Bykans elf jaar na haar dood, is daar iets rondom die krisistyd direk na my ma se dood wat ek tot vandag toe nog onthou. Ek onthou dit met ‘n skaam-onthou. Asof deel daarvan my skuld was.
Dit is hoe leeg haar yskas was toe ek die volgende dag in haar meenthuis vir my wou rooibos maak en melk gesoek het.
Daar is iets baie skokkend daaraan om in ‘n huis in te stap waar die belangrikste mens in jou lewe pas dood is en in ‘n staatsvoertuig weggevat is staatslykshuis toe. Dit verander jou vir altyd.
Dis hoekom dit vandag nog ‘n uiterste renons in my skep om as deel van my werk dieselfde dag, of selfs soms enkele ure, na iemand se traumatiese dood hul familie te bel en te vra: “Hoe voel jy?” Ek weet hoe hulle voel, ek hoef hulle nie te vra nie.
Ek onthou goed die gevoel toe ek die voordeur oopgesluit het (ek kan nie onthou wie die sleutels vir my gehou het nie, ons het deur die nag van Durban af gery nadat ek die nuus ontvang het).
Ek onthou hoe, toe ek die deur oopgelsuit het, my ma se handsak nog op die antieke Singer wat haar portaaltafeltjie was, gestaan het. Net neergesit, soos sy elke dag gedoen het.
Op die boonste verdieping, waar sy op haar bed dood is, het haar japon op die gestoffeerde linnekis gelê, en die blou handskoene van die forensiese ondersoeker het voor die bed op die vloer gelê.
Ek onthou hoe ek gewonder het of hulle nie reken dit sal die familie ontstel as hulle dit net so los nie. ‘n Ongekende woede. En hoekom het hulle nie haar japon net aangetrek nie?
Iemand het my na die tyd vertel hoe een van die bure gevra het of my ma toe nie maar ‘n einde aan als gemaak het nie, asof sy depressief was. Ek is tot vandag toe nog kwaad vir daardie vrou, al weet sy nie ek weet sy’t dit gesê nie.
Dit was gelukkig ‘net’ ‘n koronêre trombose. Natuurlike oorsaak.
Maar die gevolge van so ‘n skielike dood, so sonder ‘n koebaai, is allebehalwe natuurlik.
Die tekens van haar hartsiekte, wat in retrospek so duidelik uitgestaan het soos ‘n paal bo water, maar wat as enkele geïsoleerde insidente ongesiens verbygegaan het, kom lê in die nag soos swaar klippe op jou gewete. Jy stoei met hulle.
“As ons maar net”….is ‘n gesprek wat ek en haar enigste oorlewende broer baie gehad het.
Maar wat ek tot vandag onthou met ‘n seerste seer, is my ma se yskas. Sy was ‘n onderwyseres, vir 37 jaar lank. Sy was vier dae afgetree toe sy dood is. Ons het planne gehad dat sy in ‘n tuinwoonstel by ons sou kom bly. Ons sou na haar kyk en sy sou na ons kyk.
Maar tot op daardie oomblik, tot ek daardie yskas oopgemaak het, het ek nie die vaagste benul gehad van effek van die opofferinge wat my ma gemaak het vir my nie. In haar yskas was die noodsaaklike, maar nie ‘n enkele luukse item nie. Net die absolute noodsaaklikste.
Sy het, twee dae vantevore, toe ons uitgery het by haar oprit, vir my R200 in die hand gestop “vir roomysgeld” vir ons naweek in Durban. Want dit was hoe sy was.
En daarom, vandag op Moedersdag, tien en ‘n half jaar nadat sy dood is, bring ek aan haar hulde vir dit waarsonder sy gegaan het om my te laat netbal speel, atletiek te laat hardloop, my finalejaar te betaal op universiteit om in te staan vir wat eintlik iemand anders se verpligting was, en om my eerste blyplekkie op die been te kry. En dís net die groot goed.
Ek sal dit nooit vergeet nie, en ek hoop dat my kinders eendag met dieselfde herinnering en respek aan my sal dink, as wat ek aan haar dink.
Ek hoop dat ek vir hulle dieselfde sal kan doen.
