Die vreemdste ding het gisteraand met my gebeur.
Kyk, ek het ‘n vriendin wat baie meer spiritueel ontwikkel is as ek. Ek is 1+1=2 en sy is E=MC². Ek is two minute noodles en sy is gevulde canelloni.
Maar na gisteraand dink ek het ten minste nou een vlakkie op die evolusionêre geestesleer geklim.
Toe my ma dood is het ek ’n Carlo Sdoya-skildery geërf. Dis nie baie werd nie, maar is my kosbaartse besitting, sentimenteel. Omdat ons ons huis huur, het ek nog glad nie my skilderye opgehang nie, hulle staan in die sonkamer, skuins teen die muur staangemaak.
Gisteraand, halfnege, loop ek toevallig by die skilderye verby, wat met hul rugkante na buite staan. Iets sê net vir my, ‘n klokhelder stem, en ek kry so ‘n hol kol op my maag: “Die skildery is nie daar nie.”
En hy is nie. Ek en Stilman soek en soek en soek die hele huis deur, tot in die garage, (maar ek weet ek sal nie die skidlery ooit in die garage bêre nie, nooit.)
Later baklei ons soos kat en hond, want hy was verantwoordelik vir die trek hiernatoe (ek vir die inpak) en ek is kwaad en wil iemand blameer. Maar ek het ook nie gekyk of die ding hier is nie, net aangeneem. En die skildery wat net langs hom gehang het in die sitkamer is hier, almal is hier, behalwe daai een.
Ek kan glad nie meer sê of hy ooit gekom het of nie, ek het drie keer deur die ou huis geloop en gekyk dat alles af is en weg is en dat die huis leeg is. Ons bly al ses maande in die nuwe huis. As ek iets vergeet het, sou die nuwe mense vir my gese het, want ek en die vrou ken mekaar al jare.
Ek is stomgeslaan en platgeslaan.
Nou dink ek maar net aan Slakkelak en vertel myself ek moet maar net perspektief kry, dis net een skildery.
Toe ek dit vir my vriendin vertel (die een van spirituele E=MC²-faam) sê sy sy dink my ma wil vir my iets sê. Dat ek moet begin losmaak van iets, of aangaan met iets wat sy my geleer het.
Maar ek weet eintlik reeds wat my ma vir my wil sê. Sy is al amper tien jaar dood. Ek het vanjaar vir die eerste keer regtig begin aanbeweeg na dit. Nou die dag, toe ek langs die gholfbaan draf, toe kom ‘n vredegevoel oor my wat ek nie kan beskryf nie. Vir die eerste keer in baie, baie jare van hartseer en huil en verlies. En wroeg (oor ander dinge en verliese ook).
Want toe besef ek: Hier is jy dan nou nog. Jou pa en ma is dood, jy het ander groot verliese ervaar, baie groot verliese, maar hier is jy nog. Jy lewe, en wat, WAT is hierdie gevoel in jou?
Kan dit dalk…wag..’n bietjie happiness wees??
“Jy moet begin losmaak van hierdie alewige storie van verlies wat jy oor jouself vertel,” is wat my ma wil sê, ek weet dit.
En dis ‘n groot stap vir iemand wat ‘n jaar gelede nog absoluut uitmekaar sou geval het oor die skildery. Nou het ek maar vir my ma gesê sy kan dit vir my terug laat kry as sy wil, of miskien het die een wat hom nou het, dit nodiger as ek.
Of dalk het hy iewers beland waar ons hom net nie nou kry nie. Maar eintlik maak dit nie regtig meer saak nie.







