste in die privaatheid van my eie sitkamer, ten aanskoue van slegs my eie persoonlike hond.

 

 

Advertisements

Oorkoming

‘n Rukkie gelede is ‘n kollega baie skielik (en baie jonk dood) nadat sy op kantoor voor haar rekenaar siek geraak en hospitaal toe moes gaan. Dit het ons kantoor in ‘n warboel gelaat. Om die gevolge hiervan te probeer beperk, het ons baas dit goed gedink om ‘n groepsberadingsessie te hou. Dit was goed so.

Op die beradingsessie het die sielkundige ons beurtelings gevra om elkeen ‘n woord te gee wat ons kollega beskryf.

Woorde soos dapper, integriteit, hardwerkendheid en moed was aan die orde van die dag. My woord wat ek vir haar gehad het, was oorkoming. Dis eintlik (in my opinie) nie ‘n  mooi Afrikaanse woord nie. Dis ‘n lui woord wat nie die werklikheid van die daad beskryf nie.

Dis nie hard soos ”knars” of  de moer in soos ”befok” nie. Dis nie vloeiend soos ”grasieus” en sielkundig geknak  soos ”bomskok” nie.   Die nie so sleg soos ”verkaklik” en planke toe gesuip soos ”mampoer” nie.

Die woord ”oorkoming” verleen nie die gravitas wat die proses van oorkoming verdien nie.  Want om oor iets te kom,  knars jou siel tot gruis, dit fok jou op en ontneem jou van alle grasie, soveel so dat jy soms op ‘n vloer lê en verstik in jou eie snottrane. Dit laat jou werk toe gaan soos iemand met bomskok, aan die omkyk vir die volgende verkaklike ding wat jou gaan tref. Dit laat jou selfmedikeer aan mampoer.

Ek gaan nie die hele lys van dinge wat my oudkollega moes oorkom hier lys nie. Genoeg om te sê dat talle rugoperasies, skoliose, ADHD en Aspergers-sindroom deel daarvan uitgemaak het. Daar was nog vele meer, glo my maar.

Maar weet dit: sy het. Sy het dit oorkom soos ‘n kampioen. Sy het ‘n sukses van haar loopbaan gemaak en haar plek in die lewe volgestaan. En toe sterf sy.

Die lewe is inderdaad ‘n poespas. Wat ons moet oorkom.

Twee jaar van bekhou en aanhou

Hoe lyk dit om na twee jaar weer iets op ‘n Blog te kom skryf? Dis amper soos om ‘n stowwerige stink motboljas uit die kas te gaan haal. Maar miskien is daar ‘n ou R100-noot in dié motbol-blog se sak. Vader weet, ek het dit nodig.

Is blog uit die mode? Wie weet. Daar was ‘n tyd wat ek soos ‘n tik (see wat I did there?) verslaafde elke dag voor Litnet se blogs gesit het en gelees het wat elkeen getik het.

Ja selfs die blogs van dié wat nie kan skryf nie, maar eintlik net tik. En veral die wat nie kan dig nie.  Later het ek maar daai blogs oorgeslaan. Want mens kan net soveel keer sien hoe mense wat eintlik nie kan skryf nie, opgehemel word. Maar dit is net my opinie, en soos die mense sê: Opinies is soos boude, elkeen het ‘n paar. Elke skrywer het ‘n leser, na bewering.

Later, toe die bekgevegte destyds uitbreek, het ek my hele blog uitgevee. Ek was moerig en gatvol soos ‘n driejarige. En iewers het ek MOS gelees ‘n goeie kunstenaar breek maklik sy beeld in stukke, want hy kan mos ewe maklik weer ‘n nuwe een maak. So my blog is daardie tyd na moer gebreek en ek het hier op WordPress kom blog. Nie dat dit my toe verander het in ‘n goeie kunstenaar nie. Maar dis mos die effort wat tel.

My Litnet-blog is so weg, dat hy nêrens te vinde is nie. Miskien ook maar goed so. Netnou lees ‘n baas dit raak en ek verloor my aansien (die wat my goed ken sal nou uitbars van die lag).

Maar daar is mos iets aan skryf. Skryf maak jou siel oop, dis nou as jy van skryf hou en een van daardie soort is. Ek is. Daarom sal ek maar weer iets hier kom opsit elke dan en wan.

Dit keer my dalk van die brug af spring.

 

 

Miss Congeniality: South African fiction

Calling Through The Fog

top pic

Authors’ incomes collapse to ‘abject’ levels.

That’s what the headline on The Guardian said, and I was frantic to know more. Which authors? Was it me? Were my annual royalty cheques of R250 about to plunge to R50? Less?

Usually I read like a millenial, which is to say I base my world view on the first three words of headlines from Buzzfeed articles on Twitter. But this time I read on.

Many professional authors in the United Kingdom, I discovered, were seeing their royalties plunge. Some who had earned their living from writing books were facing the prospect of – dear reader, are you sitting down? – not being able to write fiction as a full-time occupation.

Star-Trek
Mal Peet, a celebrated writer of novels for children, told The Guardian that his direct income from sales had become “literally abject”. His royalty cheque for the last months of 2013…

View original post 3,835 more words

Jy sal nooit weet voor dit te laat is nie.

Eendag, lank lank gelede, het ek bykans elke dag voor die rekenaar gesit en iets geskryf. Dit was òf deel van my werk, òf ek het by die huis gesit en iets te sê gehad. Iets wat mense wou hoor. In sekere opsigte was dit die lekkerste, maar ook die slegste tyd van my lewe.

In daarde tyd was ek soms verlore vir myself, weg vir my kinders en onbekombaar vir my man, omdat daar groot persoonlike verliese in my lewe plaasgevind het. Daardie verliese het gemaak dat die spasie in my kop iets geword het waar ek elke dag vertoef het, maar dit het ook my tronk geword.

My verlosser en my bewaarder.

Ironies genoeg, was dit juis daardie verliese wat gemaak het dat ‘n paar half-verlepte gedigte en drie beskaafde stories – elke dan en wan – op ‘n bladsy kon realiseer. Die ou geykte storie van die skrywer wat skryf wanneer hy op sy seerste is, en ‘n doodgewone wekrklose word as dit met hom redelik goed gaan.

In daardie tyd het stories oor geldelike verlies, persoonlike teleurstellings, half hoopvolle toekomsdrome en verbeeldingryke verliefdvlugte gegaan. Niks spesiaals nie, net gewoon.

Die meeste van dit was waar, en die res was in my kop (die toekomsdrome en die verliefdgeit).

Vandag sit ek en wonder of dit moontlik is om twee lewens te lei.

Een waarin jy gekonnekteer met jou roeping deur die lewe gaan, waar jy uitreik na die “universe” en funksioneer vanaf jou ware self. Waar woorde soos water vloei en jy kan drink uit die fontein van jou oorsprong.

Van daardie plek warvaan jy af kom: Waar jou binnekantse self sy ontstaan gehad het.

En dan ‘n parallelle lewe, waar jy gewoonweg net Sondagoggend voor die visblikrak in Checkers staan en wonder of jy twee woorde agtermekaar kan string, omdat jy vir die afgelope jaar vanaf jou buitekantse self funksioneer. Daardie plek waar jy net oorleef en bestaan.

Daardie plek waar jy voor die afgrond staan en dit nie eens sien nie, omdat jy blind geword het daarvoor. Waar jy gaan afval as jy vorentoe tree.

Wie weet? Dalk is die beste deel van jou lewe al verby, maar jy sal nie weet voor dit te laat is nie, né.