Ek hoef hulle nie te vra nie, ek weet hoe hulle voel: My ma se yskas

Bykans elf jaar na haar dood, is daar iets rondom die krisistyd direk na my ma se dood wat ek tot vandag toe nog onthou. Ek onthou dit met ‘n skaam-onthou. Asof deel daarvan my skuld was.

Dit is hoe leeg haar yskas was toe ek die volgende dag in haar meenthuis vir my wou rooibos maak en melk gesoek het.

Daar is iets baie skokkend daaraan om in ‘n huis in te stap waar die belangrikste mens in jou lewe pas dood is en in ‘n staatsvoertuig weggevat is staatslykshuis toe. Dit verander jou vir altyd.

Dis hoekom dit vandag nog ‘n uiterste renons in my skep om as deel van my werk dieselfde dag, of selfs soms enkele ure,  na iemand se traumatiese dood hul familie te bel en te vra: “Hoe voel jy?” Ek weet hoe hulle voel, ek hoef hulle nie te vra nie.

Ek onthou goed die gevoel toe ek die voordeur oopgesluit het (ek kan nie onthou wie die sleutels vir my gehou het nie, ons het deur die nag van Durban af gery nadat ek die nuus ontvang het).

Ek onthou hoe, toe ek die deur oopgelsuit het, my ma se handsak nog op die antieke Singer wat haar portaaltafeltjie was, gestaan het. Net neergesit, soos sy elke dag gedoen het.

Op die boonste verdieping, waar sy op haar bed dood is, het haar japon op die gestoffeerde linnekis gelê, en die blou handskoene van die forensiese ondersoeker het voor die bed op die vloer gelê.

Ek onthou hoe ek gewonder het of hulle nie reken dit sal die familie ontstel as hulle dit net so los nie. ‘n Ongekende woede. En hoekom het hulle nie haar japon net aangetrek nie?

Iemand het my na die tyd vertel hoe een van die bure gevra het of my ma toe nie maar ‘n einde aan als gemaak het nie, asof sy depressief was. Ek is tot vandag toe nog kwaad vir daardie vrou, al weet sy nie ek weet sy’t dit gesê nie.

Dit was gelukkig ‘net’ ‘n koronêre trombose. Natuurlike oorsaak.

Maar die gevolge van so ‘n skielike dood, so sonder ‘n koebaai, is allebehalwe natuurlik.

Die tekens van haar hartsiekte, wat in retrospek so duidelik uitgestaan het soos ‘n paal bo water, maar wat as enkele geïsoleerde insidente ongesiens verbygegaan het, kom lê in die nag soos swaar klippe op jou gewete. Jy stoei met hulle.

“As ons maar net”….is ‘n gesprek wat ek en haar enigste oorlewende broer baie gehad het.

Maar wat ek tot vandag onthou met ‘n seerste seer, is my ma se yskas. Sy was ‘n onderwyseres, vir 37 jaar lank. Sy was vier dae afgetree toe sy dood is. Ons het planne gehad dat sy in ‘n tuinwoonstel by ons sou kom bly. Ons sou na haar kyk en sy sou na ons kyk.

Maar tot op daardie oomblik, tot ek daardie yskas oopgemaak het, het ek nie die vaagste benul gehad van effek van die opofferinge wat my ma gemaak het vir my nie.  In haar yskas was die noodsaaklike, maar nie ‘n enkele luukse item nie. Net die absolute noodsaaklikste.

Sy het, twee dae vantevore, toe ons uitgery het by haar oprit, vir my R200 in die hand gestop “vir roomysgeld” vir ons naweek in Durban. Want dit was hoe sy was.

En daarom, vandag op Moedersdag, tien en ‘n half jaar nadat sy dood is, bring ek aan haar hulde vir dit waarsonder sy gegaan het om my te laat netbal speel, atletiek te laat hardloop, my finalejaar te betaal op universiteit om in te staan vir wat eintlik iemand anders se verpligting was, en om my eerste blyplekkie op die been te kry. En dís net die groot goed.

Ek sal dit nooit vergeet nie, en ek hoop dat my kinders eendag met dieselfde herinnering en respek aan my sal dink, as wat ek aan haar dink.

Ek hoop dat ek vir hulle dieselfde sal kan doen.

‘n Panado-stropie maak mos alles reg? Hoe absurd.

Ek is 40. Of eintlik 41, maar wie tel nou?

Om een aand, terwyl jy na The Good Wife kyk, ‘n onverklaarbare pyn op jou bors te kry, soveel só dat jy voel jy gaan letterlik dood, val nie in jou raamwerk as jy 41 is nie.

Om dan te oorweeg of jy jouself hospitaal toe gaan ry of nie, want daar is nie iemand anders om dit te doen nie, grens aan die patetiese.

Om dan jouself met jou sesjarige tweeling se Panado-stroop te dokter om hulle nie wakker te maak en te ontstel nie, grens seker aan die absurde.

Sien, ek val vir ‘n redelike tydjie al in die spesie wat al hoe meer onder wit, Afrikaanse vroue in Suid-Afrika voorkom. Voltydswerkia Manweggia. Vrouens wie se mans lang tye weg werk van die huis af.

As jy ‘n joernalis in ‘n dagblad se buitekantoor is, val jy in die subspesie Alle-urewerkia Manweggia. No cellphone off, ooit.

As jy geen grootouers of sibbe tot jou beskikking het vir hulp nie, val jy in die subspesie…wel…wat kan ek sê? Steekjoukopinnieoondia?

Eersgenoemde spesie bestaan natuurlik onder alle ander bevolkingsgroepe ook, dekades al veral onder vroue wat in tuislande vir hul mans wag wat op myne in die stede gaan werk.

Hul sosiale strukture werk egter heeltemal anders, waar die konsep it takes a village to raise a child prakties uitgevoer word. Bietjie meer in teenstelling as ons Westerse vroue, waar elkeen min of meer aan sy eie lot en kinders oorgelaat word. Ek dalk meer as ander, weens my omstandighede.

Maar miskien ís dit net ek. Ek vra nie maklik hulp nie, bloot omdat dit in my aard is. Soms dwing mense hulp op my af, en ek is inniglik dankbaar daaroor.

Toe ek, drie dae ná die pyn-in-die-bors-insident, uiteindelik ingelig is dat ek ‘n angina gehad het op die rype ouderdom van 41, en dat ek hospitaal toe moes gaan vir toetse, was ek verstom deur hoeveel mense hulp aangebied het, en watter vorme die hulpaanbiedinge aangeneem het.

Van geldelike hulp, tot om na die kinders te kyk, tot die inpak van toebroodjies vir die kinders skool toe.

Om terug te keer na die spesie waarna ek vroeër verwys het, die Afrikaanse vrou met ‘n man wat wegwerk. Hoe meer ek bedag is hierop, hoe meer van hulle loop ek raak. En daar is talle, selfs in die klein dorpie waar ek woon.

Nou die dag sit ek in die hof, en ek lyk seker soos ‘n uitgewaste waslap, want een vrou storm my.

Ek het vroeër die oggend ‘n lekker tjanksessie deurgewerk, want my man het vir die derde (nie-agtereenvolgende) aand in vyf weke tuis geslaap, hoofsaaklik om iewers net kookkos in sy lyf te kry en wasgoed te laat was.

Toe hy die oggend ry, het een van die tweeling hom om die been vasgehou en gevra hoeveel slapies hy dié keer gaan weggaan.

Dit het my damwal sommer gebreek.

Toe ek myself uitendelik onder beheer het (een van die rolle van die spesie Manweggia, is dat jy altyd pose hou voor die kinders, veral as hulle nog klein is.) en ek by die hof kom, het een van die vroue wat by die hof werk, gesien iets is nie lekker nie.

Toe ek en sy gesels, het sy my vertel dat haar man al vir agt jaar so weg werk. Hy rig selfoonmaste vir ‘n Chinese maatskapy op, nadat hy deur Telkom ge-affirmative is.

“Dis ‘n kopskuif,” sê sy. “Jy gaan hom moet maak, anders gaan jy mal word. Jy gaan breek. En as jy nie lag nie, en die humor in dit raaksien nie, sal jou gesin dit nie maak nie. Ek sê altyd vir mense die enigste rede hoekom ek en my man nog getroud is, is OMDAT hy so baie weg is,” lag sy lekker.

Daaroor kan ek getuig, want as jou inkomste grotendeels afhanklik is van die feit dat jou man kontrakwerk kry, beteken die tye wat hy tuis is, letterlilk geen inkomste nie. En dit lei weer tot sy eie soorte konflik. Die enigste werk wat dan gedoen word, is op mekaar se senuwees.

Dis ‘n groot catch 22.

Wat ek egter nou die dag oor wonder, is hoe dit ‘n groot gros kinders beïnvloed, om so ongereeld ‘n pa te hê. Wat gaan die uiteinde daarvan wees? Is dit maar dieselfde as kinders wat uit ‘n ”geskeide” huis te kom? Of is dit anders?

Al wat ek weet, is dat my agting vir enkelma’s deur die dak gestyg het. You girls rock.

En julle girls wat twee stelle ouma’s tot julle beskikking het, voltydse huiswerkers het, ”werkloos” tuis sit en in koffiewinkels uithang. Tel julle blerrie seëninge.

As mense dink jy dink soos hulle: Braaivleisvuur-pilepsie.

“Ons mense” is mos snaaks.

Om een of ander rede dink mense as hulle om ‘n braavleisvuur staan, maak daardie vuur dat almal om hom dieselfde dink. Iets soos vuur-pilepsie. Braaivleisvuur-pilepsie.

En menige keer bevind ek myself dan in die eienaardige posisie dat ek ten hemele wil skree oor beledegende en oningeligte goed wat kwytgeraak word, die kwyteraar sekerlik menende hy kan dit sê, want almal hier dink “mos soos ons.”

Dit gebeur nie net om braaivleisvure nie. Dit gebeur in koekbakvergaderings en sportdagkosstalletjiebesprekings ook.

Dan kom die ”ons” en ‘hulle” baie gou na vore. Die ”hulle” kan enigiets onder die son wees: Ander rasse, ketters, dommes, armes, tuisonderig-ers, noem dit. Die groep wat beledig of ”ontleed” word, is eintlik irrelevant.

Die punt wat ek wil maak, en wat my dwars in die krop steek, is dan die aanname dat almal in die geselskap dieselfde standpunt inneem oor die ”hulle”. En dit by blote assosiasie met die ”ons” wat in die groepie om die vuur staan of die kosstalletjie beman, weens geografiese ligging en oorheersende gemeenskapllike voorvader-DNA.

Ek is ‘n groot voorstander daavoor dat elkeen sy eie opinie mag hê. Die grootste rede hiervoor is natuurlik om die selfsugtige rede dat dit eintik mos beteken dat ek ook my eie opinie mag hê. Freedom of speech and all that.

Maar dikwels bevind ek my in die posisie dat ek my eie opinie onderdruk. Die rede hiervoor is omdat ek meeste van die kere ervaar dat ek die enigste een in ‘n geselskap is wat ‘n sekere opinie of siening handhaaf.

Dit maak my nie beter of slegter as die ander opiniedraers nie, maar ek bly dikwels stil, omdat ek nie myself of my kinders wil brandmerk as ”anders” nie. Hul hele skoolloopbaan lê nog voor, en ons dorpie is klein.

Wat my egter dwars in die krop steek, is die absolute ”dogged determination” van “ons mense” om net eenvoudig te aanvaar dat almal in ‘n geselskap dieselfde voel oor ‘n ding, bloot eenvoudig omdat ons almal dieselfde lyk en praat en daar IS.

Ek lees in gister se BY twee artikels wat my nogal geraak het. Die eerste is van Suna Verhoef, wat as eks-vrou van ‘n dominee vertsoot en verwerp is, en gebrandmerk is as ‘n vrou wat “haar man en kinders verlaat het”.

Reg langsaan praat Chris Chameleon oor sy eerste gewaarwording as kind dat ons nie die beste nasie op aarde is nie, en dat daar ander wêreldkampioene was as Jan Wilkens.

Eenspaaierig, noem hy dit.

“Ek is my hele lewe lank al eenspaaierig, en ek het nog altyd ’n verborge weersin aan die kudde gehandhaaf. Ek verstaan nie kollektiewe verantwoordelikheid nie.” – Chris Chameleon.

En ek vermoed ook kollektiewe verantwoordelikheid op die ou ende die doodskoot van my siel gaan wees.

WOOV’s. Soos net ons SA-vroue kan.

In hierdie afgelope maand, het ek, soos bykans elke ander maand, geskryf oor kinders wat verkrag is, en oumense wat wreed vermoor is.

Hier by ons staan ‘n pastoor op die oomblik in die beskuldigdebank vir verkagting van minderjarige meisies. (Hy ontken dit).

Die land het die afgelope maand gegil en geskree, en die eggos het weerklink tot in die buiteland, toe ‘n meisie van Bredasdorp só wreed aangerand en verkrag is, dat haar binnegoed buite gehang het.  Mense was siedend. Hulle het optogte gereël en betoog buite howe.

Selfs in Kroonstad, waar ek bly, het mense met plakkate buite die landdroshof betoog. ‘n handjievol, maar hulle was daar. One Billion Rising, noem hulle dit. Wêreldwye teenstand teen die geweld teen vroue en kinders.

“Want ons is nou moeg daarvoor dat ons vroue so verkrag word. Hang hulle!!! Maak hulle dood, die honde wat vroue so behandel.”

Wanneer ek ‘n plaasmoord of -aanval doen, hoor ek baie dinge wat nooit geskryf word nie. Mense se haat vir dié aanvallers loop diep, en daar word goed buite howe en op moordtonele gesê wat dalk nie vir publikasie geskik is nie.

“Ons vroue en oumense word soos honde geskiet en geslag,” skree die samelewing.

En toe gebeur Oscar Pistorius.

En skielik maak die Ware Onderdrukte en Oningeligte Vrou (WOOV) haar verskyning op die sosiale en nuuswebwerwe van Suid-Afrika. Sy park haar stofsuier in die hoek en kom sit voor die rekenaar, en diep haar regskennis, wat skuins onder haar geloofsoortuiging gestoor word, op.

Sy is die vrou wat haar plek in die kombuis en samelewing ken. En haar plek is vierkantig agter Oscar Pistorius. Sy is die een wat bo enige redelike twyfel glo dat dié man nooit sy meisie sou geskiet het nie.

Die een wie se eerste reaksie op sy vrylating op borgtog is om die Allerhoogste se naam aan te roep uit dankbaarheid, want sy het gebid daarvoor.

Die een wat sê sy het gebid dat hy vrygelaat word, want hy gaan darem nou vanaand in ‘n warm bed slaap en ‘n lekker bord kos kan eet. Soos dit hom toekom in ons patriargale samelewing, as jong viriele en onaantasbare man.

Die een wat sê dit is onmoontlik dat iemand soos hy só ‘n daad kon gepleeg het. Om ‘n ”onskuldige weerlose meisie in ‘n klein vertrekkie met vier skote uit te wis”, soos die staat aangevoer het.

Nie onse Oscar nie, want hy is OSCAR. Hy kan vinnig hardloop op blades en 80 000 mense cheer vir hom in ‘n Olimpiese Stadion.

Ons held, ons hero, ons onaantasbare, sexy, hero.

Want hierdie is SA en hierdie is ons WOOV’s, vir wie min in die lewe sin maak as só iets gebeur.

En soos een WOOV dit nou mooi gestel het: “Wat soek ‘n ongetroude meisie in elk geval oornag by Oscar?”

Soos menige Twitter-dier dit al gestel het, wil ek oor dié stelling sê:  SMH*

Ek is jammer Reeva, vir die WOOV’s. Ek dink nie jy was een nie.

*Shaking My Head.

As navoegsels by my bloginskrywing, voeg ek ook sommer ZanuPF se Tweet oor die debakel by, as voorbleed van hoe ver algemene Woov’ness kan gaan. And with that I rest my case:

zanu

 

 

Afrikaanse WordPress-voorblad werk nie meer nie, en ek is kwatttttttttt!

Ek is baie vies dat ek nie meer op die http://af.wordpress.com/#!/read/fresh/ , die Freshly Pressed-blad, die Afrikaanse blogs kan sien nie. Baie kwaad. WordPress het my kwaad gemaak. Ek gaan nou in die hoek sit en sulk.

En  nerens is daar meer ‘n plek waar jy kan gaan kla nie, jy kan net mompel op die forums en daar raak jou klagte verlore.