Hoekom ek (dink ek) vandag vir Hansie Cronjé mis

Reblogged from MJ Lourens :

Click to visit the original post

Ek hou nie van krieket nie – ek kyk dit nie, dit verveel my tot die dood toe – maar ek het ‘n ietwat hartseer in my stem vandag as ek oor Hansie praat.

Is dit omdat ek dit moes lees? Is dit oordat die foto op die voorblad wat ons aan hom herinner ‘n sagte, wit en swart potloodskets is?

Read more… 214 more words

Geskryf deur Volksblad se webredakteur, MJ Lourens.

Nampo……….oeeesdag! (En hoekom ons soms ons kinders vergeet).

Soos die lewe dit wil hê, dwing jou lyf jou mos tot stilstand as jy nie wil of kan nie.

Die noodlot het bepaal dat ek die afgelope maand (minus die afgelope week toe ek omgedop is) nogals moes graft. Een kollega was met verpligte verlof, en toe breek daardie lastigheid met die naam Nampo ook aan, en ek moes inspring met werk wat rondom die Nampo-Oesdag (ons locals noem dit iets anders, wat nie in beskaafde geselskap tuishoort nie) nodig was.

En nog ‘n plaasaanval of drie breek in een maand uit, met die meegaande boere- en veiligheidsvergaderings en dinge daarmee saam. Wat beteken het dat ek my koerantbakkietjie menigmaal na-uurs op verlate platteland-potholepaadjies in die rooi gesteek het, met twee kleintjies wat deur ‘n babysitter of huishulp tuis opgepas word. En ‘n man wat iewers in Gauteng of die Oos-Vrystaat aan ‘n bank se dakbalk hang of onder kitsbanke lê, vir weke aan mekaar.

Dus het die kuggie wat ek vir van voor die Oesdag af geignoreer het, my toe Dinsdagaand omgedop. Met ‘n vat jou en fok jou, jy is nie Tarzan Tieties nie.

En sien, as mens nou so lê en almal ignoreer wat jou soek, dan dink jy weer oor alles. Is die paycheck die opoffering werd?

Daar is nie ‘n groter skuldgevoel as toe ek so twee Vrydae terug  my kinders by die kleuterskool oplaai nie en ek, toe ek instap, my kinders se traanbedekte gesiggies sien, en die juffrou vir my sê: “Jou kinders se partytjie waarheen hulle twee-uur moes gaan, is seker lankal verby.”

Ek het pas klaar met ‘n iemand ‘n onderhoud gevoer wat die vorige aand in ‘n plaasaanval was. Kon nie die persoon aanjaag nie. En in die proses heeltemal vergeet van die partyjie.

Ek wou kwaad word en vir haar sê: “Jy is vinnig om my te bel as ek vyf minute laat is om hulle op te laai, vir dieselfde prys kon jy seker maar die telefoon opgetel het en my net gevra het of ek van die partytjie vergeet het? Toe laat huil jy hulle maar twee-en-’n-half-uur by die skool. Ek kry die boodskap, ek is ‘n kak ma.”

Maar nou ja, dis nie haar plig om my te herinner nie, dis myne. En baklei sou nie help nie. Toe jaag ek maar partyjie toe en die partytjiemamma was gaaf genoeg om hulle nog 45 minute te laat speel (dankie Jackie), en my nie soos ‘n kompleet aap te laat voel nie.

En dit moet ek bylas. Daar is ‘n subtiele attitude-verandering teenoor my vandat ek weer voltyds in die tuig is. Nie van my tuisbly-ma-vriendinne nie. Maar wel van sommige minder bekendes en kennisse. ‘n Afkeurende afsydigheid, stille neerhalendheid. Een waarvan ek voorheen subtiel bewus was, toe ek nog by die huis was. Maar wat nou so groot soos die spreekwoordelike wit olifant in die kamer staan.

Jy kies werk bo jou kinders.

Aan elke ma waaroor ek nog nooit voorheen kon verstaan hoekom jy altyd laat was, hoekom jy nie altyd daar kon wees vir jou kinders se elke ding nie.

Jammer, opreg jammer.

Oordeel nie. Dis hArmone.

Ek is besig om in een van daai ongeskikte soort mense te verander. Julle weet mos, daais wat grom as jy hulle groet, of vinnig wegkyk, vir net ingeval jy dalk sy/haar oog vang.

Ek sien ek word nou so.

So grommerig.

En wegkykerig. So los-my-ytttttt-terig. Soos my pa. Hy was so los-my-ytt. Hy is later van tyd, kort voor sy dood, uit sy vyfuur-domino-klub geskors by die buiteklub. Oor iesegrimmigheid, want niemand kon meer lekker met hom huishou nie.  Vra vir oom Giep en oom Pollie, en oorlede oom Kolie. Hulle sal jou mooi vertel van die Vannermerwe-iesegrimmigheid.

Maar voor julle my nou oordeel en dink: “Ek het geweet daai ou ding is eintlik ‘n dingES,” laat ek myself verduidelik. Laat ek eksplaneer, soos mev. dr. ds. prof. Van der Strontpraat eenkeer vir my ouma gesê het.

Ek dink dis hormone. (Of harmone soos een vrou een keer in die skoonheidsalon vertel het. Sy is dokter toe oor haar HARMONE wat nou so mOElikheid gee.)

Daar is dalk ‘n goeie rede hoekom ‘n mens se vrugbaarheid afneem na 30. Dalk is jy nie veronderstel om, terwyl jy plooie beveg, ook vyfjariges moet beveg nie. En ‘n career van jou eie nie. En grootkorporasiewiele nie. En jou man se rugprobleme nie. En jou spreading middel nie. En huurhuise se stukkende vloere en kragbokse nie. En molotov-cocktails en plaasaanvalle nie. En Julius Che Malema se dralende teenwoordigheid nie (Watter deel van boggerof verstaan hy nie?).

So.

Dis nie die wêreld nie. Dis hArmone. En gene.

Oordeel nie.

Die formule van besluitneming

Wat is die formule vir besluite? Waar kan ‘n mens dit op die internet gaan soek?

Image

Iemand het een keer vr my gesê as ek ‘n groot besluit moet neem, moet ek die voordele en nadele in kolomme gaan neerskryf en dan sal die antwoord vir my duidelik word. Dis mos logies, as daar meer goed in die minus-kolom staan, dan moet ek dit nie voortgaan met wat ek wil of nie wil nie.

Vir my is daardie benadering windskeef. Nie oor dit ‘n slegte benadering is nie, maar omdat ék later nie meer weet of iets in die plus- of minuskolom tuishoort nie.

Hierdie raad, soort van deur myself uitgewerk uit ondervinding en ook aan my meegedeel deur ander regterbreiners, gaan beter af: Skryf die twee opsies op twee stukkies papier neer. Sit dit in ‘n houer. Skommel. Steek jou hand in en neem een, sonder om te kyk, natuurlik.

Die oomblik wanneer jy die papier uittrek, daardie millisekonde voor jy kyk watter een jy getrek het, luister jy baie hard na jou hart. Hy gaan vir jou sê watter een jy wil/moet doen, nog voor jy gekyk het.

Dit werk genuine.

Dit geld groot en klein besluite. Soos moet jy weggaan uit ‘n dorp en trek, of wil jy sjokolade of vanilla-roomys hê?

Wag, waar is my papiertjies?

Holkol-wintergevoel

Toe ek vanoggend opstaan, en die mistigheid lê oor tussen die bome in ons tuin, was dit meteens of die mistigheid wat die afgelope paar weke op my hart lê, lig.

Ironies, is dit nie?

Een soort mis wat ‘n ander een laat verdwyn.

Dit is ongelukkig nie my tuin nie, as dit maar was.

Die koms van die winter hou altyd vir my ‘n soort misterie in, asof daar hierdie jaar iets opwindends gaan gebeur wat nie verlede jaar plaasgevind het nie. Dit gebeur elke jaar dat ek so voel. En dan gebeur daar niks, behalwe dat dit verskriklik koud word, en ek teen Junie wens die winter was al om. Veral ná my verjaardag op die 19de, want dan is daar niks om na uit te sien behalwe die lente wat voorlê nie.

Maar my holkol-wintergevoel vanjaar, hou dalk ‘n stukkie waarheid in. Hierdie keer is die moontlikheid tóg daar dat daar opwindende dinge vir my voorlê. Dalk kom daardie groot geleentheid vanjaar, dalk is die die jaar waarin drome bewaarheid word en stresse minder.

Miskien vaar selfs die proverbiale skip my hawe binne, hoewel ek vermoed hy’t dalk duskant St. Helena gesink.

Maar nou ja, nou is dit skouer aan die wiel, sokkies optrek. Want nie een van daardie goed gebeur, as jy nie jou kant bring nie.

Om een of ander rede, lees mense hierdie. Ek dink dis oor hulle moeg is vir ruggraatlose slapgatte.

Ek het ‘n rukkie terug hierdie as my bydrae tot die Goeiemôre-rubriek in Volksblad aangebied. Vandag kry ek ‘n epos en ek sien toe dis die mees gelese rubriek op die Volksblad-webwerf op die oomblik.

Om een of ander rede het mense dit regs en links begin lees. Ek dink nie dit het iets met my skryfvermoë (of gebrek daaraan) te doen nie, maar eerder omdat mense almal siek en sat is vir ruggraatlose mense wat verskoning soek oor hoekom hulle nié iets kan doen nie.

Ons het ‘n samelewing van slapgatte geword, in die staatsdepartmente en groot maatskappye. Winsbejagte, geldgierige slapgatte.

Mense smag na rolmodelle en positiewe stories.

Die verhaaltjie is eintlik ‘n storie wat ek baie lank terug op LitNet geskryf het, toe ek nog daar geblog het.

Dankie vir die wat dit lees. Ek dink elkeen van ons het ‘n plig om elke dag ten minste een keer ‘n goeie rede te soek hoekom ons wel iets kan doen. Veral as daar die stemmetjie in jou opkom wat sê: “Ek is nie lus nie!” of “Ek kan nie!”

Veral ouers. Ons soek so maklik verskoning vir ons kinders, wil dalk die lewe soms vir hulle té maklik maak. Hierdie kind waaroor ek hier skryf se ma het haar, en haar sussies en boetie, van Gr.1 af in die koshuis gesit. (Hulle kon nie anders nie, en dit was nie vir haar as ma maklik nie.)

Maar vandag is al daardie kinders goedgebalanseerde, suksesvolle jongmense wat hul eie potjies krap. Kinders word nogal vreeslik opgepiep oor die algemeen, dink ek.

Kom ons leer ons kinders (en sommer onsself) om nie verskoning te soek nie, maar om net te dóén, die beste wat hulle kan, met dit wat hulle ontvang het.

 

 

 

 

“Hy’s nie daar nie.” – ‘n Les in losmaak

Die vreemdste ding het gisteraand met my gebeur.

Kyk, ek het ‘n vriendin wat baie meer spiritueel ontwikkel is as ek. Ek is 1+1=2 en sy is E=MC². Ek is two minute noodles en sy is gevulde canelloni.

Maar na gisteraand dink ek het ten minste nou een vlakkie op die evolusionêre geestesleer geklim.

Toe my ma dood is het ek  ’n Carlo Sdoya-skildery  geërf. Dis nie baie werd nie, maar is my kosbaartse besitting, sentimenteel. Omdat ons ons huis huur, het ek nog glad nie my skilderye opgehang nie, hulle staan in die sonkamer, skuins teen die muur staangemaak.

Gisteraand, halfnege, loop ek toevallig by die skilderye verby, wat met hul rugkante na buite staan. Iets sê net vir my, ‘n klokhelder stem, en ek kry so ‘n hol kol op my maag: “Die skildery is nie daar nie.”

En hy is nie. Ek en Stilman soek en soek en soek die hele huis deur, tot in die garage, (maar ek weet ek sal nie die skidlery ooit in die garage bêre nie, nooit.)

Later baklei ons soos kat en hond, want hy was verantwoordelik vir die trek hiernatoe (ek vir die inpak) en ek is kwaad en wil iemand blameer. Maar ek het ook nie gekyk of die ding hier is nie, net aangeneem. En die skildery wat net langs hom gehang het in die sitkamer is hier, almal is hier, behalwe daai een.

Ek kan glad nie meer sê of hy ooit gekom het of nie, ek het drie keer deur die ou huis geloop en gekyk dat alles af is en weg is en dat die huis leeg is. Ons bly al ses maande in die nuwe huis. As ek iets vergeet het, sou die nuwe mense vir my gese het, want ek en die vrou ken mekaar al jare.

Ek is stomgeslaan en platgeslaan.

Nou dink ek maar net aan Slakkelak en vertel myself ek moet maar net perspektief kry, dis net een skildery.

Toe ek dit vir my vriendin vertel (die een van spirituele E=MC²-faam) sê sy sy dink my ma wil vir my iets sê. Dat ek moet begin losmaak van iets, of aangaan met iets wat sy my geleer het.

Maar ek weet eintlik reeds wat my ma vir my wil sê. Sy is al amper tien jaar dood. Ek het vanjaar vir die eerste keer regtig begin aanbeweeg na dit. Nou die dag, toe ek langs die gholfbaan draf, toe kom ‘n vredegevoel oor my wat ek nie kan beskryf nie. Vir die eerste keer in baie, baie jare van hartseer en huil en verlies. En wroeg (oor ander dinge en verliese ook).

Want toe besef ek: Hier is jy dan nou nog. Jou pa en ma is dood, jy het ander groot verliese ervaar, baie groot verliese, maar hier is jy nog. Jy lewe, en wat, WAT is hierdie gevoel in jou?

Kan dit dalk…wag..’n bietjie happiness wees??

“Jy moet begin losmaak van hierdie alewige storie van verlies wat jy oor jouself vertel,” is wat my ma wil sê, ek weet dit.

En dis ‘n groot stap vir iemand wat ‘n jaar gelede nog absoluut uitmekaar sou geval het oor die skildery. Nou het ek maar vir my ma gesê sy kan dit vir my terug laat kry as sy wil, of miskien het die een wat hom nou het, dit nodiger as ek.

Of dalk het hy iewers beland waar ons hom net nie nou kry nie. Maar eintlik maak dit nie regtig meer saak nie.

“Oppas vir die roomyskarretjie!!!”, gil sy terwyl sy die stuurwiel ruk.

Ek dink gister was daar heelwat seer koppe in Bloemfontein. Die Chivas en die Moët het mos gevloei. Daar was ‘n hele paar senuweeagtige beeste en witmense het sommer vanself padgegee as hulle blou ligte sien aankom het.

Selfs padgegee vir die roomyskarretjie, verneem ek. Vir die wis en die onwis, ”want mens kan mos nou nie vandag meer weet of jy sommer agter in ‘n vangwa gegooi gaan word nie, en oe jimmel, mens wil ook nou nie die naweek daar tussen húlle gaan deurbring in ‘n sel nie, jy weet.” Ogies rol en dit gril skoon.

Dis lekker om uit die hoogte te sê ek sou nie so gewees het nie. Ék sou tog nie myself so vergryp het aan die luukshede as ek die mag (én geld) gehad het wat die Man on Top nou het nie. Dis mos net swartmense wat so sleg is.

Dink weer, sussie, sê ek noudiedag vir myself. Dink weer.

Jou voorvaders het dit immers gedoen.

Ja, die brassery was nie so ooglopend nie, dis waar. Dis in geheime kamers gedoen (Geen Vroumense Toegelaat) met snaakse seremonies, handdrukke en tassies. Ek wéét, die oorleweringe is oorgedra, ek is tog die prduk van ‘n Broederbonder-oupa aan die een kant en ‘n Vrymesselaar-oupa aan die ander kant.

Die original baantjies vir boeties. Gepatenteer. Á la Afrikaner.

Want mag is lekker, en geld is lekker. Dit laat jou goed voel. Maak nie saak of jou van Van der Merwe of Mokoena is nie. Vra maar vir mense wat met ryk Afrikaners te doen kry. Hulle is net so ‘n groot PIA (Pyn in Agterwêreld) as rykgatte in die ANC. Met hulle Prado’s en huise “aan die kus”.

En hulle fietse op rakke agter op die 4×4. ‘Want ons gaan oefen as ons by die see kom.” En hulle boobjobs en bote. Hulle drink net nie meer Klippies nie, maar konjak. Met hulle vriende by Blues.

Die hele lot is PIA.

Ag maar ek ou dit gelaaik het as dit ek was. Ek sou nou met my splinternuwe boobs op die strand by La Lucia gelê en tên het. In plaas van om te werk, mos.

Die slagting op die paaie

Die slagting op die paaie is besig om my regtig onder te kry. Gister het hier weer 19 mense doodgebrand in ‘n ongeluk naby Frankfort, en vanoggend moet ek ‘n storietjie skryf oor ‘n jong man wat vandag, op die heilige blerrie vakansiedag – wat vir boere nie bestaan nie  (en ek verstaan dit want my pa was self ‘n boer en dis nou planttyd hier in die Vrystaat) ‘n trekker moes gaan regmaak vir sy baas, die bakkie gerol het en nou dood is.

Toe ek jonger was, het die slagting my nie gepla nie. Seker oor ek nie toe kinders of kraaie gehad het nie.

Nou die oggend roep die polisie my uit na ‘n ongelukstoneel hier naby. Sonder dat ek dit verwag het, klim ek oor die rail langs die pad, reg by ‘n vrou wat dood onder die motor vasgepen lê.

Doodsbleek dood, seker in haar 30′s. “Dis mense van Lesotho,” deel die polisieman my mee, asof dit nou seker dan nie so erg is nie.

Ek wonder of sy kinders het, en of haar ma-hulle vir haar wag miskien in Johannesburg waar hulle vir Kersfees sou gaan kuier het. Of so iets. Die hoofweë hier en kranksinnige bestuurders moet eenvoudig net een te veel wees vir mense wat net die kronkelpaadjies in Lesotho ry, want ek het nou al oor menige ongelukke geskryf waarin mense van die bergkoninkryk betrokke was.

As jy die oggend die vrou onder die motor gesien het, dan waardeer jy net soveel meer die lug as hy so lyk daardie aand: